Steinhoff-ondersoek ʼn prioriteit, sê ouditeure

Argieffoto

Die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) het gesê hy het skriftelik by die finansieskomitee in die parlement navraag gedoen oor die status van die ondersoek oor ʼn rekenkundige skandaal by Steinhoff.

Irba het gesê die ondersoek bly ʼn prioriteit, ondanks die beperkinge van só ʼn ondersoek.

Die organisasie het gesê hy het in Desember met sy ondersoek in Deloitte Suid-Afrika begin. Dié maatskappy is die ouditeure van Steinhoff, wie se aandeelprys ineengestort het nadat die maatskappy erken het dat rekenkundige onreëlmatighede begaan is.

“Sedert ons in Januarie 2018 die verhoor oor die Steinhoff-saak bygewoon het, kan ons bevestig dat ons Deloitte se ouditlêers van Steinhoff vir die jare 2014, 2015 en 2016 begin hersien het,” het Bernard Agulhas, uitvoerende hoof van Irba, gesê. “Ons aanvanklike oorsig van die lêers het verskeie kwessies aan die lig gebring wat verder ondersoek word.”

Ten tyde van die oudits vir 2014 en 2015 was die plaaslike Steinhoff-entiteit die genoteerde houermaatskappy, primêr genoteer op die Johannesburgse aandelebeurs. In 2016 het die primêre notering na Nederland geskuif, en die ouditlêers vir 2016 hou dus verband met Steinhoff Afrika se plaaslike filiale.

“Irba het op enige gegewe oomblik ongeveer 150 aktiewe ondersoeke aan die gang, wat beteken dat sy beperkte hulpbronne baie noukeurig gebalanseer moet word sodat dié ondersoeke met die hoogste openbare belang, geprioritiseer kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ChrisE ·

Ek ruik ‘n rot, en dit is nie van Steinhoff se kant nie. Toegegee die Jooste individu kan gedeeltelik aanspreeklik vir sekere aksies of nie gehou word, maar ek dink daar is ander duistere motiewe hier te sprake. Wat doen jy as jou mededinger beter doen as jy, die oudste “triek” in die boek is, diskriditeer hom. So ons wag maar en sien. Wat het van “white minority capital” waansinnigheid geword?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.