Stella-koshuismoorde: Xander in hof

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Xander Bylsma (19), die jong man wat aangekla word van die moord op die vriendinne Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) in hul koshuis op Stella, Noordwes, het Dinsdag vlugtig in die Vryburg-landdroshof verskyn.

Adv. Tembeka Mbadu, waarnemende woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het aan Maroela Media gesê die saak is oorgeplaas na die hooggeregshof in Mmabatho. “Bylsma moet op 6 Desember weer in die hof verskyn,” het sy gesê. “Dit sal ʼn voorverhoor-verskyning wees.”

Sou kon nie bevestig dat Bylsma skuld ontken het op aanklagte soos ander media berig het nie. Die klagstaat is vandag op Bylsma bedien.

Maroela Media het vroeër berig Bylsma se regspan het versoek dat hy vir sielkundige waarneming gestuur word. Die versoek is toegestaan en Bylsma is vir 30 dae sielkundige waarneming by die Sterkfontein-hospitaal verwys. “Hy is nog nie opgeneem vir waarneming nie. Daar is nog nie ʼn bed beskikbaar by die hospitaal nie,” het Mbadu bygevoeg.

Bylsma word sedert die moorde in die Rooigrond-gevangenis aangehou. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord: op sy eksmeisie Sharnelle en sy kleinniggie Marna. Die twee vriendinne was op 25 Mei vanjaar alleen in die meisieskoshuis by die Hoërskool Stella toe hulle vermoor is.

Die meisies, albei in gr. 11 aan dié hoërskool, was veronderstel om die Saterdagoggend die skoolbus te haal om sport op Koster te gaan kyk en het daarom met die skool gereël om in die koshuis oor te slaap terwyl die ander koshuismeisies vir die naweek huis toe was.

Xander Bylsma in die hof. Foto: Mia Spies/eNuus

Kapt. Charlize van der Linden, die voormalige woordvoerder van die Stella-polisie, het vroeër aan Maroela Media verduidelik die koshuis by die hoërskool is in twee vleuels verdeel, een vir seuns en een vir meisies.

“Die seuns het in die koshuis oorgebly vir die volgende dag se sport, maar die twee meisies was alleen in hul gedeelte van die koshuis,” het Van der Linden gesê. “Die koshuismoeder was wel daar, maar sy beweer die meisies het haar versoek om die veiligheidshek vir hulle oop te laat aangesien hulle glo gewag het vir iemand om vir hulle klere te bring.”

Toe hulle nie die oggend die bus haal nie, het die koshuismoeder na hulle gaan soek en op Sharnelle se liggaam afgekom waar sy aan ʼn nylontou aan die trapreling hang. Die polisie is ontbied en Marna se liggaam is in die badkamer aangetref. Sy is moontlik verwurg en daar was ʼn handsakband om haar nek.

Sharnelle en Marna is Saterdag vermoedelik tussen 02:00 en 03:00 vermoor.

Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur om vas te stel of vuilspel betrokke was, maar dit is spoedig na moord verander. Die enigste verdagte tans in die ondersoek, Bylsma, is dieselfde dag by sy huis in Stella in hegtenis geneem. Bylsma en Sharnelle was voorheen in ʼn verhouding, maar het uitgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

IK ·

My ouers het my vroeg in die lewe geleer dat jy nie alles gaan kry wat jy wil hê. Daar is ‘n goeie rede daarvoor en óf jy gaan dit verder in jou lewe uitvind óf nooit nie. Ook ek moes vrede maak met ‘n meisie wat my afgesê het, ‘n kar wat ek finansieel op daardie stadium nie kon bekostig, die dood van ons eerste baba. Maak vrede met jou omstandigheid en gaan aan met jou lewe. Bly weg van veglustigheid met vuiste en ander dinge soos moord en selfmoord. Dit is NIE die oplossing!!!!!!
KRY DAN HULP want onthou dat jy in God se oë uniek is want vóór jou was en ná jou sal daar nie iemand geskape word soos jy.

lolla ·

ek verstaan net nie hoe kon die huismoeder nie die deur sluit as dit die reel is nie…. as daar kinders in die koshuis is moes sy mos daar bly….. as daar kinders in die vleuel langsaan was hoekom het hulle nie die meisies hoor gil nie….. ek kan nie dink dat daar nie geraas was terwyl die kinders aangeval was nie….ek glo tog die een moes skree en hulp gesoek het terwyl een aangeval was…. en moord sou tog nie die probleem oplos nie….ek huil vir die gesinne van die kinders maar hy sal moet boet vir die moorde….

Frik ·

Wanneer n misdadiger onskuldig pleit dan bewys dit net dat hy geen berou het oor sy dade, asook dat hy nie n man is nie. Wonder wat hy gaan pleit?

Abe ·

Frik,
Die belangrikste ding wat gister (6/10) in die hof gebeur het, is dat Xander onskuldig gepleit het. Dit is eienaardig dat MM dit nie weet nie. Net n vae verwysing na ander media. Het hulle dan nie n verslaggewer/ verteenwoordiger in die hof gehad nie en het hulle geen invoer van nuus deur ander nuusagentskappe nie?

SjN ·

Volgens my was daar nog persoon/e betrokke, hy kon dit nie alleen doen , daar moes mos teensetting/gille ens. gewees het. Hoop ek is verkeerd, sterkte aan die families

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.