Stella-boer en medebeskuldiges in hof oor aanranding, moord

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 48-jarige boer van Stella, sy vrou en vyf ander verdagtes het Vrydag in die Vryburg-landdroshof in Noordwes verskyn op aanklag van moord, twee aanklagte van poging tot moord, aanranding en ontvoering.

“Tigwinita Luwantu (48), sy vrou Lindiwe Mphatani (39), en hul vriende Moipolai Mmastoki (54), Lehula Kedibone (37), Simphiwe Cele (31), David Plaatjie (43) en Thatafalo Kibane (18) het na bewering drie mans ontvoer en aangerand. Een van die mans is dood en twee ander is ernstig beseer,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die drie mans is daarvan beskuldig dat hulle vee op Tigwinita se plaas in Soutpansfontein naby Stella gesteel het.”

Maroela Media het vroeër berig 10 persone is Woensdag in hegtenis geneem in verband met die voorval. Drie persone is later vrygelaat. Van die drie persone wat vrygelaat is, kon een nie positief met die voorval verbind word nie en twee is minderjarig, onderskeidelik 14 en 16 jaar oud.

Die groep het die drie mans glo Dinsdag met knopkieries aangerand en kookwater oor hulle uitgegooi.

“Na bewering het die drie slagoffers in die veld geloop en hout gesoek toe die groep hulle voorgekeer het,” het Ramaloko bygevoeg. “Een van die slagoffers het aan sy beserings beswyk en twee sterk aan in die hospitaal.”

Die beskuldigdes moet op 4 November weer in die hof verskyn om aansoek te doen om borgtog. Hulle bly in aanhouding.

“Die familie van die oorledene het Stella-polisie daarvan beskuldig dat hulle betrokke was in die aanranding nadat hulle by die toneel opgedaag het,” het Ramaloko bygevoeg. Genl.maj. Jacob Tsumane, waarnemende provinsiale kommissaris, het die familie gerusgestel dat hulle definitief die bewerings sal ondersoek. “Ek het ʼn span gesoute speurders aangestel om die saak te ondersoek,” het Tsumane gesê. “Indien daar enige redelike gronde bestaan dat die polisie moontlik betrokke was by die aanranding, sal hulle aanspreeklik gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Skim ·

Hier is dit duidelik dat swart boere ook gatvol is vir misdaad!

Sumari ·

Ek stem saam Skim, nou word die arme mense aangekla oor ‘n klomp wat nie eers op hulle grond mos wees nie. Wat de joos het hulle inelkgeval by hulle plaas gesoek?

Jan maak n Plan ·

Hout gesoek se voet. Hulle het kom vee steel. As hulle regtig hout gesoek het sou hulle nie pakslae gekry het nie. Wys jou alle boere is moeg vir die wetteloosheid.

Natascha ·

Ja nee, die polisie in die land doen niks om die boere of mense te beskerm nie, maar as hul hulself wil verdedig word hul behandel soos n kriminele. EK STAAN AGTER DIE GESIN.
Moet ons dan eers dood gemaak word voor ons onsself mag verdedig. NEE wat dis ook my reg om te baklei vir my familie. Sou hul die gesin skade berokken het of self gedood het sou hul met n paar rand borg los gekom het net om weer te gaan moor en seermaak.

GES ·

In die geval het hulle hout gesoek maar normaalweg soek hulle werk as hulle op verbode terein betrap word. Baie goeie teken as die swart boere ook begin keelvol raak. Sou ‘n blanke boer reageer word die rassekaart gespeel.

Fj ·

Sterkte vir die boer. Almal is moedeloos vir die wetteloosheid.

Gjorg ·

Hemel mense, hulle het kookwater oor hulle gegooi en julle verdedig hulle? As die kookwater op witmense gegooi was het almal gesê hoe barbaars dit is. Julle lot is flippen skynheilig man! Ek is raadop….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.