Steenkoolmyn by Krugerwildtuin teengestaan

Dele van die Krokodilrivier gaan besoedel word indien daar gemyn word (Foto verskaf)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag met die Marlothpark-belastingbetalersvereniging en ander belanghebbendes vergader in aanloop tot ’n proses om teenstand te bied teen ’n beoogde steenkoolmyn op die voorstoep van die Krugerwildtuin.

AfriForum se regspan het reeds ’n skrywe aan Singo Consulting (Mpy.) Bpk. en Manzolwandle Investments (Mpy.) Bpk., wat steenkool wil ontgin, gestuur oor die gebrekkige proses wat tot dusver gevolg is.

Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van omgewingsake, sê die skrywe is genoodsaak omdat die betrokke partye versuim het om voldoende inligting oor die beoogde myn bekend te maak. Voorts is geen behoorlike konsultasie- of openbaredeelnameproses nog gevolg nie. Belanghebbendes het nie die geleentheid gehad om as belangegroepe te registreer nie en geen dokumente soos ’n omgewingsimpakstudie is beskikbaar gestel nie.

Die partye het AfriForum ná die skrywe wel as belangegroep geregistreer, maar net tot 15 Augustus 2019 tyd gegee om insette te lewer. AfriForum het daarop gewys dat dié tydraamwerk onredelik is en het vir uitstel gevra. AfriForum sal ’n kundige aanwys om ’n behoorlike inset teen die myn voor te berei.

Dit is ook onthul dat dele van die impakstudie woord vir woord ooreenstem met dié van ’n ander myn in die omgewing. AfriForum konsulteer tans met sy regspan sodat die nodige regstappe gedoen kan word.

Volgens De Klerk is dit duidelik dat diegene wat die myn beoog tot op hede nie in goedertrou opgetree het nie. Twee vergaderings is op baie kort kennisgewing gehou wat dit vir geaffekteerde gemeenskappe onmoontlik gemaak het om dit by te woon of enige insette te lewer.

Manzolwandle Investments wil die steenkoolmyn oor ’n gebied van 18 000 ha digby die Krugerwildtuin begin. Dit hou enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, natuurlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbouaktiwiteite in. Mpumalanga as toeristebestemming kan ook ekonomies in duie stort as daar met onwettige mynbedrywighede voortgegaan word, meen De Klerk.

Hy het ook gewys op ’n onlangse uitspraak van die appèlhof teen die departemente van omgewingsake en minerale hulpbronne se goedkeuring vir Atha Africa Ventures (Mpy.) Bpk. om met ’n steenkoolmyn in die Mabola-gebied in Mpumalanga voort te gaan. Die departemente het die aansoek stil-stil goedgekeur, terwyl dié gebied ’n geproklameerde bewaringsgebied is. Die hof het bevind die ministers was nie deursigtig nie en dat die besluit oorhaastig geneem is.

“Dit wil blyk dat daar al hoe meer sulke vergrype in Mpumalanga voorkom en AfriForum sal nie toekyk hoe onwettige mynbedrywighede die land verwoes nie,” het De Klerk bygevoeg.

AfriForum het intussen die veldtog #BewaarOnsNatuur van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dries du Toit ·

Ek kon nie verstaan hoekom die waarde van eiendomme in Marlothpark so daal nie. NOU WEET EK

Mossie ·

Baie dankie Cindy vir al jou moeite en insette om ons te verteenwoordig. Dankie Afriforum dat julle bereid is om ons by te staan in n geveg wat al vir jare strek. Dis n stukkie paradys waar mens so na aan die natuur en jou Skepper kan kom en rustig wees!

Grompie ·

Los die mense laat hulle als opneuk wat verwag julle.SA gaan dieselfde pad as die res van Afrika.Daar sal baie die Kruger onthou n skepping deur VADER.Min sal die myn onthou nadat hy ook tot n einde gekom het.Die kriminele en hul nageslag wat betrokke is by die myn sal n prys betaal wat nie berekenbaar is nie .

