Stella-moorde: Saak teen Bylsma ‘pas soos legkaart’

Xander Bylsma in die hof in Mahikeng. (Foto: Tania Heyns)

“Ons moet bedag wees daarop hoe hierdie hele saak soos ʼn legkaart inmekaar pas.”

Staatsaanklaer adv. Johan Smit het Dinsdagoggend tydens sy slotbetoë in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes gesê die saak teen die jong moordbeskuldigde Xander Bylsma (20) is die een saak in sy loopbaan as staatsaanklaer wat die mooiste legkaart nóg vorm.

Bylsma staan tereg op die moord van sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16). Dié tienermeisies is gedurende die aand van 25 Mei en oggend van 26 Mei 2018 in die skoolkoshuis op Stella vermoor.

Die staat het vanoggend sy slotbetoë in die saak teen Bylsma gevoer nadat die verdediging Maandag die saak gesluit het. Volgens Smit is die bekentenis en uitwysings wat Bylsma destyds kort ná die moorde gemaak het en sedertdien betwis “nié net ʼn bekentenis van skuld nie, maar vertel ook ’n hele verhaal van hartseer, jaloesie, liefde en vergelding”.

Maroela Media het vroeër berig Bylsma het aanvanklik beken dat hy die meisies vermoor het nadat hy kwansuis Sharnelle gehelp het om selfmoord te pleeg. Hy voer intussen aan dat hy destyds aangesê is om dié bekentenis te maak. Die skuldbekentenis en uitwysings is egter verlede jaar gedurende ʼn binneverhoor voorlopig aanvaar.

“Daar bestaan geen twyfel dat hy die meisies vermoor het nie. Hy het op ʼn slinkse wyse beplan om Sharnelle te vermoor. Die motief is duidelik. Sy wou nie hulle verhouding hervat nie. Die motief vir Marna se moord is ook duidelik, maar dié moord is nie vooraf beplan nie,” sê Smit.

Smit het die staat se getuienisse aan regter Ronald Hendricks voorgelê om die “legkaartstukke” een vir een bymekaar te sit. Hy voer aan dat Bylsma se getuienis ongeloofwaardig is en het die volgende uitgelig om sy argument te staaf:

Anastasia Visser getuig teen Xander Bylsma in die Stella-moordsaak. (Foto: Tania Heyns)

Die getuies

Hy het verwys na Anastasia Visser, Xander se voormalige vriendin, wat getuig het Xander “sou seker maak Sharnelle pleeg selfmoord”.

“Dit is belangrik om van die staanspoor te besef dat Anastasia se weergawe en Xander se weergawe nie met mekaar vereenselwig kan word nie. Daar is nie ruimte om die weergawes met mekaar te versoen nie en daar is nie ruimte vir ʼn fout nie. Anastasia het kalm en met vertroue getuig. Sy het ook nie haarself weerspreek nie,” het Smit uitgelig.

Hy het verder aangevoer dat daar geen rede sou wees dat Anastasia vir Xander sou wou kelder nie. “Hy is ʼn slinkse beplanner en Anastasia se getuienis lê die grondslag vir sy beplanning,” meen Smit.

Hy het ook verwys na die getuienis van Brandon Victor dat Xander vir Sharnelle in sy teenwoordigheid oor die foon sleggesê het. Bylsma het selfs gedurende die verhoor die skuld op Victor gepak en aangevoer dat hy die een is wat die moorde gepleeg het.

“Xander sou Marna wou vermoor omdat sy in sy pad gestaan het in sy versoening met Sharnelle. Watter motief sou Brandon hê? Niemand het hom daardie aand by die meisies sien kuier nie. Waarom sou Brandon ook homself op die toneel plaas?” wou Smit vanoggend weet.

Smit sê ook dit maak nie sin dat al die ander verdoemende getuienis en bewyse na Bylsma wys, as Brandon wel die moordenaar is nie.

Xander Bylsma tydens die Stella-moordverhoor. (Foto: Tania Heyns)

DNS-getuienis

Daar het aanvanklik ʼn groot vraagteken in die saak teen Bylsma ontstaan nadat ʼn DNS-kenner getuig het dat geen DNS van Bylsma op die moordtoneel gevind is nie.

Volgens Smit was dié getuienis nie vir die staat ʼn verrassing nie aangesien dít nie die soort saak is waar Xander se DNS op bewysstukke op die toneel móét wees nie. “Hy kon bloot handskoene aangehad het, wat waarskynlik is aangesien die moorde in die winter gepleeg is,” het Smit verduidelik.

