Steinhoff se hoof bedank

Argieffoto: ANA

Markus Jooste, uitvoerende hoof van Steinhoff International, het Dinsdag bedank.

Steinhoff het Woensdag Jooste se bedanking bevestig en gesê die maatskappy het gevra vir ʼn ondersoek na beweerde oudit-onreëlmatighede.

“Nuwe inligting het vandag aan die lig gekom wat verband hou met rekeningkundige onreëlmatighede wat verdere ondersoek verg. Die toesighoudende raad, in konsultasie met die statutêre ouditeurs van die maatskappy, het PricewaterhouseCoopers (PwC) gevra om ʼn onafhanklike ondersoek te doen,” het die maatskappy gesê.

Reuters het verlede maand berig Steinhoff International het glo nagelaat om beleggers in te lig omtrent transaksies van byna $1 miljard met verwante maatskappye ondanks wetgewing wat volgens sommige kenners dit vereis.

Die raad het Jooste se bedanking met onmiddellike effek aanvaar.

Steinhoff het gesê hy sal sy geouditeerde gekonsolideerde finansiële state vir 2017 publiseer wanneer die maatskappy in ʼn posisie is om dit te doen. “Daarbenewens sal die maatskappy bepaal of enige finansiële state van vorige jare hersien moet word.”

Die toesighoudende raad het die voorsitter, Christo Wiese, as uitvoerende voorsitter op ʼn tydelike basis aangestel. Pieter Erasmus sal hom in ʼn raadgewende hoedanigheid bystaan om die groep se verskillende kleinhandelbelange reg oor die wêreld te bestuur.

Steinhoff, wat sy oorsprong in Duitsland het maar in Suid-Afrika gebaseer is, is ʼn globale meubel- en huishoudelike goedere- handelaar met meer as 40 handelsmerke in meer as 30 lande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Ek wens politiek het so gewerk. Nadat die onheilighede op die lappe gekom het, het dié aandeelprys met 51% geval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.