Stella-saak: Xander se ‘helderheid’ in hof betwis

Xander Bylsma in die hof. Foto: Mariné Lourens

Xander Bylsma (19) se nugter denke en verstandelike helderheid toe hy in Mei verlede jaar ʼn moordbekentenis aan die polisie afgelê het, was Donderdag onder die vergrootglas in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes.

Bylsma word aangekla van die moord op sy eksmeisie, Sharnelle Hough (17), en haar vriendin, Marna Engelbrecht (16). Die twee meisies se liggame is op 26 Mei 2018 in hul koshuis by Hoërskool Stella aangetref. Sharnelle se liggaam het aan ʼn nylontou aan ʼn trapreling gehang, terwyl Marna se liggaam met ʼn handsakband om haar nek in die badkamer aangetref is.

Die verdediging het tydens Bylsma se verhoor aangevoer hy het die dag wat die meisies se liggame gevind is ʼn oordosis Serdep-medikasie geneem. Serdep word gewoonlik voorgeskryf vir angs en depressie. Bylsma beweer hy het dié dag tien Serdep-tablette gedrink omdat hy selfmoord probeer pleeg het.

Bylsma se regspan voer aan dat hy weens die invloed van die medikasie dus nie nugter en helder van verstand was toe hy ʼn bekentenis aan die polisie afgelê het nie.

Kol. Corrie Kochlan, die polisiebeampte wat Bylsma se bekentenis afgeneem het, moes gister bontstaan om onder kruisondervraging oor dié aspek te antwoord. Kochlan het ʼn lys vrae aan die hof voorgehou wat hy beweer hy aan Bylsma gevra en die beskuldigde geantwoord het voordat hy sy bekentenis aan Kochlan gegee het. Die vrae het grootliks te doen met Bylsma se regte as misdaadverdagte en stel hom in kennis van onder meer sy reg om te swyg en sy reg om ʼn prokureur teenwoordig te hê.

Een van die vrae wat aan Bylsma gevra is, sluit in of hy nugter en helder van verstand is. Kochlan het aan die hof gesê Bylsma het hierop “ja” geantwoord.

Die verdediging het dit egter betwis. Volgens adv. Niven Rai, Bylsma se regsverteenwoordiger, het Bylsma inteendeel hierop “nee” geantwoord. Rai beweer Kochlan het daarna vir Bylsma gevra of hy alkohol gedrink het en Bylsma het geantwoord hy drink nie alkohol nie. Kochlan het dié antwoord van Bylsma aanvaar as ʼn bevestiging dat hy nugter is, en het “ja” in antwoord op die vraag op die verklaring geskryf, hoewel Bylsma eintlik nee gesê het.

Kol. Corrie Kochlan, die polisiebeampte wat Xander Bylsma se bekentenis in Vryburg afgeneem het op 26 Mei 2018. Foto: Mariné Lourens

Kochlan het dit ontken en aan die hof gesê Bylsma het beslis gesê hy is nugter en helder van verstand.

Rai het die hof daarop gewys dat daar by dié vraag op Bylsma se verklaring eers “nee” geskryf is, voordat die woord doodgetrek en daar “ja” langsaan geskryf is. Hy het dit gestel dat dit ʼn bewys is dat Bylsma aan Kochlan gesê het hy is nié nugter en helder van verstand nie. Kochlan het egter voet by stuk gehou en gesê die “nee” is bloot doodgetrek omdat hy per ongeluk ʼn fout gemaak het. Bylsma hét “ja” geantwoord, sê hy.

Vandag se verhoor sal begin met die kruisondervraging van lt.kol. Reuben Masire, ʼn polisiebeampte wat eerste met Bylsma gepraat het toe hy in Mei verlede jaar na die speurkantoor in Vryburg gebring is. Ook Masire het gister getuig Bylsma het nugter gelyk toe hy met hom gepraat het en sy spraak was nie aangetas of onsamehangend nie.

Chris Saunders, die private speurder wat beweer Bylsma het sy eerste bekentenis aan hom gemaak in ʼn voertuig op pad na die polisie in Vryburg, het ook getuig dat dit nie voorgekom het of Bylsma onder die invloed van enige middels was toe Saunders met hom ʼn onderhoud gevoer het nie. Op ʼn vraag van Rai hoekom Saunders dan meer as een keer vir Bylsma gevra het of “hy oukei is”, het Saunders geantwoord dit het vir hom gelyk asof Bylsma onder erge spanning of stres is.

Na verwagting sal die hof aan die einde van vandag se hofverrigtinge op ʼn datum besluit wanneer die verhoor weer hervat sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Moord is moord en klaar. Natuurlik sal die verdediging met snert uitkom want did gaan oor geld.

GUESS ·

Ek stem saam jou. Hy sal nou aan enige iets dink om as n verskoning te gebruik. Los weskoppies sluit hom toe en gooi sleutel weg!!!

guess ·

Ek stem saam jou. Hy sal aan enige iets dink om dit te laat maak dat hy onskuldig is

Skerpioen ·

Hy het ‘n oordosis Serdep gedrink omdat hy wou selfmoord pleeg. Nou hoekom sy hy toevallig wou selfmoord pleeg die oggend van die meisies se “selfmoorde”? Dis mos baie verdag? Die eerbare ding hier om te doen is om die moorde te erken en dan jou straf soos ‘n man te vat. Ek kry al die ouers in hierdie saak bitter jammer. Sterkte aan almal selfs aan Xander se ouers ook.

Eben ·

Rai wat probeer jy doen … jou klient het 2 meisies van hul lewe ontneem en jy probeer hom verontskuldig …. mag dit nie met jou gesin gebeur eendag. Hy is skuldig en kry hom agter trallies.