Koos ·

Hulle hou vol oor werk skepping van 150 mense, maar daar gaan 100de mense sonder werk sit groot deel van die suikerriet plase, piesang plase, lodges en vakansie plekke gaan in die slag bly so ook die kruigerwildtuin se skoonheid en gewildheid aan die suidekant van krokodilbrug. Die krokodilrivier wat water voorsien aan krugerwildtuin diere, marloth park inwoners selfs die mense in Mozambique. Daar is klaar water tekort wat gaan gebeur as die myn ook nog water wil vat as daar nie is nie?.

Se maar net ·

Om nie eers te praat hoe nadelig dit vir die landbousektor in daardie gebied gaan wees nie. Hulle wil myn reg langs baie groot suikeriet en piesangplantasies.
Daar is reeds min water. Vir so ‘n myn moet daar duisende liters water beskikbaar wees.
Die gebied wat beinvloed word is Komatiepoort, Ngwenya Lodge, Mjejane en km’s van die Krokodilrivier wat deur die wildtuin loop. Daar is ‘n baie groot gemeenskap in Hectorspruit wat afhanklik is van die toerisme bedryf, landbou en nog vele meer in hierdie gebied.
Hulle beloof mense werk… hulle sal op die ou einde nie meer as 150 aanstel nie maar daar sal duisende sonder werk sit na ‘n jaar omdat die toerisme en ander besighede sal doodloop. Hulle het reeds is ‘n verklaring aan ‘n ander media groep na die mense in omgewing verwys as “white people who are mad and don’t want black people to work” ….. die raskaart het hul begin speel. Dit werk mos elke keer vir hulle.

Gert van Wierdapark ·

Die betrokkenes het seker die regte “credentials” dat hulle die omgewing wil op-bollie! Wie moet ons daarvoor bedank – nie Boland Bank nie, maar die kaders in beheer!

Wdp ·

Gebied naby aan Maputo om steenkool uit te voer Sjina toe, wonder wat is sjinese se rol hier?

Stiks ·

Hierdie mense het geen eties en esteties waardes nie. Stoomroller net voort met hulle stropersmentaliteit

Johann Andersen ·

Kaderontplooiing klink na ‘n goeie spoor om te volg.

E.K. die eerste ·

Myne het in elk geval ‘n kort leeftyd, dis glad nie die wonderlike werkskepper wat mense (lees myn eienaars, die wat geldmaak daaruit) sê of voorgee dit is nie. Kyk maar na die verval van plekke soos Randfontein, Welkom (grootliks teen wat dit was) Krugersdorp, noem maar op…My man is ‘n kundige in grondwater en ek kan jou sê die gemors hiervan gaan nag wees. Dis nie asof die Krokodilriver nie ook alreeds vrot besoedel is nie… Die in beheer gaan nou weer vreeeslik lieg vir die arme mense daar en heuning om die mond smeer met werkskeppingbeloftes. Niks van gesondheidsprobleme word genoem nie.

John ·

Sover ek weet aanvaar die Mpumalanga Dept. van Minerale Hulpbronne in Mpumalanga nie nuwe aansoeke nie. Kan ook sê dat die dokumente op Singo se webtuiste onvoldoende is vir ‘n aansoek. Neem kennis: Die mynpermit aansoek sal nie oorweeg word indien die S&EIR (impakstudie) nie voltooi en aanvaar is deur DMR nie. Dit neem langer as ‘n jaar. Hulle sal ook ‘n waterlisensie aansoek moet doen – dit neem 1 jaar of langer. En by elke stap moet daar publieke deelname wees (60 dae – impakstudie (twee 30 dae periodes), 30 dae vir die waterlisensie – kennisgewings op die terrein en in die koerante. Met die huidige dokumente beskikbaar sal ek sê hulle het ‘n 30% kans, met die slegte media publisiteit – 5%. Die Dept. sal waarskynlik die aansoek uitgooi – soos hulle al vantevore gedoen het.

l h ·

Lambert en Cindy, BAIE BAIE dankie! julle red vir ons ‘n erfenis! Ek gaan al vir jare, elke jaar met verlof Marloth Park toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.