Steinhoff: Jooste gaan nie vandag getuig

Markus Jooste. Foto: Steinhoff International

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, het ʼn week uitstel gekry voor hy onder eed voor vier parlementêre komitees moet getuig. Dít volg op ʼn hofuitspraak wat Dinsdag oor die kwessie gelewer is.

Die parlement het die hofbevel bekendgemaak wat die besonderhede van die ooreenkoms tussen sy regspan en Jooste se regspan uitstippel. Volgens die ooreenkoms hoef Jooste nie meer Woensdag voor LP’s te verskyn nie, maar eers op 5 September.

Die bevel sit dit uiteen dat Jooste die enigste getuie sal wees wat daardie dag getuig om “bewyse te lewer onder eed en deur die komitees ondervra te word om enige institusionele foute en uitdagings binne die finansiële regulatoriese raamwerk of enige instellingsuitdagings binne die raamwerk wat dalk die ineenstorting van die waarde van Steinhoff se aandele kon veroorsaak of aanleiding daartoe kon gee” bloot te lê.

Jooste was die hoof van Steinhoff tydens die spits van ʼn skandaal wat dié maatskappy geruk het. Die skandaal het verlede jaar die maatskappy se aandeleprys laat tuimel wat tot die verlies van miljarde rande gelei het. Jooste het onmiddellik bedank.

Jooste en Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, is gedagvaar om vandag voor die parlement se staande komitees oor finansies en openbare rekeninge te verskyn, asook die portefeuljekomitee oor openbare administrasie en die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid.

Die parlement het in die verklaring bevestig dat La Grange steeds Woensdag voor die komitees sal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.