Steenkoolvervoerders sleep Eskom hof toe

Vragmotor op die R21 naby die Jeanlaan-afrit (Maart 2017) Foto: Twitter

Vragmotor op die R21 naby die Jeanlaan-afrit (Maart 2017) Foto: Twitter

Die Coal Transporters Forum (CTF) het die hooggeregshof genader om ʼn interdik te bekom om Eskom te verhoed om onafhanklike hernubarekragprodusente (IPP’s) te kontrakteer, soos die regering beplan.

Mary Phadi, woordvoerder van CTF, het Donderdag tydens ʼn perskonferensie in Pretoria geweier om verdere besonderhede oor die hofverrigtinge te gee, en volgehou die saak is in hierdie stadium sub judice.

“Ons het regsadvies bekom as ʼn voorkomingsmaatreël om verrassings te verhoed. Terwyl ons nog aan die een kant in gesprek is, is Eskom aan die ander kant besig om die IPP’s te kontrakteer,” het Phadi gesê. “Ons het dus die hooggeregshof genader teen Eskom en die departemente van openbare ondernemings, energie en die tesourie om die implementering van dié IPP’s te hersien.”

Honderde vragmotorbestuurders het vroeër vandeesmaand verkeer in en rondom Pretoria tot ʼn stilstand gedwing toe hulle teen Eskom se planne, om IPP’s te kontrakteer, betoog het. Die CTF het die betoging gereël.

Die forum voer aan die oorskakeling na hernubare energie sal drastiese gevolge hê, veral werksverliese wat steenkoolmyne en vervoer betref.

“Die instelling van die IPP’s blyk weerspreek die regering se transformasie-doelwitte, aangesien die IPP’s nie eers transformeer nie. Die finansiering vir die entiteite word plaaslik bekom om die buitelandse maatskappye te borg. CTF is nie oor die projek genader nie, ons het die nuus slegs tydens die Staatsrede op televisie gehoor,” het Phadi gesê.

“Dit sal weer die waardeketting van steenkool beïnvloed. Die gebruik van IPP’s sal ook die hele waardeketting van mense, wat op die myne werk, beïnvloed. Hoe kan die regering R200 miljard belê in buitelandse maatskappye ten koste van Suid-Afrikaners?”

Phadi het gesê ná die betoging in Pretoria het steenkoolvervoerders terugvoer ontvang van die presidensie wat die CTF opdrag gee om met ʼn beampte by die departement van energie te gesels.

Josiah Mlangeni, adjunkvoorsitter van CTF, het gesê dit is belangrik om te noem dat sy organisasie nie teen hernubare energie per se is nie, maar wel teen die werksverliese wat kan volg indien die IPP-program volspoed voortgaan. “Ons is nie teen groen energie nie. Daar was egter geen konsultasie wat groen energie betref nie. Ons kan nie werksverliese ondersteun in die naam van groen energie nie.”

Pres. Jacob Zuma het tydens sy Staatsrede aangekondig dat die Hernubare Onafhanklike Kragprodusenteprogram voortgaan en dat Eskom binnekort IPP’s sal kontrakteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rupert Ashford ·

“Iemand” wil weer skep uit die miljarde wat uit die eerste wereld lande geswendel word in die naam van “climate change”. En weereens betaal die armes die prys.

nico ·

Sonkrag sal groei – bloot omdat dit BAIE goedkoper is.

Die vragmotorbedryf moet dit aanvaar, en ander geleenthede soek.

Meer en meer besighede en selfs huishoudings gaan dit begin gebruik. En ESKOM gaan al hoe minder steenkool nodig he

Anoniem ·

Hierdie is n baie groter dreigende probleem as wat ons dink. Daar is aan my vertel hoe die steenkool direk turbines toe aangery moet word agv onbevoegdheid.
As eskom finaal vou is alle orde in hierdie land daarmee heen (die min wat nog oor is)
Sonder elektrisiteit is dit onmoontlik om beskawing te handaaf

Christo ·

Anoniem jou scenario pas perfek in anti koloniale se siening. …hulle will dit he!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.