Steinhoff: Christo Wiese bedank ook

Christo Wiese.

Christo Wiese, magnaat en groot aandeelhouer in Steinhoff, het Vrydag bedank as voorsitter van die toesighoudende raad by die maatskappy te midde van ʼn ondersoek na rekeningkundige onreëlmatighede in die maatskappy se finansiële state.

Steinhoff het Wiese se bedanking in ʼn verklaring bevestig.

“Dr Wiese het hierdie aanbod gemaak om die onafhanklike bestuur van die maatskappy te versterk waarvan hy ʼn belangrike aandeelhouer is. Die toesighoudende raad het, op advies van die onafhanklike komitee van die raad, sy bedanking aanvaar om enige moontlike botsing van belange wat mag bestaan, aan te spreek. Dr. Wiese het aangebied om enige deurlopende bystand aan die maatskappy te verskaf wat nodig mag wees,” lui die verklaring.

Weens die familieverwantskap tussen Christo Wiese en Jacob Wiese, Christo se seun, het Jacob ook bedank. Sy bedanking is ook deur die raad aanvaar.

Heather Sonn, ʼn lid van die toesighoudende raad en lid van die onafhanklike subkomitee, is as waarnemende voorsitter aangestel. Volgens Steinhoff sal Sonn steeds ʼn lid van die onafhanklike komitee bly, saam met twee ander lede, Johan van Zyl en dr Steve Booysen.

Markus Jooste, Steinhoff se uitvoerende hoof, het verlede week bedank nadat die maatskappy gevra het dat ʼn ondersoek gedoen word na beweerde rekeningkundige onreëlmatighede en moontlike bedrog. Dit het tot onttrekking van beleggers gelei wat die maatskappy miljarde rande in waarde gekos het.

Die maatskappy, wat onlangs ʼn presteerder op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) geword het namate dit verskeie Europese kleinhandelaars verbygesteek het, is die onderwerp van ʼn ondersoek na rekeningkundige onreëlmatighede in Duitsland. Jooste was byna 20 jaar lank aan die stuur van die uitbreiding van Steinhoff as een van die wêreld se grootste kleinhandelaars van huishoudelike goedere.

Steinhoff, wat sy oorsprong in Duitsland het, maar in Suid-Afrika gebaseer is, is ʼn globale meubel- en huishoudelikegoedere-handelaar met meer as 40 handelsmerke in meer as 30 lande. Die maatskappy het 130 000 mense in diens van sy onderliggende bedrywighede bestaande uit sowat 12 000 kleinhandelafsetpunte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Afgesien van die skokkende onthullings oor Steinhoff, staan een ding soos n paal bo water en dit is die beslistheid, felheid en doeltreffendheid waarmee die skoonmaakproses in die privaatsektor hanteer word. Mens staan werklik verbaas nadat ons vir twee dekades gewoond geraak het aan die wyse waarop die staat met sy boesemvriende, korrupsie, staatskaping, wanvoorstelling, leuens en diefstal omgegaan het.
Persoonlik sou ek die hele direksie die pad sien loop het.

Adam ·

Eish, jy is sekerlik nie ernstig nie. Die privaatsektor is ‘n broeikas vir die tipe optrede en almal veg vir ‘n plekkie aan die tafel van hierdie manne terwyl hulle die golf ry. Dit is slegs nadat die bom gebars het dat daar sogenaamd “beslis, fel, en doetreffend” opgetree word en glo my vry, dit is bykans nooit die geval nie.

SP ·

As Dr. Wiese waai is daar absoluut geen hoopmeer nie. Die kalf is in die put en sal heelmoontlik ook daar bly.

Drieks ·

Baie waar Marina, hy kom mense ophelp, maar sy bankrekening wat elke dag groei was vir hom die belangrikste, nie om mens, mens te wees nie.

Hoop gehad ·

Ek het nog hoop gehad toe Christo oorvat, maar o wee, dit is n ramp in huidige ekonomiese sake. Soos enige sport, moenie groter as jou game raak nie, die val is soveel harder.

LV ·

So val hierdie sogenaamde helde een vir een,ons moes jare lank na hul slim stories luister terwyl hulle hul sakke volprop,geen verskil tussen hulle en die Guptas nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.