Stella-moorde: Xander Bylsma skuldig bevind

Die jong moordbeskuldigde Xander Bylsma (20) is Maandag skuldig bevind aan die moord op sy voormalige vriendin, Sharnelle Hough (17), en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16).

Die emosies het hoog geloop toe regter Ronald Hendricks vanoggend sy uitspraak in die opspraakwekkende moordsaak in die hooggeregshof in Mmbatho, Noordwes, gelewer het.

Hough en Engelbrecht is gedurende die nag van 25 en 26 Mei 2018 in die hoërskoolkoshuis op Stella vermoor. Hough se liggaam is die oggend van 26 Mei aangetref waar sy met ’n tou om die nek aan ’n trapreling gehang het. Engelbrecht se liggaam is in ’n badkamer met ’n handsaklus om haar nek aangetref.

Die getuie Brandon Victor tydens die verhoor van die Stella-moorde. (Foto: Tania Heyns)

Volgens Hendricks is dit duidelik uit die bewyse in die binne- sowel as die hoofverhoor dat dit Bylsma is wat die meisies vermoor het en nié Brandon Victor, Sharnelle se kêrel ten tyde van die moorde nie. Bylsma het tydens die verhoor beweer Victor is die skuldige.

“Die bewyse vertel ’n verhaal van gemengde gevoelens, jaloesie, teleurstelling en wraak,” het Hendricks gesê.

Volgens Hendricks was Sharnelle se moord haarfyn beplan en het Bylsma haar op só ’n wyse vermoor om die indruk te skep dat sy selfmoord gepleeg het. Hy het egter nié beplan om Marna die betrokke aand te vermoor nie.

“Marna was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek,” meen Hendricks.

Só verloop gebeure

Volgens Hendricks is dit duidelik dat Sharnelle aanbeweeg het nadat sy en die beskuldigde uitgemaak het. Sy het ’n nuwe kêrel gehad en die beskuldigde het uitgevind van halfnaakte foto’s wat sy vir haar nuwe kêrel gestuur het.

Bylsma was woedend en het doelbewus beplan om haar in die vroeë oggendure in die koshuis te vermoor terwyl almal slaap. Hy het dus die aand eers na die feesterrein op die dorp gery waar hy ’n ruk lank gerook het, voordat hy vir Sharnelle ná middernag gebel en te voet koshuis toe gestap het.

Sharnelle Hough en Xander Bylsma. Foto: Facebook

Die hof het verder bevind dat Bylsma presies geweet het hoe om toegang tot die koshuis te kry en is by die koshuis in nadat Sharnelle se kêrel die oggend gaan slaap het. “Soos die noodlot dit wou hê was Marna egter ook in die koshuis,” het Hendricks gesê.

Volgens die hof het Bylsma vir Marna op pad badkamer toe aangetref, waarna hy haar agtervolg en verwurg het terwyl Sharnelle ’n warmer broek in die kamer gaan aantrek het. Hy het Marna se liggaam in die badkamer gelaat en uiteraard nie vir Sharnelle daarvan gesê nie. Hy het haar toe óók verwurg en van die trapreling laat afhang.

Dit is ook hy wat die halfnaakte foto’s na haar pa, Ronnie Hough, se selfoonnommer gestuur het.

Hendricks het tydens sy uitspraak benadruk dat Bylsma eers in die koshuis besluit het om vir Marna dood te maak sodat sy hom nie kon impliseer nie, nes die staat in sy argument aangevoer het. Dit is ook moontlik dat Bylsma haar vermoor het omdat sy nie ’n versoening tussen hom en Sharnelle goedgekeur het nie.

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

“Dit is vergesog, om die minste te sê, dat Victor die moorde gepleeg het,” het Hendricks gesê. Hy het vanoggend uitgewys dat Bylsma tydens die saak by verskeie geleenthede aan die hof bewys het dat hy ’n ongeloofwaardige getuie is en homself herhaaldelik weerspreek of met onwaarskynlikhede vorendag gekom het. Hy het ook die skuld op sy vorige regspan gepak wanneer dit hom pas.

