Stella-koshuismoorde: ‘Meisies was daardie aand alleen’

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough. Foto: Via Facebook

Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) was Vrydagaand glo alleen in die koshuis by die Hoërskool Stella toe hulle vermoor is.

Die meisies, albei in gr. 11 by dié hoërskool op Stella in Noordwes, was veronderstel om Saterdagoggend die skoolbus te haal om sport op Koster te gaan kyk.

Freddy Sepeng, woordvoerder van die provinsie se departement van onderwys, het Dinsdag aan Maroela Media gesê om dié rede het die meisies met die skool gereël om in die koshuis oor te slaap terwyl die ander koshuismeisies vir die naweek huis toe was.

Kapt. Charlize van der Linden, woordvoerder van die Stella-polisie, het aan Maroela Media verduidelik die koshuis by die hoërskool is in twee vleuels verdeel, een vir seuns en een vir meisies.

“Die seuns het in die koshuis oorgebly vir die volgende dag se sport, maar die twee meisies was alleen in hul gedeelte van die koshuis,” het Van der Linden gesê. “Die koshuismoeder was wel daar, maar sy beweer die meisies het haar versoek om die veiligheidshek vir hulle oop te los aangesien hulle glo gewag het vir iemand om vir hulle klere te bring.”

Sharnelle en Marna is Saterdag vermoedelik tussen 02:00 en 03:00 vermoor.

Toe hulle nie die oggend die bus haal nie, het die koshuismoeder na hulle gaan soek en op Sharnelle se liggaam afgekom waar sy aan ʼn nylontou aan die trapreling hang. Die polisie is ontbied en Marna se liggaam is in die badkamer aangetref. Sy is moontlik verwurg en daar was ʼn handsakband om haar nek.

Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur om vas te stel of vuilspel betrokke was, maar dit is spoedig na moord verander. Die enigste verdagte tans in die ondersoek, Xander Bylsma (19), is dieselfde dag by sy huis in Stella in hegtenis geneem. Bylsma en Sharnelle was voorheen in ʼn verhouding, maar het uitgemaak.

Sedert die voorval het verskeie besorgde ouers met Maroela Media kontak gemaak om hul kommer oor die veiligheid en toesig by die koshuis te deel. Volgens die ouers word die veiligheidshekke glo nooit gesluit nie. Daar was glo ook Vrydagaand ʼn “raserige partytjie” in die seuns se koshuisvleuel.

Sharnelle Hough en Xander Bylsma . Foto: Via Facebook

Sepeng het egter aan Maroela Media gesê daar is genoegsame veiligheid en toesig by die skool. “Deur die week is daar veiligheidswagte, maar aangesien die koshuisinwoners oor naweke huis toe gaan, is daar oor naweke nie wagte nie. Die verdagte was ook voorheen ʼn leerder aan die hoërskool. Hy ken die skool baie goed en weet hoe om ongesiens daar rond te beweeg,” het Sepeng gesê.

Sepeng het gesê die departement ondersteun die polisie in hul moordondersoek en het ook sy eie afsonderlike ondersoek oor die veiligheidskwessies by die skool van stapel gestuur.

Volgens Sepeng gaan Sello Lehari, die provinsie se LUR vir onderwys, Dinsdag ʼn besoek by die skool aflê.

Intussen het Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, haar skok en hartseer oor die “sinnelose moorde” uitgespreek.

“Ons sien te veel van ons jong vroue wat aan die hande van hul kêrels of voormalige kêrels vermoor word. Dit is skokkend en diep ontstellend,” het Motshekga gesê.

Motshekga het gesê sy is bly die polisie het reeds die verdagte in hegtenis geneem en hoop dat geregtigheid in hierdie saak sal geskied.

Die minister het gevra vir ʼn volledige verslag van die provinsiale departement van onderwys oor die omstandighede wat tot die tragiese voorval gelei het en hoe die vermeende moordenaar toegang tot die koshuis verkry het.

  • Bylsma het Maandag vlugtig in die Vryburg-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord. Hy het nie om borgtog aansoek gedoen nie en die saak is tot 6 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding. Dit is nog nie duidelik wat die motief vir die moorde was nie.

Xander Bylsma (19). Foto: Via Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Hennie ·

Gaan lees die vorige berigte. Hyt ook erken en wat sal die rede wees dat hy nie vir borgtog aansoek doen nie. Hou hom daar binne!

Hannelie ·

So so onnodig. Mag die skuldige vir jare sit. Baie sterkte aan die twee families, sulke pragtige jong meisiekinders.

