Steinway-pianis se motor, stemtoerusting gesteel

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

Die bekende pianis Charl du Plessis was verslae nadat sy motor Dinsdagoggend voor sy huis in Colbyn in Pretoria gesteel is. Hoewel sy motor vervangbaar is, is dié Steinway-pianis meer bekommerd oor die sowat R60 000 se klavierstemtoerusting wat in die motor se bagasiebak was.

“Ek kan my motor, bril en skootrekenaar in ’n japtrap vervang, maar dié toerusting kan jy nie sommer oornag aanskaf nie,” vertel Du Plessis.

Volgens Du Plessis het hy die middag ’n musiekrepetisie by sy huis gehad. Hy het sy gaste in die motorhuis laat parkeer en hy het sy motor, ’n Volkswagen Polo, buite parkeer.

“Ek parkeer dikwels buitekant as daar nie genoeg parkeerplek binne die erf is nie. Colbyn is ’n lieflike residensiële gebied, waar mense gereeld buite stop omdat hulle so gerus voel. Hierdie was nou ’n uitsonderlike geval.”

Du Plessis sê 15 minute nadat hy sy motor buite geparkeer het, het sy tuinier hom geroep en gesê hy sien nie meer sy motor nie.

“Ons was in die middel van die repetisie toe die tuinier my kom roep het. Ek het dadelik gedink: Wow, nou is my kar gesteel. Dit is die heel eerste keer in my lewe dat my kar gesteel word. Jy kry so ʼn gevoel binne jou wat jy nie weet hoe om te hanteer nie.

“Ek het dadelik begin dink aan wat alles in my kar was. Ek het onthou dat my bril en skootrekenaar in die kar was. Ek het eers ’n dag later met ’n skok besef my duursame stemtoerusting was ook in die kar.”

Du Plessis het dadelik die polisie ontbied en hy het ’n verklaring afgelê. Kapt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die motor is ook nog nie opgespoor nie.

Du Plessis, wat ’n wêreldberoemde pianis is, het tydens die afsonderingstydperk klaviere begin stem. Hy het dit aanvanklik as ’n stokperdjie gedoen, maar het later gesien hy maak ’n goeie aanvullende inkomste daaruit. Weens die afsonderingstydperk het musiekvertonings maande lank nie plaasgevind nie en kunstenaars het ook sonder hul hoofbron van inkomste gesit.

“Die inperkingstyd was eintlik op só ʼn manier ’n bedekte seën waar ek toe tyd gekry het om te leer om klaviere te stem.”

Die stemtoerusting, wat nou in die hande van die vermeende motordiewe is, is ingevoer van Duitsland en Amerika. Hierdie spesifieke toerusting is volgens die klavierstemmer se spesifikasies vervaardig en is nie in Suid-Afrika bekombaar nie.

“As jy nie weet wat om met hierdie toerusting te maak nie, is dit vir jou van geen waarde nie.”

Du Plessis se stemwerk staan vir eers stil en hy sal hierdie spesifieke toerusting weer van oorsee af moet aanskaf. Hy het intussen verskeie pandjieswinkels gekontak en foto’s van sy toerusting gestuur indien die diewe dit daar wil verkwansel. Hy gaan kyk ook gereeld by aanlyn winkels wat tweedehandse goedere adverteer, soos Olx, Gumtree of advertensieplatforms soos Facebook Marketplace, of hulle dit nie al daar probeer adverteer het nie.

Buiten die toerusting besef Du Plessis hy sal nou vir hom ’n nuwe motor moet aanskaf. Hy ry al die afgelope 15 jaar met sy Volkswagen en het baie op die motor staatgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.