Stella-saak: ‘Ek hoop jy gaan tevrede wees met wat ek vanaand gaan doen’

Die moordbeskuldigde Xander Bylsma en sy pa, Monte in die hof. (Foto: Tania Heyns)

“Ek hoop jy gaan tevrede wees met wat ek vanaand gaan doen.”

Die moordbeskuldigde Xander Bylsma (20) het glo die aand van die moorde op Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16) gedurende ’n telefoonoproep dié woorde aan sy eksmeisie Sharnelle toegesnou. Hy het haar glo ook die p-woord toegesnou en gesê sy is ʼn h*** en ʼn s***.

Só het Brandon Victor (19) Woensdag in die hooggeregshof in Mmbatho in Noordwes getuig. Victor was ten tyde van die moorde ’n matriekleerder aan die Hoërskool Stella en romanties betrokke by Sharnelle. Hy het beplan om haar uit te vra.

Die hof het vanoggend gehoor dat Victor die betrokke aand van 25 Mei 2018 laataand by Sharnelle en Marna in hul koshuiskamer in Stella gekuier het.

Die twee vriendinne was die enigste meisies wat die Vrydagaand in die meisieskoshuis geslaap het. Victor het saam met sy rugbyspan in die seunskoshuis geslaap voordat hulle die volgende oggend met ’n bus Koster toe sou vertrek vir ’n rugbywedstryd. Dié bus sou Sharnelle en Marna se vervoermiddel na haar ma se huis op dié dorp wees, verduidelik Victor.

“Ek was [die aand van die moorde] in my kamer gewees. Sharnelle het oor WhatsApp vir my gevra of ek wil oorkom. Toe vra ek of die deur van die koshuis oop is,” vertel Victor.

Hy verduidelik dat hy omstreeks 23:15 na Sharnelle en Marna se kamer gegaan het. “Ons het koffie gedrink, gekuier en gesels.”

Die getuie Brandon Victor tydens die verhoor van die Stella-moorde. (Foto: Tania Heyns)

Volgens Victor het Sharnelle se foon op een van die beddens gelê toe daar ’n oproep van Bylsma deurkom. Hy wou vir haar klere bring in ’n poging om haar te sien, verduidelik hy.

“Ek kan nie alles presies onthou nie, maar sy het die foon opgetel. Hy het vir haar gevra is ek by haar. Toe sê sy vir hom ‘nee’. Hy het haar gevra kan sy na ’n ander kamer stap en sy het gesê sy sal. Sy het tot by die deur en toe terug tot by haar bed geloop. Hy het vir haar gevra of sy alleen is. Toe sê sy ‘ja’. Hy het gevra of hy haar klere vir haar kan bring. Sy het ‘nee’ gesê. Hy het toe gevra of die deur na die koshuis oop is. Sy het gesê die deur is nie oop nie en dat hy die klere vir Marna deur die venster op die onderste vloer van die koshuis moet gee.

“Hy het vir haar gesê hy sal ’n plan maak om die deur oop te maak. Sy het gesê sy sal vir Marna stuur om die klere by die venster te kom haal. Toe is daar ’n oomblik stilte. Hy het begin hard praat teenoor haar. Ek kan nie presies onthou wat daar gesê is nie, maar wat ek wel kan onthou, is dat hy vir haar gesê het: ‘Ek hoop jy gaan tevrede wees met wat ek vanaand gaan doen.’” Dit is tóé dat Bylsma haar glo ook die ander beledigende woorde toegesnou het.

Dié gesprek was nie langer as twee of drie minute nie.

Volgens Victor was Sharnelle gespanne ná die oproep. Hy het gevra of hy moet oorslaap by haar en Marna en of sy eerder in die seunskoshuis wou gaan slaap. Sy het verduidelik dat sy eerder nie in die moeilikheid wil beland nie en die twee het mekaar net ná 01:00 gegroet.

In sy koshuiskamer gekom, het hy ’n laaste keer met haar oor WhatsApp gepraat om te hoor of sy orraait is, waarna hy gaan slaap het. Min wetend dat dit die laaste keer is wat hy haar lewend sou sien.

Sharnelle Hough

Sharnelle en Marna se liggame is die oggend van 26 Mei 2018 in hul koshuis by die Hoërskool Stella gevind. Albei is verwurg.

Victor het dié nuus ontvang, net oomblikke voordat hy op die rugbyveld in Koster sou uitdraf. “Ek was gebroke.”

Hy verduidelik aan die hof dat hy nie Bylsma se oproep in die kamer ernstig opgeneem het nie. “[Bylsma] het ’n neiging gehad om selfmoorddreigemente te maak of dat hy iets aan homself gaan doen. In my oë wou hy haar net weer probeer sag maak.”