Volgens Hendricks was die staatsgetuies in die saak egter deurgaans geloofwaardig en eerlik.

Absolute verslaentheid

’n Gebroke Mercia Bylsma, Xander se ma, het haar seun omhels toe die hof oomblikke ná Hendricks se uitspraak vir ’n kort pouse verdaag het. Xander was sigbaar ontsteld.

Staatsaanklaer in die Stella-moordsaak, Johan Smit. (Foto: Tania Heyns)

Staatsaanklaer adv. Johan Smit het ná die pouse Hendricks ingelig dat Monte Bylsma, Xander se pa, die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Marcus Ferreira, gedurende die kort verdaging buite die hof met sy hand in die gesig geslaan het. Hy het ook glo aan die private speurder Chris Saunders gesê “ek kom vir jou” en ook dreigemente teenoor kol. Corrie Kochlan gemaak.

Xander het destyds skuld aan Saunders erken op pad na die Vryburg-polisiestasie en ’n bekentenis voor Kochlan afgelê.

Ronnie Hough, Sharnelle se pa, het aan Maroela Media gesê hy is tevrede met die uitspraak. Stefaans Engelbrecht, Marna se pa, het gesê hy sal ná vonnisoplegging kommentaar lewer.

“Geregtigheid het geskied,” meen Smit op sy beurt.

Die verdediging het vir uitstel tot Dinsdag gevra. Daar sal na verwagting dán op ’n datum vir vonnisoplegging besluit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Antjiepat ·

Bitter jammer vir die meisies wat dood is. Maar sjoe kinders wat grootmens speletjies speel .. (16 en 17 onderskeidelik, stuur half naak foto’s na haar nuwe kerel) as die tieners van vandag ook net wil besef.. speel met vuur en jy gaan jou vingers een of ander tyd brand)

Cindy ·

Antjiepat, of sy nou heeltemal kaal of halfkaal foto’s vir haar nuwe kerel gestuur het is glad nie van toepassing nie – probeer jy nou se dis HAAR skuld die vent kon nie aanvaar hul verhouding is verby nie? Neem tog ook in ag dat Marna heel onskuldig was, dit was nie HAAR halfkaal foto’s nie, en tog is sy ook doodgemaak..

E ·

Asb. moenie die slagoffers blameer nie. Ek sien eerder ‘n jong man wat nooit verantwoordelikhied geleer is vir sy dade. En pappa het altyd alles “reggemaak en reg ge… “.

Moedeloos ·

Het iemand die foto’s gesien? So wat word bedoel met half naakte foto’s?

Oujongvrou ·

So wat se jy nou, dat dit hulle eie skuld is dat hulle vermoor is deur n psigopaat.

Sipho ·

Kon nou Einsteins, die kommentator het glad nie die skuld op die slagoffer gepak nie. Meer ‘n algemene opmerking oor hoe om versigtig te wees.

Moedeloos ·

Die mensdom moet besef dat die wiel draai en die skuldige sal altyd gevang word al neem die jare. Hierdie jongman het sy eie lewe verwoes. Sterkte vir al die ouers want vir nie een van hulle moet dit lekker wees nie. Maak nie saak of jou kind skuldig of onskuldig is nie.

isabelle ·

kinders moet kinders wees Verhoudings en sosiale media moet ten alle tye dopgehou word Die duiwel is lustig en die kindertjies se geloof nie meer so sterk soos altyd want daar is te veel onheil aan die broei

Janc ·

Hierdie “slimfone” en “sosiale media” van vandag en ons kinders wat blootgestel word aan al hierdie aaklige dinge van die wereld….. Dit is so sleg. Twee pragtige kinders het hulle lewens verloor en absoluut niks gaan hulle terug bring nie. Ongeag of sy nou ‘n ander kerel gehad het of wat ookal sy gedoen het, regverdig nie wat hierdie seun aan hulle gedoen het nie. As ek maar net dink wat ons nie alles gedoen het toe ons Hoërskool tref nie…. Enige vorm van obsessiewe jaloesie moet maar ernstig aanskou word.

