Steinhoff: Nóg ondersoeke kom

Argieffoto

Suid-Afrika se departement van handel en nywerheid het Dinsdag gesê hy sal ʼn ondersoek van stapel stuur na die beweerde bestuursfoute en finansiële onreëlmatighede by Steinhoff.

Dit sal gedoen word om te bepaal of daar enige oortreding van die Maatskappywet was.

“Die departement van handel en nywerheid en die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) het met diep kommer verneem van aantygings van bestuursfoute en finansiële onreëlmatighede by Steinhoff,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Afgesien van die ondersoek saam met CIPC, sal die departement ook die onafhanklike reguleringsraad van ouditeure (Irba) vra om ondersoek in te stel na die rol van die ouditeure in die Steinhoff-skandaal.

Steinhoff worstel tans met die nadraai van bewerings van rekeningkundige onreëlmatighede in sy onlangse finansiële state. Dit het tot die bedanking van Markus Jooste, uitvoerende hoof van die maatskappy, gelei.

Scopa (die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement) het gesê hy sal die uitvoerende lede van Steinhoff en die openbare beleggingskorporasie (PIC) volgende jaar voor wetgewers verantwoordbaar hou.

Die vakverbond Fedusa het gesê die PIC, wat staatsamptenare se pensioenfondse bestuur, se markwaarde van sy 8,56% aandeel in Steinhoff het van R20 miljard na R2 miljard geval. Die organisasie meen dit het werkers se pensioen skade berokken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.