Steenhuisen moet DA-steun laat groei as hy leier wil bly, sê Tony Leon

Tony Leon (Foto: Tony Leon/Facebook)

Soos alle leiers van politieke partye sal John Steenhuisen die DA moet laat groei as hy partyleier wil bly, sê die voormalige DA-leier (en peetpa van Steenhuisen se jongste telg), Tony Leon.

Leon het Woensdag die Kaapse Persklub toegespreek by Kelvin Grove in Nuweland, Kaapstad, oor sy nuwe boek Future Tense: Reflections on my troubled land.

Uit die gehoor is hy gevra wat sy mening is oor die huidige toestand van die DA, en die rol van die voorsitter van die party se federale dagbestuur, Helen Zille.

Leon het gesê hy wens die DA alle steun en sterkte toe, want enige demokrasie kort die sterkste moontlike opposisie om te kan funksioneer.

“Terselfdertyd is dit so dat die DA foute gemaak het. Toe ek leier van die party was, het ek geweet ek moet die party deurgaans laat groei – as die DA terugsak, sou ek bedank. Dieselfde geld John Steenhuisen, vir wie ek net die beste wense het.

“Wat Helen Zille betref het ek ‘n paar dinge oor haar en haar leierskap in my boek te sê. Ek respekteer haar. As ‘n voormalige leier sou ek nie maklik in ‘n ander rol na die party terugkeer nie. Maar sy is verkies deur die meerderheid van haar party se afgevaardigdes, so sy het haarself nie afgedwing nie,” het Leon geantwoord.

Hy het voortgegaan deur te sê die stadsraad van Kaapstad vaar baie goed vergeleke met die res van die land. Twee dinge wat die DA-beheerde Kaapstad reg doen, is dat geld nie gesteel word nie en dat paaie behoorlik in stand gehou word.

Uit die gehoor is onder goedige gelag opgemerk dat Leon en Zille se leierskap van die DA vergelyk kan word met die Bybelboek Genesis, en Mmusi Maimane s’n met die boek Exodus. Aan die hand daarvan is aan Leon gevra wat sy raad aan Steenhuisen sal wees.

“Hy moet beslis nie die Klaagliedere van Jeremia wees nie,” het Leon in die Ou Testament gebly. “Die belangrikste is hy moet sy kiesers nie as ‘n noodwendige gegewe aanvaar of meen hy klop aan die deur van die Uniegebou en van sy beginsels vergeet nie.

“Hy moet ook nie rondval soos onlangs met sy stellings oor samewerking met die Ramaphosa-vleuel in geval van ANC-tweespalt nie. My grootste wens vir die DA en die party se leierskap is dat hulle in hulself moet glo en met selfvertroue vooruit moet gaan.” het Leon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize ·

Sjoe dis darem maar ‘n baie lelike manier om na iemand se jongste kind te verwys, ek sal die berig skrywer aanraai om dit regtestel. Was dit na my kind wat verwys word het ek jou wraggies aangekla vir naamskending.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.