Wielspore ·

Ek het op ‘n stadium gedurende die onderskoek gedink dat Xander die waarheid kon praat en dat Brandon dalk die moordenaar kon wees, die uiteinde het die teendeel bewys en geregtigheid het geskied. Sterkte aan die ouers van die kinders wat vermoor is en mag Xander die straf kry wat hom toekom. Al word jy vergewe, moet jy nog steeds jou straf uit dien.

007 ·

Ja Wielspore, die mannetjie het my ook om die bos gelei. Maar soos die spreekwoord sê “slim het sy baas gevang”, so het hy homself in die voet geskiet. Baie jammer vir die meisies se ouers en vriende. Kan net dink waardeur hulle moet gaan. Baie sterkte.

Leonie ·

Ek het ook gedink hy is onskuldig of dat hulle altwee dit beplan het. Wys jou …

Plaaskind ·

Dankie Tog – hoop hy sit lewenslank en vrot in sy tronksel.

Sterretjie ·

Lyk my Pappie is ook maar agressief………. appel val seker nie vêr van die boom nie.

Wonder Dikwels ·

Soveel hartseer en lewens lange trauma is vir soveel mense veroorsaak, omdat een jongman se jaloesie die oor hand gekry het. Ai tog. Mense behoort nie aan ander mense nie, nie totdat hulle in die eg verbind is nie.

RS ·

In hierdie gevalle kry ek altyd die ouers jammer. Die ouers van die vermoordes asook sy ouers. Ek is oortuig daarvan dat hulle nie hul kind groot gemaak het om n moordenaar te wees nie. Ek dink vandag aan die mense, baie sterkte!

Sandra ·

Ek het simpatie met die meisies wat vermoor is se ouers, maar as jy self ‘n ma is, dan voel jy ook simpatie met die beskuldigde se ouers. Dit moet seker vreeslik oorweldigend wees om in die posisie te moet wees waarin jou seun tronk toe moet gaan vir moord. Ek dink nie iets kan mens daarvoor voorberei nie, nes die twee meisies se ouers.

Mieke ·

Stem saam. Ek dink dis vir elkeen ‘n onvoorstelbare nagmerrie – iets wat eintlik nooit moes gebeur het nie. Ons bid vir al die ouers.

katerinadiekat ·

Violent father, violent son. Lyk my Xander is geleer dat jy mense aanrand en selfs vermoor as hulle jou kwaad maak. As die pa so aangaan, sit hy binnekort ook in die tronk. Watse tipe mense is hierdie?

Belinda ·

Absoluut, ek stem 100% saam met jou. As ek nie my sin kry nie, slaan of moor ek dit reg!!! ‘n Kind wat nooit verantwoordelikheid vir sy dade geleer is nie.

Mariaan ·

Waardeur het hierdie arme meisies nie gegaan toe hul besef het wat gebeur nie…so tragedie..MAAR hy moet maar sit! Voel jammer vir sy ouers MAAR iets hier in sy opvoeding is nie pluis nie…mag sy ouers hul kant skoon he met sy opvoeding…anders is verwyt ook hul voorland…as jou kind 2 mense SO vermoor…is daar fout!!

Cherokee ·

Dit neig te lyk asof Bylsma senior se groot kommer nie was dat sy seun ‘n moordenaar is nie, maar dat hy skuldig bewys is.

Pieter J ·

Ek dink Xander verdien twee lewenslange vonnisse vir die brutale wyse waarop hy hierdie twee meisies se lewens beĕindig het. Ek hoop hulle kla sy pa ook aan en gee hom minstens 5 jaar want dit wil voorkom of dit is waar die seun se probleme begin het.

Niklaas ·

Jaloesie was die hoofrede vir hierdie tragiese gebeure. Die Bylsma knaap kan hom nou maar voorberei vir een lang tronkstraf . Simpatie.met al die betrokke ouerpare.

Foefie ·

As jy sien hoe Xander se pa optree kan mens verstaan hoe Xander uitgedraai het in die lewe.

