Stella: Vriendinne saam begrawe

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16), die twee vriendinne wat die naweek in hul skoolkoshuis in Stella in Noordwes vermoor is, sal saam begrawe word.

Richard Hobson, voorsitter van die Hoërskool Stella se beheerliggaam, het gesê die begrafnisdiens sal Vrydag in die NG Kerk Vryburg-Noord gehou word. ʼn Spesiale gedenkdiens is Maandag by die skool vir Sharnelle en Marna gehou.

Volgens Hobson word daar intussen steeds intensiewe berading by die skool vir leerders en onderwysers aangebied. Hy het bevestig dat die skool ná afloop van die begrafnis dringend daaraan sal aandag gee om veiligheidsmaatreëls en -prosesse by die skool op te skerp.

Sharnelle en Marna was Vrydagaand glo alleen in die koshuis toe hulle vermoor is. Die meisies, albei in gr. 11, was veronderstel om Saterdagoggend die skoolbus te haal om sport op Koster te gaan kyk.

Freddy Sepeng, woordvoerder van die provinsie se departement van onderwys, het vroeër aan Maroela Media gesê om dié rede het die meisies met die skool gereël om in die koshuis oor te slaap terwyl die ander koshuismeisies vir die naweek huis toe was.

Kapt. Charlize van der Linden, woordvoerder van die Stella-polisie, het aan Maroela Media verduidelik die koshuis by die hoërskool is in twee vleuels verdeel, een vir seuns en een vir meisies.

“Die seuns het in die koshuis oorgebly vir die volgende dag se sport, maar die twee meisies was alleen in hul gedeelte van die koshuis,” het Van der Linden gesê. “Die koshuismoeder was wel daar, maar sy beweer die meisies het haar versoek om die veiligheidshek vir hulle oop te laat aangesien hulle glo gewag het vir iemand om vir hulle klere te bring.”

Sharnelle Hough en Xander Bylsma . Foto: Via Facebook

Sharnelle en Marna is Saterdag vermoedelik tussen 02:00 en 03:00 vermoor. Toe hulle nie die oggend die bus haal nie, het die koshuismoeder na hulle gaan soek en op Sharnelle se liggaam afgekom waar sy aan ʼn nylontou aan die trapreling hang. Die polisie is ontbied en Marna se liggaam is in die badkamer aangetref. Sy is moontlik verwurg en daar was ʼn handsakband om haar nek.

Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur om vas te stel of vuilspel betrokke was, maar dit is spoedig na moord verander. Die enigste verdagte tans in die ondersoek, Xander Bylsma (19), is dieselfde dag by sy huis in Stella in hegtenis geneem. Bylsma en Sharnelle was voorheen in ʼn verhouding, maar het die verhouding beëindig.

Bylsma het Maandag vlugtig in die Vryburg-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord. Hy het nie om borgtog aansoek gedoen nie en die saak is tot 6 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding. Dit is nog nie duidelik wat die motief vir die moorde was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Wanda ·

Dit is so hartseer. As mamma van ñ 18 jarige dogter kan ek myself nie eers voorstel aan die pyn waardeur hul ouers nou gaan nie. Hoe maak mens ooit vrede met so iets. Baie sterkte aan die betrokke families. Ons hou julle in gebed.

Hannelie ·

Baie sterkte aan die 3 gesinne wat hierdeur geraak is. Mag jul vertroosting vind by ons Vader.

honourable member ·

Hierdie is n groot tragedie en baie sterkte aan die families.

Abe ·

Die skool sal na die begrafnis dringend aandag daaraan gee om veiligheidsmaatreels en prosesse op te skerp. – Dis mosterd na die maal, ‘Shutting the stable door when the horse has bolted’

Francois le Cochon ·

@Abe – Die sluit van die veiligheidshek sou ‘n ander risiko wees. Wat van as die hek gesluit was, en daar ‘n brand uitgebreek het. Die meisies sou dan heel moontlik doodgebrand het. In skoolkoshuise word kinders agter slot en grendel gehou. Dit is ‘n risiko, want net een persoon op diens het gewoontlik ‘n sleutel.

