Stellenbosch-bylmoorde: Verhoor uitgestel

Henri van Breda Maandag in die hof.

Henri van Breda se verhoor is Maandag tot volgende maand uitgestel.

Regter Siraj Desai het die verhoor tot 24 April uitgestel. Dit kom nadat die verdediging aangevoer het hulle het eers vroeër die maand ʼn verslag van die staat ontvang rakende die beweerde moordwapen. Volgens Van Breda se regspan het hulle het ʼn kenner gekonsulteer oor die verslag en hulle wag steeds vir terugvoer.

Die verdediging het ook aangevoer dat die foto’s in die album van die moordtoneel in PDF-formaat is en dat hulle dit in JPEG-formaat benodig. Die staat het gesê hulle is besig om al die foto’s in JPEG-formaat bymekaar te kry.

Van Breda se regspan het gesê hul kliënt kan nie pleit voordat hy al die bewysstukke gesien het nie. Desai het gesê die verhoor gaan lank en ingewikkeld wees en dat hy geen onderbrekings wil hê wanneer dit eers begin het nie. Daar is ook in die hof aangedui dat die polisiebeampte wat ná die moorde eerste op die toneel was, die eerste getuie sal wees wat geroep word om te getuig. Van Breda se borgtog is verleng.

Buite die hof het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, aan verslaggewers gesê die staat is gereed om met die verhoor voort te gaan.

Desai het aanvanklik Maandagoggend beslis die media mag die hofverrigtinge op video mag opneem en uitsaai. Hy het gelas dat bewysstukke nie afgeneem mag word nie en dat Marlie, Henri se suster, glad nie sonder toestemming afgeneem mag word nie.

Van Breda se regspan het egter kapsie gemaak hierteen en die saak is toe tot 11:30 uitgestel. Sy regspan het aangevoer hulle wil teen die uitspraak appelleer. Hulle voer aan die uitsaai van beeldmateriaal sal ʼn negatiewe impak hê op die verhoor.

Desai het gesê hy wil hê die verhoor moet vandag voortgaan en daar is toe besluit dat Van Breda se verhoor om 14:15 sal begin en dat die media geen van die verrigtinge mag opneem nie. Desai het intussen gesê daar sal op 24 April uitspraak gelewer word oor of die media die hofverrigtinge op video mag opneem en uitsaai.

Van Breda sal na verwagting pleit wanneer sy verhoor begin, 26 maande ná die opspraakwekkende moorde op Martin (54), Teresa (55) en Rudi van Breda (22) die aand van 26 Januarie 2015 op die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch.

Hy is meer as ʼn jaar ná die moorde in hegtenis geneem en in Junie 2016 op borgtog van R100 000 vrygelaat. Die saak is al verskeie kere uitgestel aangesien selfoonrekords en DNS-verslae nog uitstaande was.

Die staat beweer Van Breda het ʼn byl gebruik om die drie lede van sy gesin dood te maak. Marli (toe 16 jaar oud), is met kritieke beserings na ʼn hospitaal gehaas en het die aanval oorleef.

Die staat beweer verder Van Breda het aan die moordtoneel gepeuter, homself leed aangedoen en valse inligting aan die polisie verskaf om hulle te mislei. Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en ʼn aanklag van regsverydeling.

Lees alle vorige berigte oor die De Zalze-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kan nie verstaan nie ·

Ek kan nie verstaan wat maak Henri Van Breda beter as Oscar nie. Hoekom kan dit nie uitgesaai word nie, dan kan die publiek hom ook mos sommer self verhoor en vonnis. Nee wat sy verhoor moet uitgesaai word en die dade aan die groot klok gehang word. Dis belaglik dat sy verdediging sulke eise kan stel. Die staat behoort dit nie eers te oorweeg nie.

Vermoed ·

Ek praat nou helemal onder korreksie, maar ek dink dit mag dalk te doen he omdat daar n oorlewende is? Anders as dit verstaan ek dit ook nie, die outjie lyk vir my of hy van die aandag en kameras hou

Jaco ·

Aanhoudinde uit stel. Kry klaar met alie dinge en laat hy gaan sit as hy dit wel gedoen het. Ek kry n gevoel hier word net gespeel vi tyd deer verdedeging. Net op dit kan ons almal ons eie gevolgtrekings maak.

