Steinway-pianis ‘oorstelp’ oor skenkings vir stemtoerusting

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

“Ek is heeltemal oorstelp.”

Só sê die bekende pianis Charl du Plessis nadat genoeg geld deur ʼn skarefinansieringsveldtog ingesamel is om sy gesteelde klavierstemtoerusting te kan vervang. Binne etlike dae nadat Du Plessis se goeie vriendin, Sophia Kapp, die finansieringsveldtog op Back-a-Buddy van stapel gestuur het, is die R60 000 wat nodig is om sy stemtoerusting te vervang, ingesamel.

Maroela Media het vroeër berig Du Plessis het verlede Dinsdag ʼn musiekrepetisie by sy huis gehad. Hy het sy gaste in die motorhuis laat parkeer en het sy eie motor, ʼn Volkswagen Polo, buite geparkeer. Hy parkeer dikwels buitekant as daar nie genoeg parkeerplek in die erf is nie.

Binne 15 minute nadat hy sy motor buite geparkeer het, is dit gesteel. Sy duur stemtoerusting was in die motor se bagasiebak.

“Ek is so dankbaar vir elkeen wat tot die veldtog bygedra het. Ek kan nie glo hoeveel mense se harte en beursies vir my in hierdie moeilike tyd oopgegaan het nie,” het Du Plessis aan Maroela Media gesê.

“Ek is eintlik nog in ʼn toestand van skok, want alles het so vinnig gebeur. Voordat ek besef het wat aangaan, het mense my klaar te hulp gesnel.”

Die stemtoerusting, wat nou in die hande van die vermeende motordiewe is, is ingevoer uit Duitsland en die VSA. Hierdie spesifieke toerusting is volgens die klavierstemmer se spesifikasies vervaardig en is nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Van die toerusting moet nou weer vervaardig word.

Du Plessis sê hy het gister (Dinsdag) van die toerusting vanuit Duitsland en die VSA bestel. Hy kon egter nog nie alles in die hande kry nie.

Kapp het vroeër vertel sy het die veldtog begin omdat sy besef dat hy met die inperkingstyd as kunstenaar swaar getrek het en dat enige hulp hom oneindig baie sou baat. Du Plessis is ook ʼn goeie vriend en hy het vantevore al baie vir haar beteken.

“Ek is so verstom en baie dankbaar teenoor elkeen wat gehelp het. Ek het nooit gedink ons gaan die teikenbedrag so gou bereik nie, maar dit is vir my ʼn teken van hoe geliefd Charl is en hoeveel mense deur sy musiek geraak is,” sê Kapp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ABDP ·

Mag daar lieflike note uit die klaviere klink wat hy stem. Ek self ‘n groot aanhanger!

Johan ·

Ek is baie bly dat dit goed af geloop het, maar wonder tog hoe het hy dan nie sy goed verseker nie.

AJ ·

Skakel Cash Crusaders, dit sal binnekort daar beskikbaar wees…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.