Daar is vanoggend in die hof aan Victor gevra waarom hy die beledigings aan Sharnelle meer as 18 maande later kan onthou.

“Hoekom onthou jy daardie presiese woorde?” het staatsaanklaer Johan Smit gevra.

“Hy het baie keer goed gesê wat seergemaak het. Ek was geskok oor dit wat hy gesê het terwyl ek in die kamer was, want ’n mens praat nie so voor ’n vrou nie.”

“Sal jy ooit daardie woorde vergeet?”

“Ek glo nie,” het Victor geantwoord.

Die verdediging se adv. Sakkie Nel het gedurende kruisondervraging aan Victor gevra of enigiemand die betrokke aand gesien het dat hy na Sharnelle en Marna se kamer gegaan het.

“Sover ek kan onthou, nee.”

“So, die enigste mense wat weet dat jy na hulle toe gegaan het, is jy, Sharnelle en Marna?” wou Nel weet.

“Korrek,” het Victor geantwoord.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JohanR ·

My gooiste maar daai groen oog van jaloesie kan ‘n mens darem wrede dinge laat doen. Party kan ‘n uitmaak met iemand hanteer en aanbeweeg, maar in anders bars daai aar net in die brein, dan begin die beplanning, en dan neem verwoesting oor!!

Lindie ·

Hierdie seun laat my aan die spreekwoord dink
van “stille water diepe grond….” die moorde was so onnodig en wreed. Ek is jammer vir sy ouers wat met al hierdie goed sal stoei tot hulle eendag hul hoofde neêrle. Die meisies sê ouers wat hul lewens gaan om treur. Tragies.

Elize ·

Dit gaan my verstand te bowe dat daar geen toesig was by die koshuise en dat die deure daardie tyd van die nag nog ongesluit was.

johan II ·

Klink nie of jy in n skoolkoshuis was nie…moet dalk maar nie nog iets skryf nie.

Ronel ·

Presies wat ek van die begin gese het! En ek WAS ook in ‘n koshuis, maar ons het toesig en reels gehad! Hoe op aarde kon deure net oopgelos word? Waarom het die koshuismoeder gaan slaap terwyl die deur oop was?

Realis ·

Stem 100% saam met jou Elize! Die Skool en Koshuis was ernstig nalatig!!

Nelia van Zyl ·

Ek is stom – hoe is dit moontlik dat ‘n skoolkoshuis vir meisies laatnag oop deure het en dat seuns na middernag in hul kamers kuier??Ek was in die onderwys en het nog nooit hiervan gehoor nie! As my dogter in daardie skoolkoshuis was waarvoor ek duur moet betaal en glo sy is veilig, sou ek vir dié skool en sy koshuis saam met Bylsma voor die hof gedaag het om te verduidelik.

Willie ·

Lyk Na wel opgevoede kind wat Alles gehad het in die lewe. Dit wat hy gedoen het last my dink of hy nie in n huishouding was en goed moes ervaar het dat hy verander het in n monster nie. So onnodig want hy kon sekerlik n mooi Ander meisie raskgeloop het.

Rooikop ·

Verstom my !!!!! Hoe is dit moontlik dat die koshuisdeur oop was ????

Niks sou gebeur het as daar behoorlike toesig was deur die matrone en gesorg het dat die
deur gesluit was………….. Jammer, maar sy het deel aan hierdie verskriklike gebeurtenis.

Maria ·

Ja stem saam met die huidige hoë vlakke van misdaad in die land sou mens dink deure van geboue word gesluit…veral waar twee jong meisie snags alleen is.

Anna ·

Nalatigheid en onbedagsaamheid van skool en koshuis . Deure kan nie oopstaan vir n hele nag, en jong kinders, sluip rond soos hulle wil. dis “MOEILIKHEID” soek PUNT!!!

LANA ·

Moenie die klem probeer verskuif na die persoon wat die deure moes sluit nie!
Ek sien Sakkie Nel probeer ook die klem verskuif na “iemand anders” wat betrokke kon wees.
Die feit dat mense die klem verskuif, het al baie jong mense se ondergang beteken, want die moeilikheid kom nie reguit na die spesifieke persoon toe nie. Ander moet altyd die skuld kry.

Ronel ·

LANA, indien die deure wel gesluit was sou die moorde heel waarskynlik nooit plaasgevind het nie! En hier word geen blaamverskuiwing gedoen nie, dis net dat by enige skoolkoshuis sekere reels moet geld en natuurlik is die veiligheid van die dogters van die grootste belang.

Wel ·

En tog sluit ons deure en venster en skelms kom steeds in…..waar n pes wil in sál hy in ongeag van reëls, regulasies en voorsorg.

Dottie ·

Wees maar versigtig vir mans wat vroue so lelik vloek. Al is dit kastige grappe. Daar skuil geweld agter daai aaklige woorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.