Stella-saak ‘werklik swak ondersoek’

Xander Bylsma Dinsdag in die hof in Mmbatho. (Foto: Tania Heyns)

Die verdediging het Dinsdag gedurende sy slotbetoë in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes aangevoer dat die moordbeskuldigde Xander Bylsma (20) reeds vroeg in die ondersoek na die moorde op Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) ʼn alibi gehad het.

Dié alibi is egter nooit deeglik ondersoek nie, het adv. Sakkie Nel, Xander se regsverteenwoordiger, aangevoer.

Nel het vanmiddag aan die hof verduidelik dat die vragmotor wat Bylsma volgens hom die oggend van 26 Mei 2018 omstreeks 04:00 op die plaas Kameelfontein gesien het, daarop dui dat hy nié die betrokke oggend boodskappe vanaf Sharnelle se foon aan haar pa, Ronnie Hough, kon stuur nie.

Bylsma se ma het in dié stadium op dié plaas gewoon en vir die eienaar van die plaas se vervoermaatskappy gewerk.

Nel het die hof daaraan herinner dat Brandon Victor, Sharnelle se nuwe kêrel, se vingerafdrukke haar foon se wagwoord kon ontsluit. Die verdediging het ook daarop gewys dat Bylsma se weergawe oor die gebeure van daardie aand meer oortuigend as Victor se weergawe is.

“Die beskuldigde het reeds in ʼn baie vroeë stadium aangedui waar hy omstreeks 04:00 daardie oggend was. Die vragmotorbestuurder se getuienis is van deurslaggewende belang. Dit is egter nooit deur die ondersoekbeampte ondersoek nie. Dít is aanduidend hoe die alibi benader is. Daar is geen moeite gedoen om die getuie op te spoor en die getuie in die hof te kry nie,” meen Nel.

Die staat voer aan dat Bylsma oor dié tyd gejok het en werklik eers 05:00 op die plaas gekom het. Staatsaanklaer adv. Johan Smit het ook vroeër vandag gesê Bylsma het die vragmotor in Vryburg gesien en nié op die plaas soos hy beweer nie.

Die getuie Brandon Victor tydens die verhoor van die Stella-moorde. (Foto: Tania Heyns)

Volgens Nel is Victor sekerlik die belangrikste getuie.

“Die meisies het versoek dat die koshuisdeur oopgelos word om klere te kry. Wie het hulle verwag? Dit is waarskynlik dat daar wel ʼn ooreenkoms tussen Xander en Sharnelle was om mekaar daardie aand te ontmoet. Daar is vraagtekens oor Brandon se getuienis. Was hy werklik daar daardie aand of het hy later eers gehoor dat Xander vir Sharnelle ontmoet het?

“Was daar toe ʼn konfrontasie tussen Sharnelle en Brandon? Hy het in sy getuienis hom [in haar kamer] op haar bed geplaas. Wat het daarna gebeur? Van Sharnelle se bloed is op die bed gekry. Hoe het dit daar gekom?” wou Nel weet.

Nel het verduidelik dat hy geensins sê Victor het die moorde gepleeg nie, maar slegs bewys dat daar redelike twyfel bestaan. Indien dit die geval is, mag die hof nie ʼn beskuldigde skuldig bevind nie, het Nel daarop gewys.

“Dit is vreemd dat Brandon daardie aand uit die seunskoshuis kon gaan sonder dat iemand hom gesien het. Dit is ook hoogs onwaarskynlik dat hy bloot sou gaan slaap indien Xander dreigemente teenoor Sharnelle gemaak het. Dit is ook onwaarskynlik dat hy die volgende oggend sou opstaan en nie met haar kontak maak nie. Sharnelle sou die oggend saam per bus gery het en hy het nie navraag gedoen oor waar sy is nie.

“Met respek, dit is baie vreemde optrede.”

Nel erken dat Bylsma weens talle teenstrydighede nie ʼn goeie getuie in die verhoor was nie, maar meen dat Victor ook nie ʼn goeie indruk gelaat het nie. “Hy was baie vaag wanneer dit hom pas.”

Regter Ronald Hendricks wou by Nel weet waarom Victor die foto’s aan Sharnelle se pa sou stuur, waarop hy geantwoord het: “Dit is nie te vergesog om te sê hy het dit gedoen om die aandag van homself af te trek nie.”

Volgens Nel kan die bekentenis en uitkennings wat Bylsma destyds kort ná die moorde gemaak het en nou betwis, nié bo redelike twyfel bewys word nie. Die hof het dié bewysstukke voorlopig aanvaar.

“Indien dit moontlik is dat daar enige redelike afleiding is, moet die beskuldigde die voordeel kry.  Brandon is beslis ʼn redelike afleiding. Hierdie ondersoek is werklik baie swak gedoen. Alles is ondersoek met die oog daarop dat Bylsma die skuldige is. Brandon se DNS is nooit aangevra nie en Marna se selfoon is nooit ondersoek nie. Die alibi is ook nie deeglik ondersoek nie en ons weet nie eens of daar ooit vingerafdrukke op die toneel geneem is nie,” sê Nel.

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Die verdediging vra ook nou dat die bekentenis en uitkennings gewysig en nie meer toegelaat word nie.

Smit het egter beswaar daarteen gemaak.