Absoluut ·

Absoluut Jaco, speel vir tyd, mag die polisiebeamptes & staatsaanklaer kophou. Natuurlik sal Botha uitstel en uitrek, hierdie is groot stres, maar ook lekker groot geld en daar is mos miljoene bloedgeld. Pdf / Jpeg ek wat n leek is kon dit doen, het hy geen It support of ordentlike PA nie. Wat my die meeste pla is hierdie seun se selfvoldane gesig op party foto’s, so happy om vir n slag die gesin se VIP te wees. Dankbaar sy ouers hoef dit nie te beleef.

Ano ·

As hier enigiemand is wat vir my kan verduidelik hoekom maak dit soveer verskil in watter formaat die fotos is? Regtig – ek sal baie graag wil weet.

Cherokee ·

Dit mag wees Ano, dat hulle ‘n program wil gebruik wat nie PDF kan lees maar JPG as formaat gebruik. Oorskakeling van PDF na JPG is vining en dit behoort ‘n uitstel te regverdig nie. Dit is waarskynlik baie fotos maar die oorskakeling kan selfs in massa gedoen word. Alhoewel dit is waarskynlik fotos wat tussen PDF-teks uitgehaal moet word en daarna oorgerskakel word. Die antwoord op jou vraag is dus bloot net dat verskillende programme verskillende formate gebruik. Wat verbasend is, is dat na 2 jaar se sloer word steeds uitstel verleen.

Uitstel uitstel ·

Uitstel, uitstel, afstel, nee wat jong man jy gaan maar eers moet verduidelik. Verder voel ek ook, wie is hy om te besluit of dit uitgesaai mag word, met Oscar was daar geen genade en hy ten minste erken en berou gehad. Ek voel egter neem alles op & saai na die tyd uit, dit kan veral getuies ontbloot en ontstel en verklarings laat verander.

Johann ·

So die verdediging se als en almal voor? 26 MAANDE na die moorde? Geld praat hard lyk dit my. En om te dink.dis letterlik bloedgeld wat Henry aanwend om die absurde te probeer bewys? Geen gewete nie.

Charmaine ·

Hy wil eers d bewysstukke sien om te besluit of hy hulle vermoor het of nie? Kan nie glo iemand wil hom nog verdedig nie ??

Alida ·

Sy Adv speel vir tyd en hoe langer dit vat hoe meer geld kan hy maak. Adv in so n saak kan maklik R100 000 + per dag vra. Baie slim. Hulle het hope tyd gehad om voor te berei.

Riri ·

Kan sien die ouens wat kommentaar lewer, weet nie veel van regsprosedure nie. “Handel dit vinnig af dat hy kan sit” – terwyl DNS verslae afgewag word? Jaag die proses aan, benadeel die verdediging in die proses, en dan kom hy ligter daarvan af weens tegniese punte… ai ja nee kyk. Kan net my kop skud.

Johann Marx ·

Hoekom word net “celebrities” se hofsake uitgesaai? Kan ons nie na die verhore kyk van die plaasmoordenaars nie? Hoekom nie?

marous ·

“hul klient kan nie pleit voor hy al die bewysstukke gesien het nie” Indien wel gesien , gaan daar dan ‘n ander pleit as onskuldig wees ?

Zan ·

Ek dink net sy suster moet eintlik 24/24 beskerm word want as hy haar in die hande kry dan is hy mos die enigste erfgenaam of hoe. Dit is mos wat hy eintlik beplan het. Hoeveel van die geld vir dienste word wel vir hom bymekaar gemaak. net so ook die voog by wie hy bly, maak seker hy kry genoeg geld om vir die moordenaar te bere. Nee wat, die dink drag nou net te lank, hy en sy span is nie stupid, hul probeer gou al daardie miljoene klaar maak voor sy suster dalk iets kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.