Steinhoff-skandaal: ‘Ek het niks verkeerd gedoen’

Argieffoto: ANA

Steinhoff se voormalige finansiële hoof het Woensdag aan LP’s gesê opgeblase winste, bates wat teen opgeblase waardes verkry is en die feit dat Steinhoff nie ʼn enkele ouditeur gehad het nie was die rede vir die rekeningkundige skandaal wat die maatskappy se aandeleprys in duie laat stort het.

Ben la Grange het Woensdag voor die parlement se staande komitee oor finansies en openbare rekeninge getuig oor die Steinhoff-skandaal wat verlede jaar skokgolwe deur die sakewêreld gestuur het.

La Grange het aan LP’s gesê hy dink nie hy het oortree nie, ondanks die feit dat hy verlede week uit sy konsultantposisie geskors is. “Van my kant af dink ek nie ek het enigiets verkeerd gedoen nie,” het hy gesê.

Oor die opgeblase winste het La Grange gesê ʼn aankopemaatskappy wat skynbaar in wese nie werklik bestaan het nie en befonds is deur ʼn lening van Steinhoff, is opgestel.

“Wat daar gebeur het, was dat daar hierdie aankopemaatskappy was en hierdie aankopemaatskappy het bykomende rabatte aan bedryfsmaatskappye betaal, daarom het die maatskappy wins getoon wat deur sy inkomstestaat gekom het.”

Hy het toe vinger gewys na Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, wat tans strafregtelik ondersoek word.

La Grange het gesê bates is teen opgeblase waardes verkry deur derdepartye “wat beïnvloed is deur die vorige uitvoerende hoof”. Hy het gesê hy het geglo dié partye is onafhanklik en die transaksies is geldig, maar dink nou die partye is deur Jooste beïnvloed.

La Grange het in Januarie uitgetree as finansiële hoof, ʼn maand nadat Jooste bedank het. Hy het egter aangebly as konsultant vir Steinhoff-maatskappye in Frankryk en die VSA. Sy skorsing uit dié posisie is deur die Steinhoff-raad en -bestuur bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Ek vind dit werklik vreemd dat almal dom pleit en Jooste as die Asàselbok uitmaak. Met n direksie wat die beste breinkrag in die land verteenwoordig het, het die goed ongesiens verbygesnel?
Ongetwyfeld het Jooste as flambojante en charismatiese despoot baie vermag, maar dat niemand onraad vermoed het nie dui op oorgerustheid en verseker pligsversuim.
Of medepligtigheid, wat op die keper beskou die waarskynlikste is.

AgAsseblief ·

En ons moet die bollie glo? Twak man, hierdie mense was veronderstel om presies te weet wat aangaan. Hulle is dan mos geleerd en het jare se ondervinding? Ek wonder of die publiek ooit die waarheid sal weet van wat gebeur het?

zoom zoom ·

Net soos ons nooit ‘n skuldige in die zuma en gupta en kaders van stastskorrupsie gaan sien tronk toe gaan nie net so sal ons nooit iemand in die Steinhoff debakel sien tronk toe gaan nie.

IK ·

‘ . . . ‘n aankopemaatskappy wat skynbaar in wese nie werklik bestaan het nie . . . ‘ Ja ook ek glo aan spoke en vye is pêrebolle.

Anita ·

Al hierdie manne was op universiteit, is goed bekend met die finansiële wêreld, dat Jooste die grootste manipuleerder was a.g.v. sy wyse om mense te oorreed is verstaanbaar, maar almal van hulle was betrokke en het elkeen ‘n fortuin gemaak en op die rug van bejaardes se fondse, Die persone wat die fondse by hulle belê het moet ook verskyn en ondersoek word, want hulle het groot kommisies ontvang op die belegging. Die opbrengste moet gekonfiskeer word, ook die eiendomme, en almal het fondse in die buiteland want die meeste maatskappye was in Nederland geregistreer vir belasting ontduiking, almal moes jaarlikse verslae van ouditeure sien’ nagaan, saamstem, en teken.
Hierdie manne het saam sonder skoom hulle self verder verryk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.