Anoniem ·

Slegs twee meisies in die koshuis, geen veiligheidswagte en die koshuismoeder los die veiligheidshekke oornag oop? Nee gits, mens doen dit nie in ‘n land soos Suid-Afrika nie!

Jenique ·

My vraag is hoe het hy geweet waar hulle is. Daar moes seker iewers kommunikasie gewees het?

kas ·

Naweke is daar nie veiligheidswagte nie want dan daan die kinders huistoe.Hulle het oorgebly om Saredag in Koster te gaan netbal kyk.Die meisies het die koshuismoeder versoek om die hek oop te los aangesien iemand vir hulle klere sou bring.Jenique se vraag moet beantwoord word maar was die iemand nie Xander gewees nie.Die motief bly ‘n raaisel.

Maryna Wood ·

My hart gaan uit na die ouers van die twee meisies. Ons seun Richard Wood is in Nov 2017 deur twee van sy sogenaamde vriende vermoor. Hulle is op 23 Jan 2018 gearresteer vir sy moord. Ons het soveel vrae maar so min antwoorde. Die saak kom nou weer op 20 Jun in Pretoria Noord hof voor. Ek hoop ons almal sal eendag vestaan hoekom.

Theresa ·

Baie sterkte. Dit is ‘n pyn wat niemand sal verstaan nie.

Iemand ·

Ek het gelees van die moord op jul seun. Dit is absoluut skokkend. Ek hoop dat jul antwoorde sal kry.

kas ·

Maruna,dit moes vir julle bair traumaties gewees het net om te hoor jul seun is dood.Veelerger nog om te hoor hy is vermoor en nog erger om te hoor sy vriende het dit gedoen.Dit het my as buitestaander erg geskok toe ek dit lees.Weet julle wat was die motief.

Yolande ·

Siestog Maryna. Ek is bewus van julle seun wat so erg aangerand is :-(

Klara ·

Hierdie hele storie is tragies.

Wat ek net nie kan verstaan, hoe laat die skool 2 meisies alleen slaap in koshuis? Hoe laat hulle kinders oor bly naweke as daar nie wagter aan diens is, boonop is daar partytjie gehou aan seuns kant? Waar is die onderwysers of enige toesig??

kas ·

Die deur was oop want iemand sou vir hulle klere gebring het.Wie was die iemand?was dit die moordenaar? Hulle is tussen 02;00 en 03;00 vermoor.Het die moordenaar later ingekom.Daar word nie gepraat van geforseerde toegang nie

Iemand ·

Ek self was in n koshuis en ons het allerhande slim planne gtehad on te sorg dat die deure in die aande oop is sodat ons kon uitglip. Wie weet, dalk het die meisies hom genooi om te gesels oor die verrhouding wat verby is…ek weet ek spekuleer nou. Ek kry die juffrou jammer. Sy voel seker baie skuldig nou. Maar ek weet ook hoe ek onderwysers on die bos gelei het en hul vertroue misbruik het. Kinders weet nie altyd aan watter gevare hul hulself blootstel nie. Die twee meisies sou seker nooit kon dink dat die jongman hul sou vermoor nie.

Ore ·

Mense,dink aan die seun se moeder.Die aangeleentheid is regtig onstellend maar om kwetsende aanmerkings te maak is ongevraagd.Natuurlik is die twee meisies se gesinne ook verpletter,maar wag liewer vir die feite voordat ons wat nog groen koring op die lande het vinger wys.

Helene Heyns ·

Ek stem met jou honderd persent saam Ore. Daardie ouerpaar is net so platgeslaan deur die gebeure. My hart gaan uit na aldrie ouerpare en ek bid vir krag en genade vir hulle. Sterkte.

LVH ·

Ek was nooit in ‘n koshuis nie, so weet nie regtig hoe dinge daar (veronderstel is) werk nie. Wat is die rol van ‘n koshuismoeder/vader? Is die persoon altyd aanwesig in ‘n koshuis? En in die geval noem ons dit nie ‘n veiligheidshek nie, want die sluit jy, vir veiligheid.

kas ·

Hulle is nie altwee gehang nie net die een.Die ander een is in die badkamer gekry.

EBZ ·

Ongeag of die een gehang is, en die ander een verwurg is, bly my vraag steeds of hy dit alleen gedoen het – as dinge hand sou begin uitruk, sou die een meisie nie dalk vlug vir haar eie lewe nie, of ishulle vasgebind?

