‘Steinhoff-skandaal moet beleggers nie afskrik’

finansies-geld-sente-rand-beleggings

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Beleggers moenie bang wees om in aandele te belê nie ondanks die Steinhoff-skandaal.

Volgens Dawie Klopper, ʼn welvaartbestuurder by PSG Konsult, is sommige beleggers nou skrikkerig vir die aandelemark weens die omvang van die skandaal.

Klopper sê aandele is nie riskant nie, maar aandeelpryse is wel wisselvallig. As beleggers ʼn aandeel koop, koop hulle inderwaarheid ʼn stukkie van ʼn maatskappy.

Klopper sê beleggers moet navorsing oor ʼn maatskappy doen. Indien beleggers na die finansies gekyk het en seker maak dat hulle nie te duur vir ʼn maatskappy se aandele betaal nie, kan hulle maar koop. Beleggers moet egter die aandeel koop met die veronderstelling dat hulle dit nie weer sal verkoop nie.

Klopper sê in die lig van die Steinhoff-inploffing is dit natuurlik ook voor die hand liggend dat mens die geouditeerde syfers moet kan vertrou. Hy maan ook dat beleggers ʼn mening oor die bestuur van ʼn maatskappy moet kry en vorm. “Verder moet hulle kyk na die industrie waarin die maatskappy bedrywig is en besluit of dit iets is wat in die toekoms sal groei.”

Klopper sê hy dink kwessies soos stygende wins per aandeel is belangrik asook opbrengs op kapitaal. Opbrengs op kapitaal moet hoër wees as die koste van kapitaal.

Dan moet die vlak waarteen die aandele verhandel ook billik wees gegewe die alternatiewe beleggingsopsies wat beskikbaar is se opbrengs. Tans is rentekoerse laag en daarom kan jy dalk meer vir aandele betaal as wat die geval sou wees as rentekoerse hoog is, sê hy.

Volgens Klopper is daar resepte vir sukses op markte. Die sluit in die aankoop van gehalte-aandele en/of -fondse. Hy maan egter om dit vir die lang termyn te hou.

Hy waarsku dan ook dat beleggers nie paniekerig moet raak as markte begin daal nie. Klopper sê nog ʼn resep vir sukses is om te diversifiseer en beleggings in die buiteland én binneland te doen.

Volgens Klopper is markkenners wat beleggers van raad voorsien van sleutelbelang. Hy sê aspekte waarna beleggers moet kyk, is:

  • Kan jy die raadgewer vertrou?
  • Hoe ervare is die raadgewer?
  • Hoe word die raadgewer vergoed? Is daar kommissie ter sprake aangaande fooie of ʼn kombinasie van al twee?
  • Het die raadgewer my belange en behoeftes aangespreek?
  • Tref ʼn onderskeid tussen prestasiefooie (wat teoreties goed klink maar nie is nie) en gewone fooie.
  • Wat word aangebied in ruil vir die raad?
  • Hoe lyk en hoe gereeld is die terugvoering nadat die belegging gedoen is?

Klopper sê as beleggers dié stappe nougeset volg, kan hulle verseker wees van sukses op die aandelemark.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HPV ·

Zuma en die ANC skrik die beleggers af. Elke keer as Zuma sy mond oopmaak daal die Rand. Hy het duisend keer meer skade aan die ekonomie aangerig as Steinhoff en dit is ‘n feit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.