Stellenbosch-brand: Maties ontruim sommige geboue

Die brand nadat dit Maandag ontstaan het. Foto: Kobus Bezuidenhout.

Die brand nadat dit Maandag ontstaan het. Foto: Kobus Bezuidenhout.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag as voorsorgmaatreël geboue by Coetzenburg-sportgronde en Welgevallen-proefplase ontruim weens die brand wat tans op die Stellenbosch-berg woed.

US het in ʼn persverklaring gesê ’n gebeurlikheidskomitee is vroeër gevorm om ’n oog te hou oor die brand.

“Personeel en studente van Maties Sport, die departement van sportwetenskap en die Stellenbosch-gimnasium, asook werkers en plaasdiere van die Welgevallen-proefplase, word tans as ’n voorsorgmaatreëls ontruim,” lui die verklaring.

Geen koshuise word in hierdie stadium ontruim nie.

Toegang tot die ontruimde areas word beheer en mense word versoek om eerder die parkeerarea in Hammanshandweg te gebruik.

Alle sport vir die dag is gekanselleer.

“Die universiteit is deurlopend in kontak met die brandbestrydingsdienste om die situasie te monitor.”

Alle Woordfees-aktiwiteite, asook die Maties Dagbreek-straatmyl, gaan voort soos beplan.

Inwoners wat brandbestryders wil bystaan kan help deur papierborde en -koppies, water, vullissakke, oogdruppels, pleisters, sonbrandroom en eetgoed by MFM926 of die kantoor van die Studenteraad op die derde vloer van die Neelsie af te lewer.

Die brand het Maandag in die Jonkershoek-vallei begin en word deur ʼn sterk wind aangeblaas.

Maroela Media het vroeër berig vier brandbestryders is Dinsdagaand beseer terwyl hulle ʼn brand in die Jonkershoek-natuurreservaat naby Stellenbosch in die Wes-Kaap bestry het.

Hulle het glo sagteweefselbeserings opgedoen toe hulle probeer het om van die oorweldigende brand te ontsnap. Hulle is deur paramedici van ER24 behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.