Stellenbosch-bylmoorde: Dossier glo gesteel

Henri van Breda tydens 'n vorige hofverskyning buite die hofsaal. Foto: Danie Keet/Eikestadnuus

Henri van Breda tydens ‘n vorige hofverskyning buite die hofsaal. Foto: Danie Keet/Eikestadnuus

Twee aktetasse is Vrydag glo uit die motor van Henri van Breda, wat aangekla word van die opspraakwekkende Stellenbosch-bylmoorde, se prokureur se motor gesteel. Daar word wyd bespiegel dat ʼn afskrif van die dossier in een van die aktetasse was.

Lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het aan Maroela Media bevestig die omstandighede rakende die diefstal uit ʼn motor word ondersoek nadat die saak by die Seepunt-polisiestasie aangemeld is.

“Die klaer beweer twee aktetasse is vroeër vandag uit ʼn stilstaande voertuig by ʼn gimnasium in Groenpunt gesteel. Die identiteit van die klaer of die inhoud van die aktetasse kan nie bekend gemaak word nie,” het Traut gesê.

Traut het beklemtoon dat die amptelike polisiedossier oor die De Zalze-moorde in die besit van die Nasionale Vervolgingsgesag is en dat dié bogenoemde voorval  geensins ʼn invloed daarop kan hê nie.

Die diefstal volg net ure nadat Van Breda (21) Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn het. Van Breda staan tereg op die moorde van sy ouers en broer, Martin (54), Teresa (55) en Rudi van Breda (22). Hy staan ook tereg op bykomende aanklagte van poging tot moord en regsverydeling.

Die saak is Vrydag tot 18 November uitgestel nadat die staat aangedui het dat hulle nog nie gereed is vir die verhoor om te begin nie. Daar is glo steeds verslae van forensiese toetse uitstaande.

Die staat voer aan dat Van Breda sy ouers en broer op 26 Januarie 2015 met ʼn byl vermoor het in die gesin se huis op die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch. Van Breda se suster, Marli van Breda (toe 16 jaar oud), is ook aangeval en met kritieke beserings na ʼn hospitaal gehaas. Die staat beweer verder Van Breda het aan die moordtoneel gepeuter, homself leed aangedoen en valse inligting aan die polisie verskaf om hulle te mislei.

Lees alle vorige berigte oor die De Zalze-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

bobbo ·

Toevallig ne? Dossiere moet op rekenaar gaan. Met back up’s ! Ons lewe in 2016 nie 1812 nie.

Piet Snot ·

Alles is op rekenaar, Bobbo. Hierdie was slegs fotostate. Prokureurs dra nie dossiere rond nie.
Iemand is bloot besig om ‘n storie te maak van iets wat geen storie is nie.

MissDemeanor ·

Miskien was die dief n slinkse joernalis, of iemand wat n sensasionele boek wil skryf…

Takkie Takuuza ·

Nou praat jy Piet Snot. Laas week my laptop gesteel en daar is ook geen storie nie.
Maar as jy dit reg skryf kan mens ‘n storie maak daarvan. Kan seker nie ‘n goeie storie met feite bederf nie.

E ·

Weet jy Alida hierdie kind het nie gevra om ryk ouers te hê nie. Wie weet dalk het hy gesmag na ń doodgewone lewe.
Hoe erg moet dit in ń huishouding gaan vir ń kind om só iets te doen?
Ek ken hierdie mense nie, maar dalk was hy nie ‘goed genoeg’ of dalk was daar van hom verwag om te presteer en iemand te wees wat hy nie is nie.
Dit is baie hartseer en geen geld in die wêreld kan ń gebroke verhouding gelukkig koop nie.

Lance ·

Eers word skuldiges perongeluk gevang dan onsnap hulle perongeluk uit aanhouding soos al so baie gesien of die dokumente raak weg … ONBEVIEGTHEID X 10000 !

Thanks ·

(Hulle moet maar vir Byl kry om die byl moord te ondersoek)

Columbiana ·

Van Breda en sy girlfriend is ook aangekeer vir dwelms maar die mannetjie bly uit op borgtog. Die hele spul is siek

John ·

Moeilikheid loop selde alleen… Dit lok ook vreemde ‘vriende’ en ‘familie’ nader. Selfs dooies sorg soms vir hul eie begrafnisdatums en is verras as hul hul eie lewens oomblikke voor hul dood sien verbyflans en erger nog … die toekoms van die gespaardes.

Vissie ·

Wat het geword van die ou beginsel dat niemand skuldig is voordat die hof hom skuldig bevind het nie? Hier aanvaar baie wysneusige kommentators sommer dat iemand skuldig is, en hulle maak allerhande beweringe. Hulle moet tog maar ligloop vir die lasterwet. Baie van die kommentators was waarskynlik nog nooit in hul lewe in ‘n hof nie en weet nie watter regsbeginsels altyd geld nie, dan sê hulle sulke dom dinge soos wat hierbo blyk. Maroela moet ook maar versigtig wees om party van hierdie kommentare te publiseer

KarooKlong ·

Vissie, die allerhande bewerings deur die wysneusige kommentators vermoed ek in hierdie geval is afgelei en/of gegrond op die staat se bewerings soos in die laaste paragraaf van die berig, “die staat voer aan……”
Hierbo is myns insiens ook nou nie rêrig erge bewerings gemaak nie.

Hannelie ·

Gelukkig word als op rekenaar gehou. Iemand seker gedink hy is slim. Sit vir Byl op die saak.

Watson ·

Byl? Sy dae van glorie is lankal verby en hy kon ook nie juis kop of stert uitmaak met die Lotz-moord nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.