‘Stel plaaslike verkiesings uit’ – verslag

Argieffoto (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die plaaslike verkiesing wat landwyd op 27 Oktober gehou word, moet na volgende jaar uitgestel word weens die Covid-19-pandemie.

Só het voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke Dinsdag tydens ʼn inligtingsessie in Centurion voorgestel. Moseneke het namens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ʼn ondersoek gelei om te bepaal of die komende plaaslike regeringsverkiesing te midde van die Covid-19-pandemie vry en regverdig in Oktober kan voortgaan.

Moseneke het tydens die inligtingsessie ʼn verslag wat die bevindinge ná dié ondersoek saamvat, aan die OVK se voorsitter, Glen Mashinini, oorhandig. Die OVK gaan die verslag bestudeer en dan ʼn besluit neem of hy die verslag gaan aanvaar of nie. Die verslag sal ook later aan die publiek bekendgestel word.

In die ondersoek is voorleggings deur politieke partye en ander belanghebbendes oorweeg en daar is ook gekyk na die wetlike, sosio-politieke, gesondheid- en praktiese oorwegings rakende die verkiesing.

Ervarings van ander Afrika-lande, waar onder Malawi, Kenia en Tanzanië, asook lande soos die VSA en Indonesië, waar verkiesings suksesvol te midde van die pandemie gehou is, is ook onder die loep geneem.

Moseneke dui in die verslag aan dat die verkiesing tot nie later as Februarie 2022 uitgestel moet word nie.

“Die OVK is vol vertroue dat hy die verkiesing in Oktober kan aanbied, maar indien verkiesings in Oktober vanjaar plaasvind, sal dit nie vry en regverdig wees nie. Daar is nog teveel gevare wat gepaardgaan met die aanbied van byeenkomste wat groot getalle mense byeenbring. Die risiko rondom die verspreiding van Covid-19 sal teen Oktober ook nog te hoog wees,” het Moseneke gesê.

Moseneke het ook gesê politieke partye is verdeeld oor of hulle vrylik en regverdig ingevolge die huidige Covid-19-regulasies stemme sal kan werf. Die meeste partye is van mening dat die verkiesing moet voortgaan, hoewel sommige kommer gelug het oor die beperkings wat tydens die stemwerwery sal geld.

Volgens Moseneke sal Covid-19-regulasies van politieke partye en onafhanklike kandidate vereis om hul tradisionele strategieë aan te pas. Hy sê registrasies wat vir 31 Julie tot 1 Augustus geskeduleer is, word ook belemmer deur die huidige Covid-19-regulasies.

“Politieke partye en onafhanklike kandidate moet voluit en effektief aan die verkiesing kan deelneem en dit beteken dat hulle hul politieke boodskap aan hul gekose kiesers moet kan oordra.”

Volgens Moseneke loop partye ook die risiko dat kiesers in Oktober besluit om nie te gaan stem nie weens die Covid-19-pandemie.

Moseneke het aangedui dat sy span tydens die ondersoek nege mediese kenners se menings oor die kwessie gewerf het. Meeste van die kenners het aangedui dat dit moeilik is om te voorspel hoe die stand van sake rondom die Covid-19-infeksies teen Oktober gaan lyk.

Kenners het egter gesê dit sal veiliger wees om die verkiesings in Februarie te hou omdat infeksies moontlik laer sal wees en meer mense teen dan al ingeënt sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Goed en wel. Stel die verkiesing uit MAAR dan moet GEEN raadslid, burgemester of LP enige vergoeding kry vanaf die datum wat die verkiesing gehou SOU word tot die verkiesing nie,. Na my mening is hierdie net n rookskerm sodat politici langer hulle onverdiende hoë vergoedingspakette kan kry.

JohanR ·

Dink die enigste party wat net te bly sal wees as die verkiesing uit gestel is is die ANC. Moet daai maande gebruik om die land te oortuig dat hulle is nie ‘n klomp idiote!

Jack ·

Die ANC en EFF sal dit verwelkom. Hulle sal hoop dat mense teen daardie tyd vergeet het dat hulle die oorsaak van al die huidige onluste was. Die gevaar is egter dat teen daardie tyd die volgende vlaag onluste al weer kon uitgebreek het. Die enigste ding wat hulle sal kan help is algehele beleidsveranderings, iet wat totaal vreemd aan hulle geaardheid is.

Pieter ·

Die ANC kommuniste raak bang hulle sal seker maak daar is nie n verkiesing nie

B-Man ·

Ontevrede mense moet dadelik stem voor hulle later vergeet hoe kwaad hulle vir die regering was, na een bord kos en ‘n verkiesings-T-hemp.

SjN ·

Ek laat my nie vertel met die huidige tegnologie kan aanlyn stemmings ens plaasvind nie, klomp sit net daar vir die meevaller elke maand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.