Steenhuisen, Meyer voor in DA-leierswedlope

John Steenhuisen (links) (Foto: ANA) / Dr Ivan Meyer (regs) (Foto: DA via Wikimedia Commons)

Die DA se parlementêre leier, John Steenhuisen, sal na verwagting Sondag deur die party se federale raad tot instaanleier verkies word en die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, tot tydelike federale voorsitter.

Die sowat 150 lede van die DA se federale raad sal in Johannesburg vergader om die twee posisies te vul wat met die onlangse bedankings van Mmusi Maimane as partyleier en Athol Trollip as federale voorsitter vakant geraak het.

Wie ook al Sondag verkies word, sal net tot April in hul poste dien, wanneer ʼn leierskorps deur die afgevaardigdes na die DA se federale kongres ʼn leierskap vir ʼn volle volgende termyn sal verkies.

Steenhuisen en Meyer het albei met sterk mededingers te doen in Sondag se verkiesing.

Steenhuisen word teengestaan deur die Gautengse LPW Makashule Gana, wat ook ʼn voormalige DA-jeugleier is. Gana is besig om vir hom ʼn arsenaal ondersteuners op te bou wat in die toekoms vir hom van groot waarde kan wees.

Die derde kandidaat, die Wes-Kaapse DA-leier Bonginkosi Madikizela, het hom vroeër vandeesweek aan die wedloop onttrek.

Meyer is ʼn selfs taaier stryd te wagte as hy Trollip wil vervang as federale voorsitter. Hy het twee mededingers, naamlik die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid en leier van die DA-vrouenetwerk, dr. Nomafrench Mbombo, en die Gautengse DA-LPW, Khume Ramulifho, wat ook DA-woordvoerder van onderwys in Gauteng is.

Die uitslae van albei verkiesings word teen eenuur Sondagmiddag verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

Darem baie wit vir ‘n party wat VIR regstellende aksie en BEE gestem het.
Selfs die 99% wit VF-Plus het gebuig voor regstellende aksie en BEE toe hulle vir Peter Marais darem ‘n parlementslid gemaak het.
Komaan DA, is daar REGTIG GEEN swart of bruin DA lede wat dié 2 partyposte kan vul nie?

Jannie van Niekerk ·

Dr Meyer is verreweg die beter kandidaat vir die pos, nie omat hy bruin is nie, maar omdat hy homself al deur en deur as leier bewys het. Die DA moet wakker skrik en mense soos Dr Meyer beter benut anders gaan hulle nog meer steun verloor

andre ·

Daar is geen bewyse dat kiesers vir die VELKLEUR van ‘n leier stem nie.

So kom ons kies die mees bekwame LEIERS … ongeag hulle velkleur!

Is die beste kat swart, wit of bruin? Of die een wat die beste muise vang?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.