
Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)
Die Stellenbosch-munisipaliteit moet nou teen Desember antwoorde gee op AfriForum se vrae oor waterbesoedeling in verskeie riviere in en om dié Wes-Kaapse dorp. Dit volg nadat AfriForum se Stellenbosch-tak reeds op 3 Oktober ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die munisipaliteit ingedien het en inligting rakende rioolstorting in drie riviere hier geëis het. Die munisipaliteit was veronderstel om vroeër vandeesmaand terugvoer hieroor aan AfriForum te verskaf, maar die terugvoertydperk is vandeesweek op versoek van die munisipaliteit met nóg 30 dae verleng. Hulle het dus nou tyd tot vroeg Desember om antwoorde oor die waterkrisis te bied.
AfriForum se Stellenbosch-tak het onlangs verskeie klagtes van lede ontvang oor beweerde besoedeling en rioolstorting in verskeie riviere in en om Stellenbosch. Watermonsters is geneem en by ’n plaaslike SANS 241-geakkrediteerde laboratorium laat ontleed. Die toetsresultate dui op gevaarlike vlakke van rioolbesoedeling in die Plankenburg-, Veldwagters- en Eersterivier.
Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het AfriForum reeds na afloop van ’n vergadering wat in Augustus vanjaar met die Stellenbosch-munisipaliteit gehou is, spesifieke inligting rakende die doeltreffende bedryf van die rioolsuiweringsaanleg sowel as die watergehalte van die bogenoemde riviere, versoek. Tydens die vergadering is verskeie risiko’s rakende die watergehalte en die gevaar wat dit vir Stellenbosch en die Wynlande se ekonomie kan inhou, uitgewys. “Ons het onder meer gewys op die invloed wat waterbesoedeling op uitvoerregte van veral vrugte na Europa kan hê, en die handelsmerkskade wat dit die plaaslike toerisme- en wynbedryf kan berokken. Daarbenewens hou die waterbesoedeling in dié riviere ook ’n ernstige gesondheidsrisiko in vir gemeenskappe wat naby die riviere woon en kinders wat dikwels in die rivierwater speel,” verduidelik Benade.
“Dié vergadering is deur die burgemeester en munisipale bestuurder bygewoon, en ten spyte daarvan dat die munisipaliteit ingestem het om die inligting aan AfriForum te voorsien, is daar later versuim om dit te doen. Ons het daarom geen ander alternatief as om die PAIA-roete te volg nie,” sê Benade. “Daar behoort egter baie dringend ingegryp te word om die waterprobleme hier hok te slaan en daarom sal AfriForum voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas.”
Benade moedig die gemeenskap aan om by die Stellenbosch-tak betrokke te raak en sodoende hul steun vir belangrike projekte soos dié te gee.
Al die riviere, spruite en damme in Suid Afrika is besoedel met riool. Dankie ANC dat julle alles opmors in ons eens pragtige land.
Is die Stellenbosch-munisipaliteit ‘n DA munisipaliteit? Bietjie aan die slaap daar mense!