“Xander Bylsma was destyds [met die alibi] in die gedagtegang om alles te ontken. Hierdie alibi was dus eintlik geen alibi nie, want daar word niks daarvan in die eerste getuienis waarvan die staat bewus geraak het, genoem nie.

“Daar is geen manier dat my geleerde vriend [Nel] kan sê dat ons nie werklik weet wat daar gebeur het nie. Dit is in die bekentenis en uitwysings. Gaan kyk na die inhoud van die bekentenis en uitwysings. Dit vertel ʼn storie. Daar is géén rede om dit te wysig nie,” meen Smit.

Smit meen indien die saak swak ondersoek is, kan dit nie net voor die deur van die ondersoekbeampte gelê word nie, maar ook voor syne.

“Ons het nooit ʼn alibi gehad nie. Ons het ʼn bekentenis gehad. Daar was nie sprake van ʼn alibi nie. Hierdie saak is inderdaad ʼn verhaal van smart, hartseer, jaloesie en vergelding. ʼn Storie wat sin maak.”

Die saak is tot 17 en 18 Februarie uitgestel vir uitspraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

G Keen ·

Waarom het die verdediging nie die vragmotorbestuurder opgespoor en in die hof laat getuig as dit hulle kliënt se beweging /bewering kon bevestig het – nie?

jaco ·

Wit vrou is vermoor. Volgens ons anti-wit regstelsel is dit “mos maar net 1 wit mens; 1 wit probleem minder”. So waarom nou die moorde beter ondersoek?

SjN ·

Is die swak ondersoek nie weens n gebrek aan bevoegdheid nie?

se net ·

Ek wonder hoe slaap prokureurs en advokate wat mense onskuldig laat verklaar, as hy/sy weet dat dai persoon skuldig is?
Iets wat in die saak my pla. Hoe leef jy met jouself as jy n ander persoon as n pion gebruik om uit die selle te bly en toe te sien dat iemand anders vir jou daad moet boet?.

Griet Verdriet ·

Anders as wat jou kommentaar op jou onkunde dui, slaap ons baie maklik dankie. Ons slaap net moeilik as ons weet die getuienis dui aan op iemand se onskuld maar skuldig bevind kan word op grond van gebrekkige getuienis en ondersoeke.

Dit is nie die werk van die prokureur of advokaat om te besluit of ‘n klient skuldig of onskuldig is nie. Dit is die werk van die hof. As ‘n klient sy onskuld pleit en die getuienis van die saak staaf dit, dan is so persoon geregtig om verdedig te word in daardie verband. As die klient se verweer of instruksies ongeloofwaardig is (saamgelees met die getuienis van die saak) sal prokureurs en advokate so klient adviseer om skuldig te pleit.

Griet Verdriet ·

Dit is nie die verdediging se werk om hul klient se onskuld te bewys nie, maar die staat se werk om hom skuldig te bewys. Die verpligting val op die staat, sodra die alibi verweer word, om die teendeel te bewys.

‘n Beskuldigde word vermoed om onskuldig te wees todat hy skuldig bewys word.

Net n vraag ·

Net 1 vraag aan die regsgeleerders wat Xander verdedig en aan hom, wat het van jou storietjie geword van al die kennis van wat werklik gebeur het en wie dit is, dit was nou die tyd om dit te deel. Dit is die staat se werk om dit te bewys, maar die flou verskonings van hom en sy regspan laat mens regtig wonder of hul slaap en ek moet sê, ek weet van min waar ‘n regspan beskuldigdes aandui om skuldig te pleit, dit sal ‘n goeie stry afgee, want dit gaan oor geld en moontlike tronk vryspring. Die sake spreek vir hulself en dit is nie media berigte, maar werklike bewyse voor die hof in die sake en regspanne probeer met vasvra tegnieke werklike skuldiges laat vry kom, dit is maar vir eerlike mense ‘n bitter pil om te sluk, veral as jy familie verloor het of dierbare klein dogtertjies was gemolesteer en die skade daarvan aan almal rondom hulle.

Sommer so. ·

As ons kyk na die bekentenis was dit onder dwang ( voor sê) gedoen en dat beskuldigde regs verteenwoordiging ge weier is . Die verdediging moes die DNA opvolg en die staat dagvaar om te kom getuig. Vreemde DNA is onder oorledende se naels gekry sowel as OP die handsak waarmee tweede oorledende verwurg is. Die staat is deur die verdediging gevra om vragmotor bestuurder te dagvaar om te kom getuig waarna die saak uitgestel was. Die ondersoek beampte e-pos die dagvaardiging na vragmotor bestuurder se werk. Dagvaardigings Moet per hand gedoen word en ontvangs Moet geteken word volgens wet. So wie het hier nie hulle werk gedoen nie? Dit is n offisier in die polisie. Skokend!

Marietjie Stander ·

Ek voel die hof moet bo redelike twyfel probeer bewys wie die skuldige is. Hulle mors met jong mense se lewe. Jammer dat die meisies hulle lewe verloor het in sulke verhoudings. Daar’s baie onbeantwoorde vra in hierdie saak…

SAP ·

Lyk vir my dat as die saak reg ondersoek was sou die regte persoon in die tronk gesit het. Ek glo baie mense wil graag weet wie se DNS is onder die naels en op die handsak gekry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.