Steinhoff: 2015 se state ook hersien

Argieffoto: ANA

Die beleërde kleinhandelgroep Steinhoff International Holdings, het Dinsdag gesê sy  finansiële state van 2015 kan, soos sy state van 2016, ook nie meer as betroubaar geag word nie en sal hersien moet word.

Steinhoff het in ʼn verklaring gesê 2017 se geouditeerde, gekonsolideerde finansiële state sal vergesel word van sy hersiene 2016-resultate. Die gekonsolideerde state van sy finansiële posisie sal ook vergesel word van ʼn herberekende vergelykende 2015-staat van finansiële posisie van Steinhoff International Holdings Proprietary Limited, die vorige genoteerde houermaatskappy van die groep.

Volgens Steinhoff sal die herberekende state bykomende insig gee in die kumulatiewe en gekonsolideerde openingsaldo’s in die hersiene 2016-resultate van finansiële posisie.

Steinhoff is einde verlede jaar in omstredenheid gedompel nadat ʼn ondersoek van stapel gestuur is na beweerde rekeningkundige onreëlmatighede by die maatskappy. In die lig van die skandaal het Markus Jooste, die groep se uitvoerende hoof, bedank. Christo Wiese, ʼn groot aandeelhouer en voorsitter van die raad, het kort daarna ook bedank weens moontlike konflik van belange.

Die maatskappy het Dinsdag bevestig die beweerde rekeningkundige onreëlmatighede word intern ondersoek, asook deur die rekeningkundige firma PwC, wat geaffekteer word deur die gekonsolideerde finansiële state van Steinhoff Investment Holdings Limited uit hoofde van sy eienaarskap van sekere Europese filiale tot 1 April 2016.

Die herberekende state sal nie van toepassing wees op Steinhoff Services Limited nie, ‘n uitreiker van genoteerde effekte op die JSE effektebeurs.

Die groep het gesê die datum wanneer die interne ondersoek deur die bestuurspan, asook die ondersoek deur PwC afgehandel sal wees, is nog nie bekend nie.

Die storm rondom Steinhoff het gelei tot die vinnige verkoop van aandele wat die waarde van die groep se aandele met meer as 80% laat tuimel het. Suid-Afrikaanse vakbonde het gesê miljarde rande van werkers se pensioene het verlore gegaan deur die staatsdienspensioenfonds (GEPF) en die Openbare Beleggingskorporasie (PIC) se beleggings in Steinhoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Skokkend.
Ek wonder of dit nie al begin het met die maatskappy se meteoriese opgang wat beleggers gelok het nie?
Ons vertrou maar die kastaiïngs sal uit die vuur gekrap kan word.
Daar is meer op die spel hier as wat jy jou kan indink. 130 000 werknemers en verseker n klompie neseiers.

Gemaskerde Sopbeen ·

En nou sit die arme werkers wat by KPMG gevlug het na PWC en Deloitte toe nog steeds in die warm water? Watter Ouditeursfirma kan vertrou word? Nie een nie, want hulle werk met inligting wat vir hulle gegee word want dis te enorm en te tydsaam om dit self te gaan uitkrap. Tog is dit nou skielik moontlik om die laaste 3 jaar se state te hersien? Weer verkeerd? Die enigste tyd toe finansiële state nog geglo kon word, was toe daar kleinhandelaars in elke dorp was…..nou besit almal alles, en dis een groot gemors.

Eish ·

Al wat aangespreek moet word is die oudit riglyne.
Byvoorbeeld, slegs n steekproef van sê 10% van fakture word getrek vir oudit. Indien daar geen wesenlike fout mee gevind word nie, word nie verder gekrap nie. Net so met elke aspek wat geoudit word. Die riglyne word voorgeskryf deur die oudit raad en firmas word daarop geoudit.
Wat aangespreek moet word is dus n groter steekproef en ander aspekte moet in totaal geoudit word. Dit gaan enorme koste vir besighede meebring aangesien hul per uur betaal vir professionele dienste. Uitsluitlik moet die oorkoepelende oudit raad hier nuwe riglyne neerlê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.