Stella-koshuismoorde: Xander vir waarneming verwys

Xander Bylsma in die hof. Foto: Mia Spies/eNuus

Xander Bylsma, die 19-jarige man wat aangekla word van die moord op die vriendinne Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) in hul koshuis op Stella, Noordwes, is vir sielkundige waarneming verwys.

Adv. Tembeka Mbadu, waarnemende woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het bevestig Bylsma het Vrydag vlugtig in die Vryburg-landdroshof verskyn. Die staat was van plan om die aanklagte teen hom te stel aangesien die klagstaat gereed is.

Volgens Mbadu het die verdediging egter versoek dat Bylsma vir sielkundige waarneming gestuur word. Die versoek is toegestaan en Bylsma is vir 30 dae sielkundige waarneming by die Sterkfontein-hospitaal verwys.

Mbadu het gesê die saak is tot 6 November uitgestel. Bylsma wag intussen op ʼn bed in die hospitaal. Indien hy voor die volgende hofdatum ʼn bed kry sal die saak op 6 November in sy afwesigheid uitgestel word. Daar sal dan gewag word op die verslag ná die waarneming voordat die aanklagte teen hom gestel word en die saak na die hooggeregshof oorgeplaas word.

Die koshuis by die Hoërskool Stella. Foto: Mia Spies/eNuus

Bylsma word sedert die moorde in die Rooigrond-gevangenis aangehou. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord: op Sharnelle, sy eksmeisie, en Marna, sy kleinniggie.

Die twee vriendinne was op 25 Mei vanjaar alleen in die meisieskoshuis by die Hoërskool Stella toe hulle vermoor is.

Die meisies, albei in gr. 11 aan dié hoërskool, was veronderstel om die Saterdagoggend die skoolbus te haal om sport op Koster te gaan kyk en het daarom met die skool gereël om in die koshuis oor te slaap terwyl die ander koshuismeisies vir die naweek huis toe was.

Kapt. Charlize van der Linden, die voormalige woordvoerder van die Stella-polisie, het vroeër aan Maroela Media verduidelik die koshuis by die hoërskool is in twee vleuels verdeel, een vir seuns en een vir meisies.

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

“Die seuns het in die koshuis oorgebly vir die volgende dag se sport, maar die twee meisies was alleen in hul gedeelte van die koshuis,” het Van der Linden gesê. “Die koshuismoeder was wel daar, maar sy beweer die meisies het haar versoek om die veiligheidshek vir hulle oop te laat aangesien hulle glo gewag het vir iemand om vir hulle klere te bring.”

Toe hulle nie die oggend die bus haal nie, het die koshuismoeder na hulle gaan soek en op Sharnelle se liggaam afgekom waar sy aan ʼn nylontou aan die trapreling hang. Die polisie is ontbied en Marna se liggaam is in die badkamer aangetref. Sy is moontlik verwurg en daar was ʼn handsakband om haar nek.

Sharnelle en Marna is Saterdag vermoedelik tussen 02:00 en 03:00 vermoor.

Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur om vas te stel of vuilspel betrokke was, maar dit is spoedig na moord verander. Die enigste verdagte tans in die ondersoek, Bylsma, is dieselfde dag by sy huis in Stella in hegtenis geneem. Bylsma en Sharnelle was voorheen in ʼn verhouding, maar het uitgemaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Geengenade ·

Ongeag die uitslag van enige sielkundige evaluering, hy moet verantwoordelik gehou word vir sy onaanvaarbare dade.

Hasie ·

Ek voel baie jammer vir die jong man en al die families, maar om hom te stuur vir waarneming is ‘n “bull” storie. Hy was kwaad en het presies geweet wat hy doen. Sy verdediging speel net rond, tipies die regslui.

KL ·

Hy het geweet ja, die stuur vir waarneming word altyd gedoen met moord sake, sodat daar nie n hoop verskonings kan kom nie

Gollie ·

Dis waar,gee nie om vir daardie meisies se ouers se gevoelens nie

Maklik is dit nie ·

Maklik is dit nie vir enige rol speler hier nie, maar reg en geregtigheid teenoor hierdie jong meisies en mense lewens. Die Woord sê duidelik jy mag nie doodslaan nie, hy het geweet wat die impak van sy dade gaan wees, die feit dat hy dit soos selfmoord wou laat blyk, wys hy is beslis slimmer as wat almal dink. Ek verstaan sy ouers & familie wil ondersteun, maar moet nie die dier in hom voed nie, jy sal dan regtig nog baie trane huil. Hy moet sy straf vat soos ‘n man, daar is dinge waar ek ook bietjie sagter op hom sou wees, maar dit is nie regverdig wat hy gedoen het nie. Die ouers meot net bietjie in die skoene van die vermoorde dogters se skoene klim, glo my dit is die moeilikste skoene.

Help ·

Waarneming? Nou gaan dié sielsieke man in dieselfde saal land tussen ander blote kinders wat opgeneem is omdat hul moontlik ‘n enkele episode depressie beleef. Nee,nee en nogmaals nee.

Lh ·

3 Gesinne het Pragtige jong kinders verloor. Mag julle troos en aanvaarding kry. . .

Abe ·

Lh,
Twee gesinne het pragtige jong kinders verloor. Mens kan nie n koelbloedige moordenaar n pragtige jong kind noem nie. Dit is eenvoudig die realiteit van die saak.

IK ·

Mens moet aanvaar dat daar ‘n dag in jou lewe sal kom dat dit wat jy wil hê (soos voorheen) nie vir jou beskore sal wees. Dis dan wanneer (selfs ‘n liefdesteleurstelling) jou nie moet laat maak en breek soos jy wil. Aanvaar dit en gaan aan met jou lewe.

Sandra ·

Kinders moenie alleen in skoolkoshuis slaap op ‘n Vrydagaand nie. Wees liewer oorbeskermend. Dinge nie mooi daarbuite vir die kinders van vandag nie. Dwelms en nog meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.