Stella-saak: Só wys Xander, Sharnelle se selfoonrekords

Xander Bylsma in die hof. (Foto: Tania Heyns)

Selfoonrekords plaas die moordbeskuldigde Xander Bylsma die oggend van die moorde op sy eksmeisie, Sharnelle Hough, en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht, in die omgewing van Stella in Noordwes.

Die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes het Donderdagoggend ’n ontleding van Bylsma, sy eksmeisie, Sharnelle, en sy gewese vriendin, Anastasia Visser, se selfoonrekords aangehoor. Rekords van kort vóór die moord op Sharnelle en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht, in 2018 is ontleed.

Kapt. Johann Botes is vroeër deur die ondersoekbeampte in die saak versoek om die drie jongmense se selfoonrekords vanaf 24 en 26 Mei 2018 na te gaan. Hy was ten tyde van dié versoek verbonde aan die direktoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke).

Sharnelle en Marna se liggame is die oggend van 26 Mei in hul koshuis by die Hoërskool Stella gevind.

Botes het die data op verskeie kaarte uiteengesit in die vorm van ’n tydlynvergelyking waaroor hy vanoggend in die getuiebank getuig het.

Volgens Botes het Bylsma vir Sharnelle die oggend van die moorde (26 Mei) verskeie keer gebel. Die eerste oproep na Sharnelle is omstreeks 01:09 gemaak. Dié oproep het 23 sekondes geduur.

Luidens een van die kaarte is ’n tweede oproep vanaf Xander na Sharnelle omstreeks 01:10 gemaak. Dié oproep het 117 sekondes geduur. ’n Derde oproep is omstreeks 02:30 gemaak wat 60 sekondes geduur het.

Hierna het die oproepe al korter geword.

Botes verduidelik die selfoonrekords toon dat ’n vierde oproep omstreeks 02:36 gemaak is wat agt sekondes geduur het.

’n Vyfde oproep het kort daarna omstreeks 02:37 gevolg. Dié oproep het slegs een sekonde geduur.

Die laaste oproep vanaf Xander na Sharnelle het omstreeks 02:38 plaasgevind. Die oproep het egter nul sekondes geduur. Volgens Botes wys dit óf dat Sharnelle se selfoon afgeskakel was óf die foon was bloot nie geantwoord nie, óf die oproep is direk na ’n antwoordmasjien gestuur.

Een van Botes se kaarte wys verdere aktiwiteite omstreeks 03:07 op Bylsma se selfoon. ’n Selfoontoring in Stella het dié aktiwiteit in sy opvangsgebied opgevang. ’n Toring op dieselfde mas het omstreeks 03:26 aktiwiteit van Bylsma se selfoon opgevang.

Hy was dus teen dié tyd steeds in die omgewing van Stella, verduidelik Botes.

Die laaste aktiwiteit op Bylsma se selfoon plaas Bylsma omstreeks 05:01 in die opvangsgebied van ’n selfoontoring in Vryburg.

Kapt. Johann Botes getuig in die Stella-moordsaak. (Foto: Tania Heyns)

Maroela Media het vroeër berig Bylsma het gedurende die voorverhoor aan die hof gesê hy was gedurende die aand van 25 Mei 2018 en die oggend van 26 Mei 2018 in Stella om met Hough “oor hulle probleme te praat”.

Volgens Bylsma het die twee buite die koshuis gesels waarna hy kort ná 03:00 in die pad geval het na sy ma se huis in Vryburg en Hough is terug in die koshuis in.

Botes het vanoggend ook getuig oor die oproepe tussen Xander en Visser op 25 Mei 2018.

Die selfoonrekords tussen dié twee toon die eerste oproep is omstreeks 17:55 gemaak en het 100 sekondes geduur. ’n Tweede oproep omstreeks 18:21 het 433 sekondes geduur en hul laaste gesprek omstreeks 18:30 het 373 sekondes geduur.

Visser het in haar getuienis aangevoer dat Bylsma gedurende dié telefoongesprekke woedend was vir Sharnelle oor foto’s wat sy vir haar nuwe kêrel Brandon Victor gestuur het. Bylsma het glo aan Visser gesê het hy gaan sorg dat Sharnelle selfmoord pleeg al moet hy die oorsaak daarvan wees. Hy het ook gesê hy sal haar lewe hel maak en die foto’s vir haar pa, Ronnie Hough, wys.

Xander ontken egter dat dié gesprek ooit plaasgevind het. Hy voer aan dat hulle eerder gesels het oor tugstappe wat in daardie stadium teen Visser by haar skool gedoen is.

“Ek was nog nooit dissiplinêr verhoor by Hoërskool Hoopstad nie,” het Visser volgehou.

Visser het verder getuig dat sy vir Bylsma probeer kontak het nadat sy van die moorde te hore gekom het. Botes sê egter dat dié gesprek dan eerder vanaf iemand anders se selfoon gemaak moes word, aangesien die selfoonrekords nié dié oproep aandui nie.

Bylsma sal na verwagting môre (Vrydag) getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Jammer het net twee vra hier. 1. Het die ou ‘n meisie vervurg, en haar liggam oor ‘n trap balustrade gegooi/gehang soos ‘n hond, of ‘n stuk vleis? 2. Het die ou ‘n meisie se kaak stukkend geslaan, haar dan vervurg, en haar liggaam op ‘n badkamer se vloer gelos? Soos hulle se in Engels……the rest is immaterial. Gee nie eintlik om vir die ou se “state of mind” nie!!

PJC

Die fet dat die beskuldigde sekere uitwysings aan die polisie gedoen het sê mos reeds alles en nou probeer sy vedediging hom los lieg. Intussen sit die ouers van die vermoorde meisies met al die hartseer en trauma. Wat ń skande.

Heksie

Dié Xander moet ophou prober om homself so te verontskuldig … sluit hom toe en gooi die sleutel weg!

Sic?

Sou graag n foto van die pa ook wou sien .

Gwen

Hy is ‘n siek mens wat uit die samelewing verwyder moet word. Sy prokureur sal enige iets doen vir geld. Dit is wat meeste van hulle doen, verdraai die waarheid en val onskuldge mense aan, net om siek mense toe te laat om aan te gaan met hul lewens ongeag die hartseer wat hulle veroorsaak het.