Die vragmotor

Smit sê dat hy veral kop gekrap het oor die Volvo-vragmotor wat Xander kwansuis die oggend van die moorde gesien ry het op die plaas waar sy ma gewoon het, voordat hy huiswaarts gekeer het. Dié vragmotor was die laaste legkaartstuk wat net nie wou pas nie, verduidelik Smit.

Volgens Smit het Bylsma gedurende die verhoor verskillende teenstrydighede rakende die tydlyn van gebeure aangebied. Smit voer aan Bylsma het gejok en gesê hy het die vragmotor op die plaas gesien om hom so ver moontlik van die tydstip van die moorde in Stella te plaas.

“Dit is duidelik dat hy erg kleitrap oor die tyd. Dit is te verstane omdat hy so ver moontlik wil wegkom van die tyd van die moorde,” sê Smit.

Sharnelle Hough en Xander Bylsma. Foto: Facebook

Bylsma se karakter

Om Smit se argument te staaf dat Bylsma inderdaad daartoe in staat was om die moorde te pleeg, het hy vanoggend na die verslag van ’n kliniese sielkundige verwys waarin daar gestel word dat Bylsma naïef en kortsigtig is. Dít pas in by die wyse waarop die moord op Marna gepleeg is, wat volgens hom nié beplan is nie.

Die sielkundige het ook bevind dat Bylsma onseker van homself en hipersensitief vir verwerping is. Hy kan ook soms jaloers word.

“Dít pas in by die legkaart van die moord op Sharnelle. Dit stem ook ooreen met sy benadering gedurende die hofsaak, toe hy beweer het almal jok en nét hy praat die waarheid. Hy is ongeloofwaardig. Die staat vra dat sy getuienis verwerp word,” het Smit bevind.

Die verdediging voer Dinsdagmiddag sy slotbetoë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

anoniem ·

xander moes handskoene gebruik het om die meisies te vermoor. ek sou hom skuldig bevind het aan moord, dwarsboming van die gereg en poging tot ontvlugting botswana toe

JohanR ·

Ek dog al die tyd ‘n ander ou, of die tande feetjie het dit gedoen? Hoop die ou, en Henri van Breda gesels lekker in die selle. Weet iemand miskien waaneer daai vrou moordenaar Jason Rohde weer terug gaan tronk toe? Lyk my as jy genoeg geld het kan jy jou pad in Suid Afrika uit die tronk koop. In ‘n geval hier en daar as jy genoeg tyd in die tronk hospitaal deurbring, kan jy ook vrygelaat word maar nie in alle gevalle nie. Party keer moet jy “political connections” he!

Marli ·

Tania Heyns, baie dankie vir puik beriggewing. Gaan julle vandag die slotbetoë van die verdediging ook plaas?

Christine vd Westhuizen ·

Ai kan n mens in een oomblik so n onbesonne daad pleeg. Ai mag ons Hemelse Vader met al die families wees wat geraak word dis hartverskeurend

SjN ·

Weereens kort daar sekere stukke van die legkaart agv swak ondersoek van die saak.

Karel ·

Oscar, Xander, en al die ander ouens wat hul vrouens/vriendinne vermoor het. Het julle almal maar net van vrouens af weggebly en eerder julle geld en tyd op speelgoed soos motorfietse en vliegtuie spandeer. Dan het al die vrouens nog geleef en julle was almal sieltjies sonder sorge.

Kas ·

In ‘n vorige berig is daar gesê Bylsma en Charnelle het omstreeks die oggend 1 uur in sy bakkie gesig en gesels en dat hulle seks gehad het.Niks word van Brandon gesê nie.Toe Bylsma die sogenaamde vragmotor gesien het was die moorde alreeds gepleeg.Wat is die afstand tussen Koster en Vryburg.Bylsma het die uitwysings op die toneel gedoen.Hoe kon hy as hy nie daar was nie.Hoekom is DNA toetse nie gedoen om te bepaal of hulle wel seks gehad het nie.Dit sou Bylsma bo redelike twyfel op die toneel geplaas het Ek glo Brandon is deeglik ondervra en kon nie op die toneel geplaas word nie.

Tanz ·

@Kas, dit kan nie waar wees nie want dan sou hulle sy DNA in haar gekry het. Dalk was daar meer as een moordenaar….

