Steinhoff: Markus Jooste met R475 miljoen beboet

(Foto: Bloomberg/Waldo Swiegers)

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, ʼn boete van R475 miljoen opgelê.

Jooste het tot 19 April om die boete te betaal, maar kan wel teen die boete appelleer.

ʼn Strafsaak oor die kwessie is ook reeds aanhangig gemaak.

Die boete van R20 miljoen vir binnehandel, wat Jooste tevore deur die FSCA opgelê is, moet nog betaal word. Jooste betwis dié boete in die hooggeregshof en sal die hof teen 26 Maart met sy hersieningsaansoek nader.

Ná ʼn lang ondersoek het die FSCA Woensdag gesê hy het bevind dat Jooste en Steinhoff se voormalige Europese finansiële hoof, Dirk Schreiber, verantwoordelik was vir die publisering van bedrieglike verklarings oor Steinhoff International se finansiële posisie tussen 2014 tot 2017.

Dit het beteken dat beleggers hul besluite op valse inligting gegrond het. Dit het tot verliese van miljarde rande gelei het, ook deur pensioenfondse. Byna R200 miljard se pensioenfondsgeld en ander beleggings is uitgewis namate beleggers besef het die maatskappy se finansiële state is gemanipuleer.

ʼn Duitse hof het Schreiber tot drie en ʼn half jaar tronkstraf gevonnis. ʼn Streekshof in Oldenburg het ʼn lasbrief van inhegtenisneming teen Jooste uitgereik nadat hy nie vir die bedrogverhoor opgedaag het nie.

Die Reserwebank het ook Jooste se bates bevries.

Die FSCA se boete van R475 miljoen sluit in ʼn bedrag van R10 miljoen om die owerheid te vergoed vir redelike koste wat hy as deel van die ondersoek moes aangaan.

Jooste het aan die einde van 2017 by Steinhoff bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tinus ·

Lekker geleef met beleggers se geld. As die geldgod jou lewe oorneem, verkoop jy jou siel vir geld. Geen respek vir hom nie. Hoeveel mense se lewens het hy verwoes?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.