Steenhuisen bepleit einde van ramptoestand

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie (Foto: John Steenhuisen/Facebook)

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, doen ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa se regering om toe te laat dat die ramptoestand op 15 Januarie 2022 verval. Dit is die dag waarop die ramptoestand hernu moet word indien dit in plek sou bly.

“Die ramptoestand is nie meer nodig om die virus te bestuur nie. Trouens, dit doen meer skade as goed en ondermyn ons maatskaplike, ekonomiese en demokratiese herstel,” verduidelik hy.

“Suid-Afrika het sekerheid nodig. Beleggers het dit nodig, toeriste het dit nodig, onderwysers het dit nodig, skoliere het dit nodig. Skoliere moet voltyds terugkeer skool toe, nie net ʼn paar dae per week nie.”

Steenhuisen sê mense moet kan weet of hulle in klein of groot ondernemings kan belê sonder dat die reëls van die spel onverwags sal verander. “Sonder beleggings is daar nie werkskepping nie en geen volhoubare armoede-verligting nie.”

Volgens hom is die nasionale koronavirus-beheerraad ondemokraties. “Daar is ʼn groot risiko dat ons demokrasie aan ʼn klein groepie individue oorgelaat word wat besluite namens ons neem sonder enige parlementêre oorsig of ander demokratiese toetse.”

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Hy meen die ramptoestand is in hierdie stadium niks meer as ʼn skerm vir toenemende gesentraliseerde beheer en om aanspreeklikheid te ontduik nie. “Dit moet weggaan. Daar is geen regverdiging meer nie. Die doel van die ramptoestand en beperkings wat daarmee gepaard gaan, was om druk op die gesondheidsorgstelsel te verlig. Hospitalisasiesyfers weens Covid is nou landswyd laag en die immuniteitskoers (weens inentings of vorige infeksie) is hoog. Die Omikron-variant is nie so erg nie en uitermatige sterftes het sedert September genormaliseer. Die gesondheidsorgstelsel het voldoende tyd gehad om voorbereidings te tref indien ʼn nuwe variant immuniteit kan omseil.”

Hy sê die ramptoestand kan dus nie meer geregverdig word nie. “Dit kan ook nie geregverdig word met die argument dat dit in plek gehou moet word vir moontlike toekomstige variante of golwe nie. Dit is soos om te sê die ramptoestand moet in plek bly vir moontlike toekomstige aardbewings. Dit ondermyn die hele doel van ʼn ramptoestand, wat per definisie tydelik moet wees, net soos wat individue nie deurgaans in die adrenalien-gejaagde veg-of-vlug-modus kan leef nie.”

Suid-Afrika is al 667 dae lank in ʼn ramptoestand.

“Die regering maak al vir te lank staat op die ramptoestand, in plaas daarvan om sy werk te doen, en dit is om die gesondheidsorgstelsel te verbeter en so veel as moontlik entstowwe en versterkingsdosisse uit te reik aan mense in die hoërisiko-groep.”

Die DA teken appèl aan ná die hooggeregshof ʼn versoek, dat die Wet op Rampbestuur as grondwetlik verklaar moet word, van die hand gewys het. “Selfs die wette in ʼn noodtoestand, wat vir erger situasies bedoel is, bied demokratiese oorsig. Dit kan dus onmoontlik nie meer grondwetlik wees vir ʼn regering om die Wet op Rampbestuur te gebruik om onbepaald demokratiese instansies te omseil nie, soos wat die huidige Ramaphosa-administrasie doen.”

Steenhuisen sê die pandemie het nou endemies in Suid-Afrika geword. “Ons moet terugkeer na ons normale lewens en aanvaar dat die virus gaan bly sirkuleer, soos wat virusse doen. Kinders moet terugkeer na hul normale kinderdae. Ons moet almal terugkeer om normaal asem te haal.”

Hy sê reëls soos gesigmaskers buite, ontsmetting van hande, temperatuur-toetse en kontak-opsporing, toetse en isolasie van asimptomatiese kontakte het nie eintlik voordele nie en dit het ʼn groot maatskaplike koste. “Die reëls het klaarblyklik irrasioneel geword en dit is hoekom selfs wetsgehoorsame mense hulle nie eintlik meer daaraan steur nie. Dit ondermyn die wet en verhoed wetstoepassers om regte misdade te voorkom wat ʼn werklike impak het op openbare veiligheid.”

Hy sê die reëls moet geskrap word en slegs rasionele protokol moet behoue bly. “Dit moet geregverdig word deur ʼn koste-doeltreffende analise, soos om maskers slegs te dra in plekke waar die risiko van oordrag hoog is.

“Met só hoë vlak van natuurlike immuniteit danksy vorige infeksie, het Suid-Afrika die geleentheid om die wêreld te wys hoe om terug te keer na ʼn normale lewe. Op só manier kan ons ons ekonomie en demokrasie herbou. Kom ons gryp die kans aan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Adriana ·

Ou tannie kopdoek maak die besluite, sy voel ñ veer vir enigeiemand, sy word beskerm, haar geld sakke is vol, is nie gepla oor die man in die straat nie.

SomeOne ·

ramafobia kruip mos agter kopdoek weg, kan niks vir homself besluit nie, te slap in die knieë

Lourens CFG ·

Dié keer stem ek saam, die noodtoestand moes al lankal opgehef gewees het.
Maar ek twyfel of die anc dit maklik óf gou sal doen, hul verlustig hulself in die “mag” van die noodtoestand.

Anel ·

Ek dink miljoene stem hier saam. Daar is niks wat ‘n tampyoestand meer regverdig nie. Die enigste ramp wat nou gaan gebeur is dat as ons aangaan mense gaan doodgaan van hongersnood. Daar alreeds meer mense dood agv motorongelukke en ander. Hierdie virus is nou nog net ‘n verkoue op steroïde. Sodra die ramptoestand opgef is weet ek verseker dat mense nie meer so paranoïes gaan wees oor toets nie, want daar gaan meer en ander dinge wees wst belangriker is. Nou het mense niks anders om te doen nie. Los ons om die stukke van ons lewens op te tel en weer te begin bou. Genoeg is genoeg.

Marius ·

Behalwe vir die eksperimentele inentings is dit goeie voorstelle/argumente. Of die regering die vermoeë het om dit in te sien is ‘n ander storie.

Casper ·

Steenhuisen nader die Konstitusionele hof om na jou gesanik te luister.Die omikronvirus is dalk nie so erg nie maar wat van die ander twee wat miljoene mense doodgemaak het.

Samuel ·

Ek hoop en bid die ANC gaan die regte ding doen deur die ramptoestand te laat vaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.