Stellenbosch-bylmoorde: Marli ‘verheug’ om Henri te sien

Die Van Breda-gesin: Marli (16) en haar ma Teresa staan voor. Henri (20), Rudi (22) en hul pa, Martin staan agter. Foto: Facebook

Die Van Breda-gesin: Marli (16) en haar ma Teresa staan voor. Henri (20), Rudi (22) en hul pa, Martin staan agter. Foto: Facebook

Die enigste twee oorlewendes van die sogenaamde Stellenbosch-bylmoorde, Henri en Marli van Breda, het mekaar verlede week vir die eerste keer ná die tragedie vyf maande gelede, weer gesien.

Adv. Louise Buikman,  Marli se regsverteenwoordiger en kurator, het Maandag aan Maroela Media bevestig dat die twee mekaar verlede week gesien het en gesê Marli was verheug om haar broer te sien.

Sy wou nie te veel oor die ontmoeting of toekomstige ontmoetings uitbrei nie. Buikman het ʼn beroep op die publiek gedoen om Marli se privaatheid te respekteer aangesien sy minderjarig is en steeds besig is om te herstel.

Die Van Breda-gesin is einde Januarie in hul huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch aangeval. Martin van Breda (55), sy vrou, Theresa (54) en hul seun Rudi (22) het aan hul beserings beswyk. Marli(16) is ernstig beseer in die aanval en haar broer Henri (20) het ligte beserings opgedoen.

Marli se skedel is in die aanval gekraak en sy moes vir ʼn geruime tyd hospitaalbehandeling ontvang en neurochirurgie ondergaan. Sy moes rehabilitasie ontvang nadat sy uit die hospitaal ontslaan is en ly steeds aan geheueverlies oor wat tydens die aanval gebeur het.

Marli het intussen teruggekeer skool toe en volgens Buikman is onderwysers verstom oor haar vordering. “Sy het weer heeltyds skool toe begin gaan nadat dit duidelik geword het sy kan haar skoolwerk hanteer en dat dit vir haar fisies moontlik is om ’n vol skooldag te hanteer,” het sy verlede week aan die media gesê.

Volgens Buikman was Marli verheug om terug te wees by haar vriende. Marli skryf nie tans eksamen nie aangesien sy te min by die skool was. Sy het dosente wat vir haar ekstra klasse gee om haar te help om werk in te haal.

Die gesin se spoghuis is ook onlangs op die mark gesit en Marli en Henri moes intussen hul besittings gaan haal.

Marli word tans deur familie versorg en Henri woon glo op sy eie in ʼn onbekende gastehuis.

Ondanks meer as 130 bewysstukke wat reeds deur die ondersoekspan bymekaargemaak is, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê die polisie sal die media in kennis stel wanneer hulle meer inligting oor die moorde bekend kan maak.

Ben Rootman, die gesin se woordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die familie is tevrede met die polisie se ondersoek tot dusver. “Hulle het vertroue in die polisie en die ondersoek en wil nie daarmee inmeng of daaroor kommentaar lewer nie,” het Rootman gesê.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die Stellenbosch-bylmoorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.