Stellenbosch-bylmoorde: Verhoor begin sonder opnames

Henri van Breda. Foto: Maroela Media

Henri van Breda se verhoor begin Maandagmiddag en mag nie deur die media opgeneem word nie.

Dit volg nadat regter Siraj Desai aanvanklik Maandagoggend beslis het die media mag die hofverrigtinge opneem. Hy het gelas dat bewysstukke nie afgeneem mag word nie en dat Marli, Henri se suster, glad nie sonder toestemming afgeneem mag word nie.

Van Breda se regspan het egter kapsie gemaak hierteen en die saak is toe tot 11:30 uitgestel. Sy regspan het aangevoer hulle wil teen die uitspraak appelleer. Hulle voer aan die uitsaai van beeldmateriaal sal ʼn negatiewe impak op die verhoor hê.

Desai het gesê hy wil hê die verhoor moet vandag voortgaan en daar is toe besluit dat Van Breda se verhoor om 14:15 sal begin en dat die media geen verrigtinge mag opneem nie. Die media se aansoek is uitgestel tot ʼn ander datum.

Van Breda sal na verwagting pleit wanneer sy verhoor vanmiddag begin, 26 maande ná die opspraakwekkende moorde op Martin (54), Teresa (55) en Rudi van Breda (22) die aand van 26 Januarie 2015 op die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch.

Hy is meer as ʼn jaar ná die moorde in hegtenis geneem en in Junie 2016 op borgtog van R100 000 vrygelaat. Die saak is al verskeie kere uitgestel aangesien selfoonrekords en DNS-verslae nog uitstaande was.

Die staat beweer Van Breda het ʼn byl gebruik om die drie lede van sy gesin dood te maak. Marli (toe 16 jaar oud) is met kritieke beserings na ʼn hospitaal gehaas en het die aanval oorleef.

Die staat beweer verder Van Breda het aan die moordtoneel gepeuter, homself leed aangedoen en valse inligting aan die polisie verskaf om hulle te mislei. Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en ʼn aanklag van regsverydeling.

Lees alle vorige berigte oor die De Zalze-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marie Visser ·

Vertrou net op God Drie-Enig dat reg en geregtigheid sal geskied.

Piet Snot ·

Videodekking deur die media maak ‘n sirkus van ‘n verhoor waar die waarheid vrylik gesoek behoort te word.
Dit benadeel regspleging. Dis ‘n euwel.

Stem saam ·

Net so graag soos almal wil ek ook hoor wat gebeur het, maar ter wille van regspleging is dit beter as dit nie uitgesaai word nie. Hul kan dit dalk wel opneem en eers na die verhoor wys op bv 1 tv kanaal. Henry ek probeer regtig hard om onpartydig te wees, maar ek sal graag daai selfvodane glimlag van jou gesig wou afvee, ek weet dit is laasjaar se hofverskyning, jy lyk asof jy trots is om in die hof te wees. Verder begin jou regshulp klaar met verskonings, julle is reg, maar jul soek uitstel want jul het nie alles gekry….. Ek wil amper saam met die ander op die wa klim en sê, geld kan jou vryheid koop al is jy ‘n moordenaar. Aaan die staatsaanklaers en regter, sterkte vat hierdie situasie vas.

Celia ·

GELD.
Sal graag wil weet wie is die aanklaer?
Dis strooi dat mediadekking die hofverrigtinge verydel!Dis n verskoning! Hy WIL nie die wereld face oor wat hy gedoen het nie.
Mag die media se aansoek slaag!
Daardie mannetjie hou lank genoeg partytjie. Hy dink geld kan mens ook uit tronk hou.

dirk L ·

Tog nie alweer nie. Hul behoort veel eerder Alice Maree (22) se moordsaak op tv uit te saai. Of dié van Nicci Simpson wie se voete deurboor was….of Robert Lynn and Sue Howarth – vermoor en gemartel op hul plasie, Marshlands naby Dulstroom. die wereld behoort dit te sien

Sw ·

Dalk moet Forum Films n dokumentêr maak en dit aan internasionale TV kanale verkoop?

dirk L ·

Mag n gewone ou video opnames maak in ‘n openbare hofsaal ?

Vind dit vreemd ·

Interessant dat slegs die blanke beskuldigdes se verhore woord-vir-woord uitgesaai word. Oscar, Chris Panayiotou en nou die ou. Hul bly beskuldigdes, maar steeds. Ek vind dit vreemd.

weesWys ·

Terwyl die beskuldigde steeds op vrye voet verkeer, is die lewensbelangrike vraag of daar wel voldoende veiligheidsmaatreëls bestaan om Marli (een van die slagoffers) te alle tye teen hom te beskerm. Hierdie verantwoordelikheid weeg baie swaar waar dit borgtog aangaan.

SARIE VAN HEERDEN ·

Toe ek gister die koerantopskrif sien dat die Van Bredaseun blykbaar nou van almal vervreem is en alleen in die hof was, kon ek nie help om hom bietjie jammer te kry nie. Ek wonder of hy ooit weet wat hy aangevang het want dis bekend dat hy ‘n jaar in rehabilitasie was vir dwelmmisbruik. Miskien was hy so bedwelmd dat hy van niks weet nie. Wat weet enige van ons wat in sy gemoed aangaan want verwerping is ‘n baie erge situasie om te beleef. En vandag word hy deur almal verwerp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.