SNEL ·

Hartseer wat hier gebeur het. Dinge kon soveel anders gewees het as veiligheid by die koshuis in plek was. Hier is nie net die 2 meisies se ouers wat deur hel gaan nie, maar Xander lyk nie of hy uit n swak of slegte huis uit kom nie. Ek glo sy ouers is ook teen die grond. Geen ouer in hulle wildste drome sal dink dat hulle kind so iets sal doen of instaat is tot so iets nie. Sy ouers het hom beslis nie so groot gemaak nie. Ek dink al 3 die ouer pare is al leeg gehuil. Kan jul almal net opdra in gebed.

Maryna Wood ·

Dit is waar wat almal se oor al die ouers. Die een seun wat aangekla is in ons seun se saak is my een beste vriendin se seun. Ek ken die seun al van sy geboorte af en sy ma gaan deur hel. Ek gun niks van al hierdie dinge vir my grootste vyand nie. Ek weet daar is mense daar buite wat al hierdie ouers sal troos. Baie sterkte aan almal

Sjoe ·

Sjoe, Snel so jy reken as die koshuis gesluit was, sou dit nie gebeur het nie. Lees net gou Iemand se kommentaar, as jy kinders groot gemaak het, sal jy verstaan hul eksperimenteer en dan maak hul plannetjies. Hy wou dalk met haar uitpraat, ek dink regtig hy het onvermoee gehad om sy situasie te hanteer, baie mense se kommentaar is dat hy ‘n oulike seun sonder probleme was. Dit regverdig nooit wat hy gedoen het of wat gebeur het nie, hy is toegesluit, hy doen nie aansoek vir borg nie, hy gaan sy straf kry. Om die koshuis & koshuis Moeder te blameer is totaal verkeerd, hul kon nooit voorsien het dat hierdie seun daar sou kom kuier het nie. Ek stem egter saam agv die misdaadsyfer sou ek nooit vir ‘n kind of die se ouers gunsies gedoen het om ‘n deur oop te los nie, hul kon dit by haar gaan afgee het. Die arme vrou het ‘n duur les geleer van goedhartigheid kan snaakse lelike paaie loop en dit is sooo jammer, daar is soveel mense wat werklik vandag goedhartigheid nodig het en die tipe goed sal maak dat niemand, niemand meer vertrou nie.

christa ·

Het die ouers nie geweet hulle gaan daar alleen wees nie? Ek wonder darem hoe het die seun geweet hulle is daar. Natuurlik vir hom laat weet. Dit was seker ‘n vooraf beplande besoek. Kinders kan ouers baie bekommernisse gee en dis ‘n seer wat hulle altyd sal bybly. So jammer vir die ouers.

kas ·

EBZ,niemand sal ooit weet wat gebeur het nie.Ons sal moet wag vir die nadoodse ondersoeke om afgehandel te word.Vermoed jy daar was meer as een wat vir die meisies gaan kuier het en dat die moorde beplan was.Daar is net een wat weet wat gebeur het en hy sal moet verduidelik.Hulle is op afsonderlike plekke aangetref.Het die een meisie probeer weghardloop en in die badkamer oorval en toe verwurg na die ander meisie reeds opgehang was.Baie sterkte aan die familie van die twee meisies.

J ·

Ek verstaan Marna en die seun wat beskuldug word is verlangs familie.?? baie tragies R.I.P

Madeleine ·

Het niemand buite d koshuis of aan Die ander vleuel iets gehoor nie… vreemd..

Leeu ·

Soos bure wat nie hoor as n hele gesin afgemaai word nie? of soos in die op saak? of die breda saak?

M ·

Ek was n voog by n koshuis, wat diens gedoen het. StaalHekke en deure is al 18h gesluit…. niemand mag daar in of uit sonder d persoon aan diens se toestemming nie….

Rooikop ·

Die een koerant sê die meisies het alleen in die koshuis geslaap en Beeld sê daar was ander
kinders ook in die koshuis ………………….. wie se storie is nou reg ????????
Lyk my almal skryf hulle eie storie vir sensasie ……………..

kas ·

Die twee meisies was alleen aan hulle kant van die koshuis en die seuns was aan hulle kant van die koshuis,so daar was ander kinders in die koshuis maar nie ander meisies nie.Die ander meisies was huistoe vir die naweek.Die seuns het oorgebly vir sport die Saterdag.Verstaan jy nou Rooikop.

M ·

Dalk is hul oorval in hul slaap …. Als sal uitkom. Baie hartseer nuus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.