Steenkoolmyn by wildtuin: Kommer oor openbare deelname

Die organisasies sê die proses was destyds gebrekkig en hou vol dat dit steeds so is. (Argieffoto)

Daar is hernieude kommer oor die openbaredeelnameproses rakende die beoogde steenkoolmyn op die suidelike voorstoep van die Krugerwildtuin in Mpumalanga.

Bewaringsgesindes is die afgelope twee jaar – sedert ʼn aankondiging oor die beoogde myn – reeds diep bekommerd dat dit ʼn katastrofiese uitwerking op die gebied kan hê indien die myn voortgaan.

Die burgerregtegroep AfriForum en die landbouorganisasie Saai het Donderdag, byna twee jaar ná die eerste aansoek in die verband, aan ʼn openbaredeelnameproses rakende die voorgestelde ontwikkeling in Marlothpark deelgeneem.

Die organisasies sê die proses was destyds gebrekkig en hou vol dat dit steeds so is.

Die omgewingskonsultant Limpearth & Environmental (Pty) Ltd, wat namens Tenbosch Mining (Pty) Ltd die vergadering oor openbare deelname gelei het, was nie in staat om die toepaslike inligting aan lede van die publiek beskikbaar te stel nie en oor die algemeen ongeorganiseerd,” sê Lambert de Klerk, hoof van omgewingsake by AfriForum.

Die organisasie het verlede maand sy regspan opdrag gegee om ʼn brief aan die maatskappy te rig waarin hy vra dat die nodige dokumente vir kommentaar aan die belanghebbendes gestuur word. Dit is nie aan AfriForum gestuur toe die organisasie as geïnteresseerde en geaffekteerde party geregistreer het nie.

AfriForum sê hy wag steeds op terugvoer.

De Klerk sê by Donderdag se vergadering het mense talle vrae gevra, maar geen daarvan is werklik beantwoord nie.

Manzolwandle Investments (Pty) Ltd, wat oorspronklik die aansoek om die steenkoolmyn in 2019 ingedien het, is intussen deur Tenbosch Mining (Pty) Ltd gekoop. Dit is ook Donderdag by die vergadering bekend gemaak.

Die departement van minerale hulpbronne en energie het in Oktober verlede jaar sy dokument van teenkanting aan Manzolwandle Investments gestuur, ʼn besluit waarteen die maatskappy suksesvol geappelleer het.

“Ons bevraagteken die besluit om Manzolwandle Investments se appèl toe te staan aangesien die korrekte proses van openbare deelname nie gevolg is nie en van die dokumente wat in hul omgewingsimpakstudie gebruik is boonop vir beweerde plagiaat, wat ’n vorm van bedrog is, ondersoek word,” sê De Klerk.

AfriForum het reeds met sy regspan vergader om verdere stappe te doen.

“Maroela Media het vroeër berig Manzolwandle Investments wou die steenkoolmyn oor ’n gebied van 18 000 ha naby die wildtuin begin. Verskeie organisasies het reeds hul stem dik gemaak teen die ontwikkeling van die myn omdat dit glo enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbouaktiwiteite sou inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Dit gaan nog altyd my verstand te bowe dat dit ooglopende is dat die Ministers van Mynwese en Natuurbewaring NIE met mekaar praat.

Andrew ·

Ons kry dieselfde hier. “junior miners”, wat meestal swart vroue en dan n aussie of ander n europese uitlander bestaan, wat links en regs na steenkool prospekteer. Wat in die grond is weet die groot mynhuise al oor n hondered jaar, niks nuuts om te vind nie. Verder is daar grootliks ook n tekort aan water, of enige goedkoop manier om die steenkool by enige hawe/afset punt te kry. Die meeste konsultante se werk is copy past nonsense en is hulle maar net daar om geld te maak, so daar is n klomp kaarte en projector slides en grafieke maar die mense kan selde vrae beantwoord. En nooit is daar n verteenwoordiger van die myn by so n sessie nie.

Jaco ·

Dalk is dié steenkoolmyn ‘n goeie ding. Dalk begin eskom dan weer met plaaslike Suid-Afrikaanse steenkool elektrisiteit op te wek, in plaas van met duur ingevoerde steenkool.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.