Stefan Smit-moord: Twee in hegtenis; polisie soek na vrou wat wegkom

Stefan Smit.

Twee mans is in hegtenis geneem vir die opspraakwekkende moord op Stefan Smit, eienaar van die Louisenhof-wynlandgoed, in Junie verlede jaar. Die polisie is intussen op die spoor van ʼn 56-jarige vrou wat speurders tydens die inhegtenisnemings ontwyk het.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê twee mans, onderskeidelik 50 en 56 jaar oud, is Donderdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem nadat die polisie lasbriewe bekom het.

Traut sê die ondersoek na die 62-jarige Smit se moord het speurders na die drie verdagtes se huise in onderskeidelik Bellville-Suid, Milnerton en Wynberg gelei.

Die twee mans verskyn na verwagting Vrydag in die Stellenbosch-landdroshof op ʼn aanklag van moord.

Smit is op 2 Junie verlede jaar omstreeks 18:50 doodgeskiet nadat vier gewapende mans deur ʼn oop deur toegang tot die plaashuis verkry het. Sy vrou, Zurenah, en ʼn familievriend was ook tuis, maar het die aanval oorleef.

Smit was destyds in die nuus nadat onwettige besetters op die plaas Watergang toegesak het en Smit en die ander eienaars van die plaas die Wes-Kaapse hooggeregshof genader het om ʼn uitsettingsbevel te verkry.

Watergang, ʼn stuk grond wat in ʼn familietrust is en die Louiesenhof-wynlandgoed insluit, is beset en ondanks die uitsettingsbevel wat toegestaan is, is daar voortgegaan om die grond langs die Kayamandi-woonbuurt te beset.

Daar is aanvanklik bespiegel dat sy moord dalk te doen het met sy beweerde weiering om die plaas aan die Stellenbosch-munisipaliteit te verkoop.

Dit is in hierdie stadium steeds nie duidelik wat presies die motief vir die moord op Smit was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Spyker ·

Daar is tans n hofgeding aan die gang met betrekking tot die egtheid van die testament. Soek die motief by daardie partye wat by die saak betrokke is.

Mastermind ·

Die polisie is intussen op die spoor van ʼn 56-jarige vrou wat speurders tydens die inhegtenisnemings ontwyk het. Dalk Zurenah Smit wat niks ge-erf het nie ?

Blomme ·

Ai.. Is mens se lewe regtig niks meer werd in hierdie land van ons?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.