Kas ·

Bylsma het die uitwysings gedoen uit vrye will Hoe het hy geweet hoe het die toneel gelyk want toe was die toneel al opgeruim.Toe hy die sogenaamde vragmotor gesien het toe was die moorde alreeds gepleeg.Ek het iewers gelees hy en Sharnelle het die oggend omstrreks 1 uur in sy bakkie gesit en gesels.Dit was kort voor die moorde gepleeg is.Hy is onskuldig tot hy skuldig bevind is deur ‘n hof maar ek voel tog hy is die een.

Domvraag ·

Wonder hoekom hy eers erken het en toe later sy deuntjie verander het. Was hy so geadviseer?
Iemand wat skuldig is maar probeer voorgee hy is onskuldig se vonnis moet verswarend wees omdat onnodige vermorsing van hof se tyd en addisionele kostes veroorsaak is.

wonder ·

Kas ek stem saam onskuldig tot skuldig bevind. dit maak net nie vir my sin nie ek se nog steeds Victor het dit gedoen en nie Bylsma nie!!!!!!!!!

Veerpyltjie ·

@Wonder. Ek wonder of jy die saak gevolg het? Wat laat jou dink dat Victor dit gedoen het? Wat sou sy motief wees? Hoe kon Bylsma die toneel uitwys as hy nie daar was nie? Daar is nie iets soos toeval nie – hy sou nie ‘n bekentenis gemaak het as hy nie skuldig was nie.

Kas ·

Wonder,daar is soveel fingers wat na Bylsma wys maar weet jy wat pla my.As Victor en Sharnelle ‘n verhouding gehad het hoekom doen hy nie die volgende oggend navraag oor waar hulle is toe hy sien hulle is nie op die bus nie.Hy was in die koshuis en kon Sharnelle en Bylsma saam gesien het.Ek bespiegel maar net maar hoekom bereid wees om vir jare tronk toe te gaan as jy onskuldig is.Victor her geen motief gehad vir die moorde nie en Bylsma wel.Hy het dan self gesê hy sal sorg dat Sharnelle selfmoord pleeg.Ek gaan maar wag vir die regter se uitspraak.

Niemand ·

Dit maak vir my baie sin as ek sy karaktereienskappe so lees… Ek het op skool ook met so ou uitgegaan. In die begin was alles mooi en goed, maar het later verander in manupulasie en emosionele afpersing! Ek was te bang om die ou te los oor bekommernis dat hy sy eie lewe sou neem (wat hy gereeld opgebring het wanneer ek vir 10min nie ‘n boodskap kon antwoord nie). Ek was emosioneel onvolwasse en soos ek na my jonger niggies en selfs sussie en vriendinne se sussies kyk en luister, wil dit vir my voorkom of elke een van hulle ook ‘n “Dirk” het… Dit is duidelik dat hulle emosioneel onvolwasse is en heeltemal kortsigtig is en net dink aan die “hier” en “nou” – hulle sien nie dat hulle gedrag verkeerd is nie. Ek was gelukkig om ouers te hê wat omgee en verhoed het dat so iets met my kon gebeur, maar ek voel jammer vir die twee meisies se families wat dalk nie geweet het wat aangaan voor die tyd nie.

Rhoshe ·

I am not saying that i believe that this Bylsma Boytjie did or didn’t do it. If he did, then he deserves to be punished. I just wonder if the authorities pursued any other suspects. I see more often than not people saying that Bylsma’s had motif. And that having motif to commit a crime to enough to form an opinion about someone’s character. My question however, does one always need a motif to murder. Murder is senseless from all aspects. And contrary to popular believe, her boyfriend could very possibly have motif and means to have committed this crime. Jealous boyfriend angle. The issue however is that even if Bylsma is found not guilty he will also be branded as the Stella Murder. Public opinion, i believe, does have the power to sway the court. And what we are doing is judging and condemning a man who has not been found guilty.

SAP ·

Ek hoop die saak eindig met die regte persoon agter staal deure. Jy is reg dat die publiek en media die beskuldigde se saak nog moeiliker maak. Hoekom is die ondersoek so sleg gedoen? Is die ondersoek beampte deur iemand anders gely? Die groot vraag is : gaan ‘n onskuldigde persoon gestraf word en die skuldige knaap nog buite loop waar so iets weer kan gebeur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.