Steenkamp-familie wil nie wraak neem teen Oscar Pistorius nie

Oscar Pistorius tydens Donderdag se hofverrigtinge. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius tydens Donderdag se hofverrigtinge. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Reeva Steenkamp se familie wil nie wraak neem teen Oscar Pistorius nie, maar verwag wel dat hy tronk toe moet gaan, het die hooggeregshof in Pretoria Donderdag gehoor.

“My familie wil nie wraak neem nie,” het Kim Martin, Reeva se niggie, geantwoord op vrae van staatsaanklaer Gerrie Nel. “Ons is net van mening dat indien jy iemand se lewe neem, agter ʼn deur skiet, ʼn ongewapende persoon skiet… moet jy voldoende gestraf word.”

Martin het getuig dat sy aanvanklik bang was dat gevangenisstraf sleg sou wees vir Pistorius, maar sy het na afloop van die moordverhoor verstaan dat gevangenisse wel voorsiening maak vir mense met gestremdhede. Sy het aan die hof gesê dat almal in die saak gelyk het en dat Pistorius tronk toe moet gaan vir wat hy aan haar familie, sy familie en Steenkamp gedoen het.

“Almal het gely. Ons moet ʼn boodskap aan die gemeenskap stuur,” het Martin gesê. “Ek dink nie die voorgestelde straf pas by die misdaad nie.” Barry Roux, Pistorius se regsverteenwoordiger, het tydens kruisondervraging aan Martin gevra of sy tronkstraf sal teenstaan indien die omstandighede nie “menslik” sou wees vir ʼn gestremde persoon nie. Sy het geantwoord dat sy nie sal wil hê iemand moet in onmenslike omstandighede leef nie.

Nel het Martin vroeër Donderdagoggend uitgevra oor Pistorius se openbare verskoning. “Ek het nie gevoel die verskoning was opreg nie. Ek onthou ek het gehuil en dit het my laat besef hoekom ons hier is. Dit het nie opreg gelyk nie.”

Martin het getuig sy is bang vir Pistorius. “Ek het regtig hard probeer om van hom te vergeet. Ons het selfs ʼn punt daarvan gemaak om nie sy naam in ons huis te noem nie want ons wou nie enige energie mors om aan hom te dink nie. Ek glo regtig hy moet boet vir wat hy gedoen het,” het sy bygevoeg.

Pistorius se broer en suster, Carl en Aimee, sy pa Henke, oom Arnold, voormalige vriendin Samantha Taylor, haar ma Patricia en Barry en June Steenkamp was almal Donderdagoggend teenwoordig in die hof. Die voormalige sokkerspeler Marc Batchelor en sakeman Jared Mortimer was ook in die hof.

Pistorius en Mortimer was in Julie vanjaar in ʼn onderonsie betrokke by ʼn nagklub in Sandton. Pistorius se familie het destyds gesê Mortimer het Pistorius “aggressief ondervra” oor kwessies wat met Pistorius se moordverhoor verband gehou het. Mortimer het beweer dat Pistorius president Jacob Zuma se familie en sy eie vriende beledig het en dat dit tot die onderonsie gelei het.

Batchelor en Pistorius was ook vroeër in ʼn onderonsie betrokke. Pistorius het glo gedreig om Batchelor se bene te breek terwyl Batchelor ook dreigemente gemaak het. Die onderonsie het glo gevolg nadat Pistorius uitgevind het sy vriendin van destyds het hom glo met die miljoenêr televisieregisseur Quinton van der Burgh verneuk.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jjobson ·

Nie wraak neem nie is kragtige woorde,maar terselfde tyd woorde in die Regter se mond lê dat tronkstraf die enigste uitweg is-dan is die mens vehewe bo die wet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.