Steenhuisen wen eerste ronde teen KZN DA-leierskap

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen. Foto: Twitter

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het die eerste ronde van sy politieke oorlewingsgeveg teen die KwaZulu-Natalse DA oorleef toe die party se federale dagbestuur in sy guns bevind het.

Steenhuisen bevind hom tans op drie fronte in stryd met die KwaZulu-Natalse DA-leierskap – op die gebied van lidmaatskapgeld, sy akademiese kwalifikasies en sy herkiesing tot die parlement aanstaande jaar.

Betreffende die lidmaatskapgeld beweer die provinsie al lankal hy is agterstallig met sy geld, en Steenhuisen ontken dit. Dis baie duur om ’n politieke party te bedryf, so byna alle politieke partye verwag van hul openbare verteenwoordigers om ’n deel van hul salaris aan die party te skenk sodat bedryfskoste gedek kan word. Die EFF eis na wat verstaan word die grootste persentasie van sy lede se inkomste vir die party op.

In die geval van die DA is die persentasie nie so hoog nie, maar dit is steeds omvattend, en die KwaZulu-Natalse DA-leierskap beweer nou al lankal Steenhuisen betaal nie sy volle deel nie. Die kwessie duik elke nou en dan in die Engelstalige koerante op.

Vrydag het Steenhuisen en die KwaZulu-Natalse DA-leier, Zwakele Mncwango, albei hul saak voor die DA se federale bestuur gestel, wat in Steenhuisen se guns bevind het sodat hy hierdie veldslag in die oorlog gewen het.

Minstens twee veldslae wag egter nou net agter die einders van die kim.

Eerstens – en hierdie meningsverskil begin reeds in die media uitslaan – probeer die KwaZulu-Natalse partyleierskap die DA-reëls verander sodat dit ’n vereiste is dat ’n hoofsweep van die party ’n universiteitsgraad moet hê. Dit sal die einde van Steenhuisen as DA-hoofsweep wees, want hy het net matriek.

Dit is nog nie duidelik wat die afloop van daardie spesifieke stryery gaan wees nie, maar in mediaberigte tree Mncwango nogmaals as spreekbuis teen Steenhuisen op.

Laastens is die DA tans besig om sy kandidaatlyste vir volgende jaar saam te stel. Steenhuisen se kanse om deur die DA se KwaZulu-Natalse strukture herkies te word, lyk volgens sommige bronne nie te waffers nie, hoewel ander inligting daarvan verskil.

Steenhuisen was vroeër vanjaar aan die voorpunt van ’n poging om die DA, wat in wese ’n federale party is waarvan die besluitnemingsmag grootliks in die provinsies setel, se reëls so te verander dat die provinsiale leiers – dus insluitend Mncwango – nie meer spesifieke insae by die samestelling van die nominasielys sou hê nie. Daardie voorstel is egter nie deurgevoer nie.

Die redes vir Steenhuisen se probleme is dat hy ’n rooivleis-politikus is wat die politiek as kontaksport bedryf en hom nie maklik in enige kontak onbetuig laat nie. Die groep waarvan Mncwango die leier is – en uit mense van alle rasgroepe bestaan – was jare lank in KwaZulu-Natal in die minderheid. Tydens die mees onlangse KwaZulu-Natalse DA-kongres in Richardsbaai het hulle egter die meerderheid geword en het hulle hul messe geslyp vir Steenhuisen en sommige andere wat hulle glo lank en doelbewus uit die binnekring gehou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Antoinette ·

Gaan n bietjie na en kyk hoeveel van hulle het universiteisgrade behaal of gekoop maar in ieder geval ongeldig. So ja dan nog n veldslag gewen. As mens n hond wil slaan kry jy gou n stok daarvoor!

lewies ·

TE VEEL GELEERDHEID KAN ‘N MENS TOT RASERNY DRYF AS JY DIT NIE KAN HANTEER NIE.
Dit sien ‘n mens gereeld in die parlement dat daar ouens is wat hulle eerste wereldse kwalifikasies gladnie kan hanteer nie.

Cherokee ·

Zuma was baie beskeie daaroor. Hy beskik oor twee grade maar nooit het jy hom gehoor daaroor praat of selfs daarna verwys nie. Hy het waarskynlik ook nie dit in diploma vorm aan sy mure gehang nie. Hy het jàre gelede al geslaag in grd1 & grd 2.

HPV ·

Cherokee en selfs met die twee grade, kyk hoe dom het hy opgetree, hy was dalk beter af daarsonder.

Realis ·

Iemand raak hier baie deurmekaar. Geen politikus word verkies op grond van sy of haar kwalifikasies nie. Dit gaan oor vertrouenswaarde onder die kiesers. As die kiesers voel dat n persoon hulle belange sal bevorder, stem hulle vir die persoon. Indien die persoon hom of haar goed van die taak kwyt, waarom nie die persoon in beter posisies aanwend nie? Ek het nog nooit die gevoel gekry dat Steenhuisen sukkel nie. Inteendeel, ek dink hy is n doring in baie se vlees. Juis daarom dat hulle gryp na enige grashalm om van hom ontslae te raak. Kwalifikasies maak jou nie outomaties geregtig op n posisie nie. Dit is maar net n aanduiding van moontlike prestasie in n gegewe veld. Ondervinding is in baie gevalle n baie beter barometer op sukses.

Veritas ·

Napoleon was maar ‘n sersant in die Franse weermag en kyk wat het hy bereik. Vir baie slim mense is daar net nooit geleentheid om verder te studeer nie.

Kerneels ·

Ek het gewonder watter wit DA leier gaan volgende uitgewerk word.

Se maar net ·

Kerneels, ek wonder saam met jou, DA werk wittes en die kleurling bevolking uit hul party.

Annie ·

Die DA se swak bestuurstyl en politieke speletjies raak nou regtig belaglik. en dit is hoekom hulle stemme verloor. Hulle baklei so onder mekaar dat ek nie kan sien hoe hulle nog gaan tyd he om vir landsburgers te baklei nie. DA, hou op om jul vuil wasgoed in die publiek te was. kry julle agterstewe in rat en begin lewer op dit wat julle so belowe. Julle gaan die sterkste steun teen ANC wat julle oor die jare gebou het verloor, en dit omdat julle magspeletjies wil speel . Julle is net so verdeeld soos die ANC.

JANEE ·

Die DA is deesdae regtig dom vir slim mense . Hulle breek mekaar af en dit slegs n paar maande voor n verkiesing. Hoop nie hulle dink al die kiesers is so dom soos hulle nie.

Speedguard ·

Janee , ek stem saam, mense wat in 3 verdiepings glashuise bly moet liefs nie klippe gooi nie !

alida ·

Hy is ‘n baie intelligente man en praat nie in sirkels soos meeste van ons parlementslede nie. Ek dink soms verstaan hulle hom nie eers nie.

Cherokee ·

Hier is ‘n erkenning.. almal weet hoe anti-DA ek is. Ek verdra hulle nie vanuit Helen Suzman se dae toe hulle nog onder die vaandel Progressiewe Party was. Maar ek soort van hou van John Steenhuisen en luister graag na hom. Jare gelede wat hy intensief betrokke by die Durban se munisipale politiek en ‘n groot teenstander van Michael Sutcliffe, die gewese stadsbestuurder. As die DA van hom ontslae wil raak sal ek ‘n voorstander daarvan wees om hom te sien by die VF+.

ZAR ·

Ek sê al lankal dat die DA geïnfiltreer is deur ANC en EFF mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.