Hannah ·

Voeg by op die lys van aanklagte teen hom”finansieële moord op sy ouers”
Dis hulle wat finanansieël geknak gaan word….nog sal Bylsma nie vry uit stap nie.

GM ·

Die outjie is klein gebou, maar hy kon 10 Serdep pilletjies drink en ‘normaal’ voorkom? Ek dink die mannetjie vat kanse.
Baie angswerende middels laat grootgeboude mense se tonge sleep en maak hul lomerig al neem hul klein dosisse daarvan. Ek weet almal reageer verskillend op medikasie, maar sjoe, ysterman!

Susan ·

Gaan lees wat die newe-effekte van n oordosis is. Slaperig staan uit. Hoe kan so n klrin geboude persoon, wat slaperig is, twee meisies fisies hanteer? Êrens stem feite nie ooreen nie.

Verstaan nie ·

Al was hy hoe onder die invloed van wat ookal, wat van die ou goeie forensiese ondersoeke ens… Dit sal dus die saak ook oplos. Maar hoop vir die beste

Griet ·

Kat op ‘n warm sinkplaat. Sy verdediging word betaal om twyfel te saai.
As hy ‘n MAN was het hy opgestaan en verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar.

Maar aan die ander kant, ‘n WARE MAN vang nie die soort ding aan wat hy aangevang het as sy meisie hulle verhouding verbreek nie. Hierdie knapie het en tree steeds op soos ‘n nukkerige kleuter!

Lana ·

Stem saam, Griet.
Ek sê weer – dis ‘n testosteroon gedrewe mannetjie wat geen selfbeheer toepas nie.
Dit is ‘n KEUSE om te moor.

Oujongvrou ·

Skerpioen jy is reg. Darem baie verdag dat hy dieselfde tyd probeer selfmoord pleeg. Daai pa wat hom wou skiet moes nie net gedreig het nie. Hierdie is tipiese psigopatiese gedrag van die klein mannetjie. Iemand moet navorsing doen oor die effekte wat diere jag het op kinders se verstand het. Ek kan my nie indink hoe dit heilsaam kan wees as jong kinders diere dood nie.

anonieme plaasjapie ·

200% stem ek met jou saam! Die beeindiging van ‘n lewe, hetsy mens of dier, dmv ‘n koeel, ‘n mes of watookal is brutaal en net ‘n bewys dat meeste mense nie evoleer het deur die jare wat dit betref nie. Ek ken geen boer wat self sy skaap keelaf sny nie….sy werksmense doen dit. Statisties is dit ook waar die meeste mesaanvalle plaasvind, …dink mense dink……die mens kan nie lewe skep nie,….tog gou om dit te neem.

Gys ·

Sluit die dood van diere ook insekte en goggas soos vlieë en muskiete in? Is daar n verskil om n bok te dood of n insek te dood? Alle diere is tog gelyk geskape, of hoe? Ek neem aan oujongvrou en plaasjapie maak geen goggas dood nie?

Abe ·

Gys,
Jou argument gaan nie heeltemaal op nie. Daar is tog n verskil in die status van diere en die rede waarom diere doodgemaak word verskil ook aansienlik van insident tot insident. Bv. om n wildsbok te jag vir die sg. “plesier” is baie anders as om n bees te slag vir vleisproduksie.

June ·

Hy is n lafaard. Het moord gepleeg, en wou dit laat lyk soos selfmoord. Flou poging aangewend om ook selfmoord te pleeg, pleks hy liewers een van sy jaggewere gebruik het, sou beter as serdep gewerk het.

Tammy ·

Die mannetjie is n opperste manipuleerder, waar kom sy selfmoordstorie nou so skielik vandaan? Leuens soos ek nog nooit gehoor het nie. Sou graag sy omstandighede van geboorte af wou weet? wat het hy al alles in sy lewe verbrou .
Die brief wat hy in die tronk vir sy ma geskryf het spreek boekdele. Praat die waarheid en kry dit agter die rug, Hou net op met al die snert stories asseblief .

Hannetjie ·

Ek onthou maar altyd die gesegde van:groen koring op die land.Maar..dit frustreer my as blaamverplasing gebruik word.Dis drank of dwelms of soos nou die pille vir angs.Hy sou toetentaal nie instaat gewees het te loop na daardie pille nie.Voel baie jammer vir al die mense geraak deur hierdie moorde.Dit is ook so dat met moord weggekom word..maar sou jy dalk iemand met rede ‘n taai klap gee, dan gaan jy tronk toe

Helen ·

Jammer hy het nie ‘n dag vroeër selfmoord gepleeg nie, want dan het daai twee kinders nog geleef en was daar nie nou só baie hartseer in soveel nense se lewens nie. Hy is ‘n pateet en as hy wel die pille gedrink het soos hy beweer, het hy seker gemaak dit gaan hom nie in die ewigheid in vat nie. Vroeg ryp vroeg vrot en dit het ‘n kind wat niks met die hele besigheid te doen gehad het nie, haar lewe ook gekos.

Stella Berning ·

Inderwaarheid is n klomp mense daardie dag dood. Hiermee sy ouers ingesluit. En hy probeer nog steeds met leuns los kom.

lanie ·

Dis jammer sy poging het nie geslaag nie. “Drama Queen” se moses.

lanie ·

Jammer sy pogin het nie gewerk nie. Moes harder probeer het.

Abe ·

MM,
Dankie vir baie volledige beriggewing oor die Stella-moorde gedurende die afgelope hofsittingsdae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.