Stella-moorde: ‘Xander wou hê dat Sharnelle selfmoord pleeg’

Anastasia Visser getuig teen Xander Bylsma in die Stella-moordsaak.

“Hy het vir my gesê hy gaan Stella toe. As hy daar aankom en [Sharnelle] sien, sal hy nie weet hoe om sy woede te hanteer nie. Hy het gesê hy sal sorg dat sy selfmoord pleeg. Al moet hy die oorsaak daarvan wees.”

Só het ʼn gewese vriendin van die moordbeskuldigde Xander Bylsma (20) Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes getuig in verband met telefoongesprekke wat sy en Bylsma minder as 48 uur voor die moorde op Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16) gehad het.

Sharnelle en Marna se liggame is die oggend van 26 Mei 2018 in hul koshuis by die Hoërskool Stella gevind.

Bylsma verskyn sedert Maandag weer in die hooggeregshof nadat regter Ronald Hendricks in September sy uitspraak in die binneverhoor gelewer het. Die staat gaan nou voort met sy getuienis.

Anastasia Visser (19) het in haar getuienis verduidelik dat ʼn ontstelde Bylsma haar op 24 Mei 2018 omstreeks 18:00 gebel het. “Ek kon hoor hy is kwaad. Ek het vir hom gevra hoekom is hy kwaad. Hy het gesê dit is omdat Sharnelle aanbeweeg het en hy het nog nie aanbeweeg nie. Dit het gegaan oor foto’s wat Sharnelle aan Brandon (Sharnelle se kêrel ten tyde van die moorde) gestuur het. Hy het gesê hy sal self na Sharnelle se pa toe gaan en die foto’s vir hom wys, asook seker maak dat sy bang is om huis toe te gaan. Hy het gesê hy gaan haar lewe so hel as moontlik maak.”

Visser was in dié stadium in matriek in Hoërskool Hoopstad en goed bevriend met Bylsma wat sy in 2015 by ʼn hengelkamp by die Bloemhofdam ontmoet het. Hoewel sy vir Sharnelle deur sportbyeenkomste geken het, was dié twee bloot kennisse, het Visser vanoggend verduidelik.

Monte Bylsma, Xander se pa, gesels met sy seun in die hof. (Foto: Tania Heyns)

Sy het nooit vir Marna ontmoet nie.

Visser het aan staatsaanklaer Johan Smit gesê sy en Bylsma het in Maart 2015 by die kamp ontmoet, waarna hulle sowat ses maande later by die Hertzogville Landboufees saamgekuier het. Die twee het gedurende dié tydperk oor en weer kontak gemaak, maar kort ná die fees is dit gestaak. “Ek het van hom begin hou, maar ons was nie in ’n verhouding nie. Ons het ná die fees nie meer gepraat soos voorheen nie en kontak verloor.”

Xander het egter weer in Februarie 2018 met haar kontak gemaak waarna die oor-en-weer geselsery weer opgevlam het. Sy verduidelik sy het aanvanklik nie geweet dat Bylsma in daardie stadium met Sharnelle in ʼn verhouding was nie en het later eers op Facebook daarvan te wete gekom.

Visser hou vol dat sy en Xander nooit in ʼn verhouding was nie. “Ek sal dit nie ʼn vaste verhouding noem nie. Ek het van hom gehou en hy het van my gehou.” Bylsma het egter aan sy regspan verduidelik dat die twee sowat vier tot ses maande in ʼn verhouding was.

Volgens Visser het Sharnelle met haar in aanraking gekom om met haar te gesels oor haar (Sharnelle se) verhouding met Bylsma.“Sy het vir my gesê sy weet nie hoe om die verhouding te beëindig of daarin te slaag dat hy haar uitlos nie.”

Sharnelle het egter vir Bylsma van dié gesprek tussen haar en Visser vertel, waarna hy vir Visser laat weet het dat hy van die gesprek weet.

