Steinhoff: Grobler wil onskuldig pleit

(Foto: Bloomberg/Waldo Swiegers)

Stephanus (Stéhan) Johannes Grobler, voormalige maatskappysekretaris en hoof van regsake van Steinhoff, is van voorneme om onskuldig te pleit op die aanklagte teen hom.

Grobler is Maandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria op borgtog van R150 000 vrygelaat. Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met bedrog ter waarde van R21 miljard.

Grobler het hom Vrydag aan die polisie oorgegee nadat hy en Markus Jooste, wyle uitvoerende hoof van Steinhoff, vroeër deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) opdrag gegee is om dit te doen. Jooste het Donderdag sy eie lewe geneem.

Die staat het Maandag Grobler se borgtogaansoek teengestaan en gesê hy word van ʼn ernstige misdryf aangekla en dat hy ʼn vlugrisiko inhou aangesien hy sakeverbintenisse oor die wêreld heen het.

Grobler het in ʼn beëdigde verklaring wat aan die hof voorgehou is gesê dat hy van voorneme is om onskuldig te pleit op die aanklagte teen hom en dat hy sy onskuld sal bewys.

Landdros Nicca Setshogoe het Grobler se borgtogaansoek toegestaan. As deel van sy borgtogvoorwaardes moet hy twee keer per week, Maandae en Vrydae, by die Brooklyn-polisiestasie aanmeld en mag hy nie Gauteng verlaat sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel nie.

Grobler moes ook twee vuurwapens en twee paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig en hy mag ook nie vir ʼn nuwe paspoort aansoek doen nie. Hy mag verder nie met enige staatsgetuies kontak maak nie.

Die saak is tot 26 Junie uitgestel vir die afhandeling van ondersoeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

Lyk vir my nou dat Markus Jooste nie meer in die prentjie is nie gaan die hofsaak eers regtig begin.

Laurika ·

Natuurlik is Markus Jooste nou oorlede – nou kan Grobler al die skuld op Jooste plaas.

Aai ·

Laurika Bedrog is ongelukkig alles op swart en wit so hy sal nie kan se dit was Jooste se skuld hy is geleer en het geweet wat hy doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.