Steinhoff erken grootkoppe het syfers gekook

Argieffoto: ANA

Vier binnelandse en vier buitelandse leiersfigure in die probleemgeteisterde Steinhoff-groep het meegewerk om winssyfers te bekook sodat die maatskappy sterker moes lyk as wat werklik die geval was.

Dié bekentenis is vandag voor ‘n gesamentlike sitting van parlementêre komitees gemaak deur Steinhoff se huidige hoofamptenaar, Louis du Preez. Nadat hy ‘n opdrag van een van die komiteevoorsitters, die ANC-LP Yunus Carrim, om die name van diesulkes dadelik bekend te maak, aanvanklik nie wou uitvoer nie, het hy dit tog uiteindelik gedoen.

Die name van die vier Suid-Afrikaners wat luidens ‘n ouditeursverslag die aandeleprys gemanipuleer het, is Markus Jooste, Dirk Schreiber, Ben le Grange en Stehan Grobler.

Carrim het ook opdrag gegee dat die volledige ouditeursverslag oor Steinhoff dringend openbaar gemaak moet word. Steinhoff het tot dusver nog net die opsommende oorsig van die verslag beskikbaar gestel.

Die huidige voorsitter van Steinhoff se raad, Heather Sonn, het erken dat Steinhoff steeds in ‘n uiters kwesbare posisie is, maar sy het gesê diegene wat tans die maatskappy weer winsgewend wil kry, meen dis die moeite werd om die stryd voort te sit.

Sy meen dit is moontlik om steeds waarde vir aandeelhouers te ontsluit mits alle betrokkenes hul deel doen. Sy het aandeelhouers daaraan herinner dat krediteure voorkeur geniet vir uitbetaling van die waarde van maatskappybates – nie aandeelhouers nie.

Uit die antwoorde wat verteenwoordigers van die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag verskaf het, is dit duidelik dat min tot geen vordering nie gemaak is met vervolgings in die Steinhoff-sage.

Dit het LP’s van alle politieke partye warm onder die kraag gehad met ANC-LP’s wat reguit gesê het die wetstoepassers moet hul werk begin doen en die DA wat die ondersoekwerk as pateties bestempel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willem Grobler ·

Die polisie het duidelik nie die vermoë om hierdie sake te ondersoek nie. Hulle het ook nie die lus om die kaders van die ANC wat hulself deur korrupsie verryk het in die hof te kry nie.

Henk ·

Tussen die Afrikaner broederbond en die vrymesselaars maak hulle seker hierdie kriminele in hul organisasies bly uit die tronk!!! En die banke doen niks om die geld te vorder nie. Inteendeel, hulle word voortdurend uitstel gegee en so sal nog een van die grootste misdade in die land se geskiedenis saam met zupta onder die mat ingevee word

Keelvol ·

Hoera!!!!
Vie eenkeer stem ek saam met die ANC-LP’s dat die wetstoepassers hulle werk moet begin doen.
Dit kring egter baie wyer uit as net vir Steinhoff.
Dit sluit ook persone in betrokke by: Staatskaping
Tenderbedrog
Korrupsie
Moet asb nie Bosasa en VSB vergeet nie.
Laat ‘n paar van die wat prestasie bonusse vir hulleself toegeëien het sommer ook terugbetaal.
Ons sal moet tronke bou.

Gert van Wierdapark ·

Lyk my Jooste het n greep op sy “onderdane” gehad soos wat ons vorige pres. op syne gehad het = “inside info” in hul persoonlike doen en late! As In ag geneem word dis een van die grootste bedrogspulletjies in die geskiedenis van SA, dan draai die wiel net so stadig soos met die korrupsie/stelery mbt staatskaping, ens ens =SKANDE!

Eben P ·

Gert soms wonder ek of daar nie ook anc manne betrokke hier is … hoekom die gedraai? Niemand al vir jooste gaan kuier nie en intussen ry hy perdjie of niks gebeur het.

Vlooi ·

Ek werk ook vir Steinhoff, en oor 2 maande sit 682 van ons sonder werk, al klaar ons briewe ontvang

Nugter ·

Al sou enige van hierdie ouens tronk toe gaan, hul families is finansieël ok vir die res van hul lewens.

Mariana ·

Hoekom nuwe tronke BOU? As n ARMY TENT goed genoeg is vir n soldaat, is dit meer as goed genoeg vir VEROORDEELDE MISDADIGERS! Dis vinnig en jy kan baie kampe oprig.

Jepetto ·

As jy baie geld het en bekend is soos Steinhoff sal jy nie tronk toe gaan nie

Johann cb ·

En ons, die beleggers wat Steinhoff aan die gang gehou het, moet gelate die verliese dra en aanvaar!

jakes ·

Markus Jooste en kie het maar net hul kanse gebruik om soos al die ander ‘leiersfigure’ hulself te help ten koste van die gepeupel. VBS Bank is ook na willekeur geplunder en het ons al iemand in oranje drag gesien? Daar sal niks hiervan kom nie, sulke hofsake kan jare duur en ook die verdagtes in die staaskapingsdrama sal skotvry kom. CR gaan net aanbeveel dat SA nie trugkyk nie maar liewer net vorentoe kyk. Al die perde sal amnestie kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.