“Ek was kwaad vir Sharnelle hieroor,” verduidelik Visser. Daarom het sy nooit vir Sharnelle gesê wat die ontstoke Bylsma gedurende die Donderdagaand se telefoongesprekke gesê het nie.

Visser het die Saterdagoggend (dieselfde dag waarop hulle gevind is) omstreeks 11:00 van die moord op onderskeidelik Sharnelle en Marna gehoor. “Ek was geskok.” Sy het eers tóé vir haar ouers van Bylsma se oproepe vertel, verduidelik sy.

“Ek het sleg gevoel daaroor,” het Visser gesê.

“Voel jy nog steeds sleg?” wou die staatsaanklaer weet.

“Ek doen,” was haar antwoord.

Xander se regspan het die besonderhede van haar getuienis bevraagteken. Xander ontken dat hy vir Visser gesê het hy gaan Sharnelle se lewe hel maak en dat hy wou hê Sharnelle moes selfmoord pleeg.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

antie ·

hopelik gaan die gelieg en beskerm van die liegbek nou ophou…. hy het sy pa al uit die familie plaas…. en sy ma moet hom nou net bystaan maar ophou sy nonsense entertain….laat die bedorwe brokkie pa staan vir sy dade…. hy het erken hy het dit gedoen en dis al wat tel….

Abe ·

Danie Doodloopstraat,
Wie moet end kry, met wat? Daar is n uiters belangrike (dubbele halsmisdaad) moordsaak wat afgehandel moet word. Hoe gek om nou te se “hou op”? Getuienis wat in jou onbelangrike opinie, “holrug” gery is, moet nog op die hofrekords geplaas word.

Kas ·

Hoekom sou Marna toelaat dat Sharnelle selfmoord pleeg.Hulle was 2 teen een.Wie het dan vir Marna verwurg?Was haar pa gekant teen die nuwe verhouding dat Bylsma haar soort van afgepers get.Hoekom word daar op Sharnelle gekonsentreer en nie op Marna ook nie.Ek bly by my standpunt dat die meisies iemand verwag het en nie klere nie.Bylsma jy sal moet oraat boet.Daai meisies se ours soek antwoorde en net jy kan dit vir hulle gee.

Antionette ·

Ek hoop hy kry lewenslank, maar ja ongelukkig is lewenslank in SA nie lewenslank…

Mag jy elke dag vir die res van jou lewe hel op aarde he, mag daai twee meisies se oe jou by bly elke dag sodat jy nooit weer vrede sal beleef nie.

chantel ·

so hartseer dat so jong man so iets gedoen het,
om te dink hulle was so jong het nog hul hele lewe voor hul gehad

jaco ·

is die “iemand” wat die klere moes bring al opgespoor? klere kom tog van ouers se huise af. so hulle so dan tog seker vir hulle ouers gesê het wie die klere daar gaan kom haal.

Hanlie ·

Wat my pla van die storie is:- Hoe kon die assistent koshuismoeder toegelaat het dat die veiligheidshek oop bly? Kom dit nie neer op “growwe nalatigheid” nie?

Abe ·

Hanlie,
In my opinie is dit grotendeels die oorsaak van die moorde. Dit is feitlik n uitnodiging aan die moordenaar!

Kas ·

Hanlie,verwyte gaan nie nou help nie maar ek stem met jou heelhartig saam .’n verantwoordelike koshuismoeder sou die hek gesluit het en versoek het dat die klere na haar toe gevat word sodat sy dit vir die meisies kon gee.My teorie is:daar was nooit sprake van klere nie.Bylsma was oppad Stella toe met een doel voor oë om te moor uit wraak.Hy het verwerp gevolg en kon nie hanteer dat Charnell ‘n ander kêrel gehad het nie.Feit is die registers “bo redelike twyfel”of hy dit gedoen het moet nog bewys word maar alles dui daarop dat dit hy was.Hy wou nie borg gehad het nie want hy het geweet iemand wag vir hom.Moontlik Charnell se nuwe kêrel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.