Stellenbosch-burgemeester se fonds help kwesbaarstes

Gesie van Deventer, burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit. (Foto: Verskaf)

Munisipale begrotings is vir die bou van rioolstelsels, die herstel van straatligte en die verskaffing van basiese dienste. Maar soms het iemand ʼn droom, of sommer net ʼn spesiale behoefte, en hoewel daar dan nie uit die munisipale koffers opgedok kan word nie, beteken dit nie daar kan nie ʼn ander plan gemaak word nie.

Dis ook dan wanneer Stellenbosch-burgemeester Gesie van Deventer aanmeld vir ʼn ronde gholf om die Burgemeestersfonds ʼn hupstoot te help gee.

Van Deventer sê die fonds speel ʼn besonder belangrike rol by die plaaslike owerheid om gemeenskappe – waar hulp nie ingevolge die gewone riglyne vir munisipaliteite se finansies verskaf kan word nie – steeds met spesiale behoeftes te help.

“As burgemeester ontvang ek op ʼn gereelde grondslag versoeke van inwoners wat in nood verkeer of hulp nodig het. My fokus met die fonds is om inwoners te help wat deur uiters moeilike omstandighede gaan, of graag ʼn geleentheid wil skep binne hulle gemeenskap, maar nie die hulpbronne het om dit te doen nie,” sê Van Deventer.

“Ons hulpbronne is egter beperk en ons oorweeg elke aansoek baie deeglik.”

Die fonds word uiters streng geoudit om enige misbruik en wanbesteding te verhoed. Die fonds is afhanklik van skenkings en volgens die begroting- en rapporteringsregulasies van die tesourie, mag die munisipaliteit geen geld van die begroting aan die fonds oordra nie.

“Dit is slegs skenkings en geldinsamelings [soos die gholfdag] wat die fonds aan die gang hou en wat ons in staat stel om te help waar ons kan.”

Oor die afgelope paar jaar het die fonds onder meer families in nood gehelp, bygedra tot die Cloetesville High School se aanbieding van die jaarlikse atletiekbyeenkoms, vervoer verskaf vir diegene wat titelaktes ontvang, boumateriaal verskaf vir ʼn dak wat tydens ʼn storm in Lanquedoc beskadig is, en vervoer verskaf vir ʼn besoek van ʼn groep bejaardes aan Swellendam en ʼn gemeenskapsbyeenkoms in Cloetesville.

“Om een mens te help verander dalk nie die wêreld nie, maar dit kan die wêreld vir daardie mens verander,” sê Van Deventer oor die fonds.

Die burgemeester, wat in 2011 haar beroep as prokureur laat vaar het om haar gemeenskap te dien, sê die fonds bied ʼn bykomende manier om gemeenskappe in nood in buitengewone omstandighede te help. Sy bestempel dit as haar doel in die lewe om ʼn verskil in die lewe van ander te maak en sê as elkeen sy eie klein deel doen, maak dit ʼn groot verskil in die samelewing.

“Ons kry nie altyd wat ons wil hê nie, maar onthou dat daar mense is wat nooit sal hê wat jy nou het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.