Steenhuisen sluit geen party uit samewerkende regering nie

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die leier van die DA, John Steenhuisen, het Maandag in ‘n onderhoud met Maroela Media sy party se opsies oopgehou om met enige party – ook die VF Plus, ANC of EFF – saam te werk in munisipale regerings indien dit in die kiesers se belang is.

Hy het bygevoeg dat die EFF se rassistiese uitsprake, ontwrigtende gedrag en aanvalle op die DA dit vir die DA moeilik sal maak om met die EFF saam te werk.

Daar is tans kragtens ‘n besluit van die DA se federale dagbestuur ‘n beletsel op samewerking met die ANC, maar Steenhuisen het gesê dit kan deur ‘n besluit van die federale dagbestuur weer omgekeer word.

Steenhuisen het ook gesê teen volgende jaar se munisipale verkiesing sal die DA ‘n behoorlik uitgewerkte koalisie-bloudruk hê wat in besonderhede sal uiteensit waartoe die party bereid is en waartoe die party nie bereid is nie. Waar ʼn ooreenkoms met ‘n ander party bereik word, sal dit skriftelik geskied, en in die openbaar gepubliseer word.

“Ons kan nie so van raadsvergadering tot raadsvergadering oorleef met informele ooreenkomste nie. Ons sal ook nie toelaat dat partye se aandrange op tenders ons van koers dwing nie,” aldus Steenhuisen.

Wat die huidige situasie in Tshwane betref, waar die DA se Randall Williams Vrydag as burgemeester met ‘n minderheidsregering van koalisievennote soos die VF Plus en ACDP verkies is, het Steenhuisen gesê die DA is oop vir gesprekke met die ANC en EFF in belang van inwoners, ook al is dit nie vir formele koalisies nie.

Steenhuisen het uitgewys dat ANC-raadslede in Tshwane geweier het om ‘n ANC-opdrag uit te voer om vir EFF-kandidate te stem, en het gesê dat hy hul besware kan verstaan gegewe die EFF se gedrag in die metroraad.

“Ons wil geen moontlikheid voor die tyd uitsluit nie. Die belangrike is om werkbare regerings daar te stel wat stabiliteit en goeie regering vir inwoners sal verseker,” het Steenhuisen gesê.

“Ons het egter sedert 2016 baie geleer oor suksesvolle koalisieregerings, en ons sal nie onsself blootstel aan die tipe ontwrigtende gedrag wat ons in byvoorbeeld die Tshwane-metroraad moes verduur nie.”

Die DA-leier het gesê die beste waarborg vir skoon, effektiewe en stabiele regering is vir kiesers om in hul stadsrade ‘n volstrekte meerderheid aan die DA te besorg, maar dat die DA in die beste belange van die inwoners sal onderhandel in stadsrade waar geen party ‘n volstrekte meerderheid behaal nie.

“Ons wil regeer, maar nie ten alle koste nie. Ons sal voor die verkiesing die rooi lyne wat ons weier om oor te steek, uiteensit. Ons gaan egter voluit vir die eerste plek, naamlik ‘n volstrekte DA-meerderheid. As ons dit nie behaal nie, sal ons onderhandel,” het Steenhuisen gesê.

Hy het bygevoeg dat die DA nie met enige party in ‘n formele samewerkingsooreenkoms sal gaan voor die verkiesing nie, want soos 2004 se koalisie vir verandering tussen die DA en IVP getoon het, kan dit alle vennote stemme kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Ons hoop nie Soros se samewerking word ook weer gevra soos tydens die voorafgaande Progressiewe Party se bestaan nie. Steenhuisen se huismoleste is ‘n erge klad op sy naam. ‘n Standvastige gesinsman… wil nie so blyk nie… maar skynbaar word sekere manne baie dapper na hul van hul verantwoordelikhede afgeskud het. Kyk net hoe lyk SA vandag.

Baardman ·

John Steenhuisen, dan moet jy ophouTWAK verkondig dat n stem vir ander party ‘n verlore stem is. Moedig eerder almal aan om te stem, anders gaan daar niemand wees om mee saam te werk behalwe die ANC en EFF nie. Dink bietjie

JohanR ·

Lyk my julle het darem tot die besef gekom dat die kies van Mmusi Maimane as leier was ‘n GROOT fout. Dit het julle rerig terugesit. Maar die algehele leierskap lyk nou sterk, soe ons hoop vir 2021 en 2024. Kan nie wag vir die dag dat #VoertsakANC hier is nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.