Scalla ·

Vind eers uit wat was die rede vir die daad voor beslissing gemaak word .

Belinda ·

GEEN rede kan dit regverdig NIE. Verder as die Pa die ondersoek beampte in die gesig slaan en die ander dreig omdat sy kind skuldig bevind is aan iets wat sy kind gedoen het, gaan GROOT ROOI LIGTE AAN. Elke ouer sal sy kind wil beskerm, wil help as hul deur so iets moet gaan, maar jy kan nie ander mense slaan & dreig as jou kind so iets gedoen het nie.

Lizelle ·

Sy pa klap en dreig ondersoekbeampte en speurder buite die hof….
Appel val nie ver van die boom af nie lyk dit my.
Ek is bly hy kry sy verdiende loën.
Al het die meisie naakfotos vir die hele wereld gestuur, dit gee NIEMAND die reg om haar te vermoor nie.

Lynette ·

Dank Vader hierdie teksboek narsissis en psigopaat is skuldig bevind….en laat dit ‘n waarskuwing wees aan alle ouers wat hul kinders tot in die afgrond bederf sodat hulle nooit die woord NEE hoor nie – dis ‘n ekstreme maar versluierde vorm van kindermishandeling wat maklik ‘n xander bylsma (kleinletters doelbewus :-)) tot gevolg kan hê.

HESTER ·

Dit is baie hartseer dat ouers hul kinders moes afstaan aan die dood, en kry ek ook die ouers van die beskuldigde jammer. Antjiepat ek stem saam jou die kinders van vandag het net geen respek meer nie. Ek dink daar is baie meer agter die storie as wat vertel word, ek dink die Seun het hulp gehad.

lollapot ·

Adv Johan Smit, WELL DONE! Kapt Marius Ferreira, Chris Saunders en Kol Corrie Kochlan, BAIE BAIE dankie, sonder julle uiterse knap speurwerk, sou ‘n moordenaar dalk vry geloop het!
Ek is jammer vir AL die ouers . . .

Belinda ·

Ansoluut goeie werk manne. Jammer oor daai klap Kapt Ferreira, dit is sommer jou volgende opgeloste saak!

Hannelie ·

Geregtigheid geskied altyd!!! Maar dit is nog nie die einde vir Xander nie….hy moet nog eendag voor God verskyn. …

twaalfboor ·

Mooi so Xander se pappie. Ons kan sien waar het jou kind sy verwysings raamwerk vandaan gekry.

MIA ·

Nou wonder ek net: Hoekom was Sharnelle se kêrel daardie tyd van die oggend by hulle in die koshuis??? Ek haal aan: ” nadat Sharnelle se kêrel die oggend gaan slaap het. ” Waar was die koshuismoeder dat so iets in ‘n koshuis toegelaat kan word?? En as die kinders net kan besef watse speletjies hulle besig is met hulle selfone en die foto’s wat aangestuur word!!! Ek sal net graag wil weet wat hulle daardeur bereik om sulke foto’s die wêreld in te stuur, want so ‘n verhouding KAN NIE WERK nie, want eerstens het daardie oukie nie respek vir jou as hy van jou verwag om sulke tipe foto’s vir hom te stuur nie.

VanAfrika ·

Xander ek kan nie verstaan hoekom jy ontsteld is nie. Dink jy hulle sou jou onskuldig gevind het na twee moorde? Het jy dan nooit geleer dat God se Woord sê jy mag nie n lewe neem nie want dit is nie jou plek om daardie besluit te neem nie. Twee onskuldige meisies het geboet vir jou dade en daar is ouers wat jare lank gaan rou, joune ingesluit. Jy het gemis dat jou besluite inpak sou hê op baie ander lewens, nie net joune nie. Dis goed as jy lewewnslank toegesluit word want jy kan nie elke meisie en haar vriendin vermoor net omdat jy haar nie kon kry nie. Jy moes terug gestaan het en jou pak gevat het soos n man toe sy jou afgesê het. Maar soos n lafaard het jy twee lewens geneem. Sies vir jou!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.