MCS ·

Kan geen rede sien waarom veiligheidsmaatreëls verskerp moet word. Die persoon wat die meisies leed aangedoen het was aan hul bekend en het dalk daar gaan kuier vir hul of het geweet hul bly oor in die koshuis. As die meisie die klere ontvang het waarvoor hul gewag het waarom het hul nie self verseker dat hul veilig was en hek gesluit nie. Ons almal weet hoe belangrik sluit van deure is in ons land.Die daad is gepleeg toe almal lankal in droomland moes wees, geen een sou daai tyd van nag nog klere kom aflaai nie. Maar nietemin dit bly ‘n hartseer saak en het gebeur. Sterkte aan ouers, leerlinge en skool.

kas ·

MCS sou die tragedie plaasgevind het as die koshuismoeder die versoek geweier het om die hek oop te los vir iemand om vir hulle klere te bring.Kon die persoon nie die klere vir die koshuismoeder gevat het nie.Wat ookal gaan gebeur dit gaan insidente soos die in die toekoms uitskakel maar realiteit is twee pragtige meisies is vermoor wat nooit vermoor moes gewees het nie.

Wiekie ·

Sterkte aan al die families, julle is in ons gebede deur die moeilke tyd.

Willie ·

Help nie om nou vingers te wys nie, did ongelukkig mostert na die maal… Baie sterkte aan die oorledenes se families! Mag God jul in sy hand vashou in die moeilikke tyd

Nicky ·

Genade dit is baie hartseer. En ek dink daar gaan nog ‘n paar skokke wees as die motief bekend gemaak word.
Baie sterkte aan al die betrokke partye.

Se maar net ·

Dis nie die dogters se verantwoordelikheid nie. Tieners dink net nie so daaraan nie.
Die koshuismoeder was dan veronderstel om SEKER te maak die deur/hek is wel gesluit teen n sekere tyd.
My kind is in n koshuis van n vooraanstaande skool in Pretoria en teen 10h00 sluit die gangdeure automaties en niemand kan in of uit nie.

Ek blameer haar nie- soos ons almal weet kon enige ander ding hier gebeur het. Ek Koshuis kids kry n uitweg. Ek weet ook hoe moeilik die werk van n koshuismoeder is.
Die seun was moontlik reeds in koshuis in elk geval al is deure gesluit. En daar gesit en wag.

Magdalena ·

Ek het nie woorde nie….stywe Drukkie aan mammas, Pappas, familie en vriende…..?
Aan die verdagte se ouers, familie en vriende BAIE sterkte……

Grant ·

Waar het hierdie vriendskappe / verhoudings so erg skeefgeloop dat dit in moord moes eindig? “Hoekom” is seker die eerste vraag op meeste se lippe. 16 / 17 en 19 – my hart huil. 2 lewens wat beëindig is en ‘n derde lewe verwoes en die ouers wat probeer sin maak uit die gebeure met min of geen antwoorde. Sterkte – ek dra julle almal in my gebede op.

Lynette ·

Daar is die afgelope paar jaar TALLE gevalle waar (hoofsaaklik) ex-kêrels nie NEE vir ‘n antwoord wou vat nie en die meisie dan vermoor. Dit is gewoonlik die narsissistiese persoonlikheid wat nooit iets geweier is in sy ouerhuis nie, wat dan nie verwerping kan hanteer nie.

Louise ·

Ek dink of die hek nou gesluit of nie gesluit was. Daai knaap sou waar ookal dit gedoen het, hy het duidelik wraak gekoester.

Kan net nie help om te wonder of hy alleen was nie? Hoe het hy al 2 vermoor gekry sonder dat een vlug/hulp soek? Hoop die families kry antwoorde. Nie dat dit hoegenaamd die kinders wie se lewens verwoes is, enigsins die pyn en verlies minder maak nie.

Zan ·

@Louise, dis vir my skokkend hoe baie van julle aan neem dit het gelyktydig gebeur.

Gesiggie ·

Dit is vir my so n hartseer verhaal, twee prag van dogters.. sterkte aan die ouers wat afskeid moet neem al die seer en die leemte.. mag God jul dra en stuif vashou deur die tyd van rou en verlang. RIP jul twee Engel kinders

kas ·

Die enigste persoon wat vrae kan beantwoord oor wat werklik in daardie oggendure gebeur het en hoekom is die persoon wat die moorde gepleeg het.

Waarheid ·

Vader asb spaar U volk en betrokke geliefdes die uitgerekte
hof tyd van jok, en lieg onder eed, ook die pyn en vernedering. Amen.

Mich ·

Hoekom lees of hoor ons dan niks oor wyle Sharnelle se nuutste/laaste kêrel nie? En dis nie Xander nie.

kas ·

Mich jy weet moontlik dan meer as ons.As sy ‘n ander vriend gehad het kom ons nader aan die motief vir die moorde,Tog interessant dat daar nog geen melding van hom gemaak is nie.Hoe seker is jy van jou saak of bespiegel jy net.Aan die ouers wees stil en weet Hy is by julle en Hy sal julle troos want mense kan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.