Stellenbosch-bylmoorde: Marli in familie se sorg geplaas

Marli van Breda. Foto: Verskaf

Marli van Breda. Foto: Verskaf

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Marli van Breda, die tienermeisie wat ʼn bylaanval op haar gesin oorleef het, in die sorg van ʼn oom en tannie geplaas, het Louise Buikman, senior regsadviseur wat deur die hof aangestel is om haar belange te beskerm, gesê.

“Die aansoek wat verband hou met Marli se voogdyskap en toekomstige sorg, het vanoggend voor regter Desai gedien,” het Buikman gesê. “Die hof het my aanbeveling goedgekeur dat Marli in die sorg van haar oom en tannie, wat in die Wes-Kaap bly, geplaas moet word.

Dié bevel is gemaak nadat Buikman Maandag ʼn verslag aan die hof voorgehou het in verband met haar vordering ná die aanval en motivering waarom die hof ʼn ooreenkoms moet erken dat sy in die sorg van familielede geplaas moet word totdat sy nie meer minderjarig is nie.

Volgens haar het Van Breda se familie ook ingestem dat sy as kurator ad litem moet aanbly om die 16-jarige by te staan met enige hofverrigtinge en om alle groot besluite te bevestig wat met haar verband hou, insluitend haar skoolopleiding en sielkundige sorg.

Die hooggeregshof het ook beslis dat slegs die kurator met die media mag gesels aangaande Van Breda.

Van Breda (16) en haar boetie Henri (20) is die enigste twee oorlewendes nadat die gesin in Januarie op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch aangeval is. Hul pa Martin, ma Teresa en oudste boetie Rudi is dood aangetref.

Marli en Henri bly sedert die aanval afsonderlik van mekaar.

Marlie het ernstige beserings opgedoen, maar het goed genoeg herstel om in Junie terug te keer skool toe.

“Marli vorder steeds goed op die pad na herstel. Sy geniet tans vakansie saam met familie en vriende. Sy is in kontak met Henri. Sy sal weer in die nuwe skoolkwartaal by haar maats aansluit,” het Buikman gesê.

Lees alle vorige berigte oor De Zalze op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

Marli, mag jou lewe na normaal terugkeer soverre as moontlik en jy verdwyn uit die oog van die media.

Swanna ·

Stem saam. Absoluut, raak weg uit die media se gesig. Jy is so mooi mens. Hulle gaan jou lewe verwoes.

Anoniem ·

Wonder wat word nou van die ondersoek of is dit maar gestaak?

Mienkie ·

Hoekom is daar nog geen idea wie die Moore geleer het nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.