Stella: Vriendinne saam begrawe

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16), die twee vriendinne wat die naweek in hul skoolkoshuis in Stella in Noordwes vermoor is, sal saam begrawe word.

Richard Hobson, voorsitter van die Hoërskool Stella se beheerliggaam, het gesê die begrafnisdiens sal Vrydag in die NG Kerk Vryburg-Noord gehou word. ʼn Spesiale gedenkdiens is Maandag by die skool vir Sharnelle en Marna gehou.

Volgens Hobson word daar intussen steeds intensiewe berading by die skool vir leerders en onderwysers aangebied. Hy het bevestig dat die skool ná afloop van die begrafnis dringend daaraan sal aandag gee om veiligheidsmaatreëls en -prosesse by die skool op te skerp.

Sharnelle en Marna was Vrydagaand glo alleen in die koshuis toe hulle vermoor is. Die meisies, albei in gr. 11, was veronderstel om Saterdagoggend die skoolbus te haal om sport op Koster te gaan kyk.

Freddy Sepeng, woordvoerder van die provinsie se departement van onderwys, het vroeër aan Maroela Media gesê om dié rede het die meisies met die skool gereël om in die koshuis oor te slaap terwyl die ander koshuismeisies vir die naweek huis toe was.

Kapt. Charlize van der Linden, woordvoerder van die Stella-polisie, het aan Maroela Media verduidelik die koshuis by die hoërskool is in twee vleuels verdeel, een vir seuns en een vir meisies.

“Die seuns het in die koshuis oorgebly vir die volgende dag se sport, maar die twee meisies was alleen in hul gedeelte van die koshuis,” het Van der Linden gesê. “Die koshuismoeder was wel daar, maar sy beweer die meisies het haar versoek om die veiligheidshek vir hulle oop te laat aangesien hulle glo gewag het vir iemand om vir hulle klere te bring.”

Sharnelle Hough en Xander Bylsma . Foto: Via Facebook

Sharnelle en Marna is Saterdag vermoedelik tussen 02:00 en 03:00 vermoor. Toe hulle nie die oggend die bus haal nie, het die koshuismoeder na hulle gaan soek en op Sharnelle se liggaam afgekom waar sy aan ʼn nylontou aan die trapreling hang. Die polisie is ontbied en Marna se liggaam is in die badkamer aangetref. Sy is moontlik verwurg en daar was ʼn handsakband om haar nek.

Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur om vas te stel of vuilspel betrokke was, maar dit is spoedig na moord verander. Die enigste verdagte tans in die ondersoek, Xander Bylsma (19), is dieselfde dag by sy huis in Stella in hegtenis geneem. Bylsma en Sharnelle was voorheen in ʼn verhouding, maar het die verhouding beëindig.

Bylsma het Maandag vlugtig in die Vryburg-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord. Hy het nie om borgtog aansoek gedoen nie en die saak is tot 6 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding. Dit is nog nie duidelik wat die motief vir die moorde was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wanda

Dit is so hartseer. As mamma van ñ 18 jarige dogter kan ek myself nie eers voorstel aan die pyn waardeur hul ouers nou gaan nie. Hoe maak mens ooit vrede met so iets. Baie sterkte aan die betrokke families. Ons hou julle in gebed.

Hannelie

Baie sterkte aan die 3 gesinne wat hierdeur geraak is. Mag jul vertroosting vind by ons Vader.

honourable member

Hierdie is n groot tragedie en baie sterkte aan die families.

Abe

Die skool sal na die begrafnis dringend aandag daaraan gee om veiligheidsmaatreels en prosesse op te skerp. – Dis mosterd na die maal, ‘Shutting the stable door when the horse has bolted’

MCS

Kan geen rede sien waarom veiligheidsmaatreëls verskerp moet word. Die persoon wat die meisies leed aangedoen het was aan hul bekend en het dalk daar gaan kuier vir hul of het geweet hul bly oor in die koshuis. As die meisie die klere ontvang het waarvoor hul gewag het waarom het hul nie self verseker dat hul veilig was en hek gesluit nie. Ons almal weet hoe belangrik sluit van deure is in ons land.Die daad is gepleeg toe almal lankal in droomland moes wees, geen een sou daai tyd van nag nog klere kom aflaai nie. Maar nietemin dit… Lees meer »