Stella-koshuismoorde: ‘Gemeenskap is donkerder sonder julle glimlagte’

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Die bestuur by Hoërskool Stella het Maandag hulde gebring aan Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) wie se liggame Saterdag in die skool se koshuis gevind is.

Maroela Media het vroeër berig die meisies, albei in gr. 11 by dié hoërskool op Stella in Noordwes, was veronderstel om Saterdagoggend die skoolbus te haal om netbal op Koster te gaan kyk.

“Die koshuismoeder het na hulle gaan soek en die 17-jarige meisie [Sharnelle] aan die trapreling sien hang. Die polisie is ontbied en die 16-jarige meisie [Marna] se liggaam is in die badkamer aangetref. Sy is moontlik verwurg en daar was ʼn tou om haar nek,” het lt.kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder, aan Maroela Media gesê.

Xander Bylsma (19), Sharnelle se eks-kêrel en voormalige leerder aan dié skool, is dieselfde dag wat die meisies liggame gevind is op aanklag van moord in hegtenis geneem. Hy het Maandag vlugtig in die hof verskyn. Die saak is tot 6 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding. Dit is nog nie duidelik wat die motief vir die moorde was nie.

“In die Afrikaanse klas leer leerders vir eksamendoeleindes hoe om ʼn huldeblyk te skryf. Moet ʼn mens dit self doen oor twee werklike, pragtige kinders, is dit egter ʼn heel ander saak,” lui die huldeblyk op die skool se amptelike Facebookblad.

“Dit is met soveel hartseer en trauma wat Hoërskool Stella vir Marna en Sharnelle groet. Ons koester ons herinneringe aan twee lewenslustige, glimlaggende meisies.

“Ons het nooit vir een oomblik gedink dat hulle saam op so ʼn onnodige manier van ons weggeneem sou word nie. Tog is ‘saam’ vir ons ʼn vertroosting, aangesien daar min kinders is wat so ʼn hegte vriendskap gehad het soos Marna en Lallie. Ons harte gaan uit na die families betrokke.

Marna Engelbrecht en Sharnelle Hough. Foto: Via Facebook

“Marna en Sharnelle, ons eer jul nagedagtenis. Ons gaan julle mis. Ons hele gemeenskap is armer en donkerder sonder julle pragtige glimlagte.”

Die skool het ook Maandagoggend ʼn spesiale gedenkdiens vir Marna en Sharnelle gehou.

Intussen het Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, haar skok en hartseer oor die “sinnelose moorde” uitgespreek.

“Ons sien te veel van ons jong vroue wat aan die hande van hul kêrels of voormalige kêrels vermoor word. Dit is skokkend en diep ontstellend,” het Motshekga gesê.

Motshekga het gesê sy is bly die polisie het alreeds die verdagte in hegtenis geneem en hoop dat geregtigheid in hierdie saak sal geskied.

Die minister het gevra vir ʼn volledige verslag van die provinsiale departement van onderwys oor die omstandighede wat tot die tragiese voorval gelei het en hoe die vermeende moordenaar toegang tot die koshuis verkry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lelanie ·

Hoe was daar niemand om of naby hulle nie.. dis n koshuis!!!… Hoe het niemand hulle gehoor nie!? Ek verstaan nie hoe hy een meisie kon hang en die ander in n badkamer wurg sonder enige iemand hoor nie.. Hoe moet enige iemand weer veilig voel daar? Geen skool of koshuis is meer veilig nie en ouers weet feitlik niks wat WERKLIK daar binne aangaan nie.. Dis rerig hartseer en ek dink aan die familie. x

Bok Bok ·

Lees die berig mooi.
Dit was ‘n koshuis naweek waar byna alle kinders huis toe is.
Die twee meisies was in die koshuis om te gaan netbal op koster!

Mamma van Tiener meisie ·

Mamma’s leer asb julle dogters dat 15,16 jaar te jonk is vir ernstige verhoudings. Hulle is nog kinders en daar is baie tyd later vir grootmens dinge. Ken AL jou kind se vriende en weet wat aangaan in jou meisiekind se lewe. Luister en gee raad, maar bo alles bid vir jou kinders. Die HERE gee raad en rigting.

LORRIE ·

Ek stem saam met Mamma van Tiener meisie – lee jou tieners om te wag met verhoudings en te wag op die Here. My seun is al 20 jaar oud hierdie jaar en is nog glad nie in n vaste verhouding nie. Hy kyk na mooi meisies het n foto van n oulike tiener op sy cell foon maar dis al. Ek was 30 ek sy Pa ontmoet het en was 32 toe hy gebore is, bid vir jou kinders want net die Here kan hulle vashou. Die Here luister na die gebed van n Moeder

Denise ·

Nee Leser Lorrie is glad nie naief nie daar is n tyd vir alles jong mense moet hul jong lewe geniet en net baie goeie vriende he !!!! Vir my is dit baie hartseer hulle was twee pragtige meisies sterkte aan die families en sterkte aan die seun se ouers !!!!!

Ek sê net ·

Jy kan jou kinders maar leer soos jy wil. Ek is goed groot gemaak, maar ek het al goed gedoen waarvan my ouers salig onbewus was. So ja ek sou ook se jy is naief LORRIE

Abe ·

Dankie aan Maroela vir n deeglike berig met insiggewende foto’s. Ook met opvolg inligting.

Ekke ·

Die lewe is nie maklik nie. My seun is ordentlik groot gemaak, maar hy het paar wilde draaie gegooi voor hy rustiger geword het. Mens kan jou kind regards groot maak, maar kan nie 24/7 hulle oppas nie. So dit is maar naief om te dink jou kind is ‘n engeltjie. Dit is bitterlik hartseer dat drie families verwoes is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.