Steinhoff: Reguleringsraad sal Deloitte ondersoek

Deloitte

Die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) het Vrydag bevestig hy het ʼn ondersoek van stapel gestuur na die ouditeursfirma, Deloitte, na aanleiding van bewerings van rekeningkundige onreëlmatighede by Steinhoff International.

Die Irba het Vrydag ʼn vergadering met Malusi Gigaba, minister van finansies, gehad om die implikasies te bespreek wat die Steinhoff-debakel op die ouditpraktyk sal hê.

Steinhoff is verlede week in omstredenheid gedompel nadat Markus Jooste, die maatskappy se uitvoerende hoof, inderhaas bedank het na aanleiding van “rekeningkundige onreëlmatighede” by die maatskappy. Duitse owerhede, waar Steinhoff primêre notering het, het ʼn ondersoek na die maatskappy se finansiële state begin.

Bernard Agulhas, die uitvoerende hoof van Irba, het gesê die reguleringsraad sal ondersoek instel na die oudits vir die finansiële jare van 2014 tot 2016. Steinhoff word deur Deloitte geoudit, wat bevestig het dat die firma sy volle samewerking aan die Irba sal gee gedurende die ondersoek.

“Die ondersoek sal die korrekte prosesse volg en die tydperk sal afhang van die inligting wat onder ons aandag kom sodra ons die aard van die beweerde onreëlmatighede vasgestel het en verdere besprekings met die relevante partye gehad het, insluitend ouditreguleerders van Duitsland en Nederland. Hierdie gesprekke, insluitend kwessies rondom jurisdiksionele verantwoordelikhede, het verlede week begin.”

Agulhas het gesê hoewel samewerking met internasionale reguleerders belangrik is, is dit selfs nog belangriker dat plaaslike reguleerders hul pogings koördineer in hul steun aan die regering om die publiek van die nodige versekering te voorsien om voldoende vertroue te hê dat hul beleggings veilig is.

“Die Suid-Afrikaanse markte was nog altyd veerkragtig en reageer op ontwrigting in die finansiële markte, deels weens die sterkte van sy finansiële instansies en ook omdat die Suid-Afrikaanse publieke toenemend bewus en gefokus raak op ‘die regte ding doen’, etiek en die noodsaaklikheid van goeie bestuur,” het Agulhas gesê.

Die Irba het gesê hy moedig owerhede en liggame aan om gelyke aandag aan die onafhanklikheid van bestuurstrukture te gee, hoewel dit nog altyd gewaarsku het dat meer aandag aan ouditeur-onafhanklikheid gegee moet word.

“Hoewel die ouditeursberoep meestal dienste van hoë gehalte lewer, is dit ook tyd vir reguleerders om beslissend, samehangend en ferm op te tree teen dié wat by wangedrag en oortredings betrokke raak,” het Agulhas gesê.

“Dit is die enigste manier waarop die publiek die vertroue kan hê dat enige versekering wat hulle ontvang, voldoende betroubaar is om hul swaarverdiende beleggings te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Delloitte is al miljoene in VSA beboet… Nie so “above board” soos wat almal wil glo nie!

Fourie ·

Dis hoog tyd dat ouditeursfirmas in hierdie land ondersoek word, van die grootste tot die kleinste. Almal van hulle laat maar op een of ander wyse sous deurloop. As ouditklerk baie jare gelede, het ek al ervaar dat van die duidelik ongerymde transaksies wat ek in my toetsing opgetel het, net eenvoudig geïgnoreer was en ongekwalifiseerde ouditverslae uitgereik was.

Boy van die Suburbs ·

Stem! KPMG en nou Deloitte. Mag die ander vinnig volg…..

Eish ·

Ek het ook hierdie spesmaas. Die geraamtes in die kas spesmaas.
Ek dink Deloitte wou die die finansiele verslag goedkeur nie oor die KPMG debakel.
Ek dink op die einde van die dag weeg sommige van hul etiek teen inkomste op.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.