Stellenbosch-moord: ‘Bloedige hand mag nie erf’

Zurenah Smit. Foto: Henk Kruger/African News Agency(ANA)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die weduwee van ʼn Stellenbosse boer mag nie uit sy noemenswaardige boedel erf nie, nadat ʼn siviele hof bevind het dat sy dokumente vervals het, onder meer sy testament, en met ander saamgesweer het om haar man te vermoor.

Zurenah Smit staan saam met twee ander beskuldigdes tereg vir die moord op haar man, Stefan Smit. Die verhoor is nog nie afgehandel nie en die staat sal sy saak bo alle redelike twyfel moet bewys. Tot dan, is Smit “onskuldig tot skuldig bewys”.

In ʼn siviele hof werk dit egter anders en ʼn besluit word op grond van ʼn “oorwig van waarskynlikhede” gemaak – dus, dat een kant van die saak waarskynliker as die ander is.

ʼn Siviele hof het nou beslis Smit mag nie erf nie en wat betref die erflating maak dit uiteindelik nie saak of sy skuldig of onskuldig aan die misdaad bevind word nie.

Regter Babalwa Mantame het in die Kaapstadse hooggeregshof bevind dat die beginsel van “de bloedige hand erft niet”, gewoonlik volg op ʼn skuldigbevinding in ʼn strafsaak. In die meeste gevalle word die beginsel gebruik as rede om ʼn party van ʼn erflating te ontneem wanneer dié mens se hand bebloed is ná ʼn uitspraak in ʼn strafhof.

In die siviele saak het 15 getuies, onder wie ʼn staatsgetuie, handskrifdeskundige en die oorlede boer se finansiële raadgewers, getuig. Smit het self ook getuig.

Die regter het bevind die afleiding kan gemaak word dat Smit drie dokumente vervals het en ʼn instrumentele rol gespeel het in die moord om beheer oor die algehele boedel te neem.

“Sy is nie waardig om te erf nie,” het regter Mantame bevind.

Mantame het voorts bevind dat die kwansuise testament, wat Smit beweer haar oorlede man in Januarie 2019 onderteken het, ongeldig is. Die hof het dieselfde beslis oor ʼn ander “skenkingsdokument” – wat R7 miljoen aan Smit nalaat – en wat glo in Februarie 2018 onderteken is. Smit is ook nie geregtig op die opbrengs van ʼn R3,5 miljoen-lewenspolis nie.

Testament is bedrieglik

Stefan Smit is in Junie 2019 op sy plaas, Louisenhof, vermoor in wat aanvanklik as ʼn plaasaanval beskou is. Drie mans het die huis binnegestorm en Stefan Smit drie keer in die eetkamer geskiet.

Zurenah Smit het die hof in November 2019 op ʼn dringende grondslag genader en gevra dat die meester die Januarie 2019-testament as die wettige testament van haar oorlede man aanvaar.

Dié testament het ʼn groot gedeelte van Stefan Smit se boedel aan Zurenah nagelaat en haar as die eksekuteur van sy ganse boedel aangestel.

Twee van Stefan se dogters uit ʼn vorige huwelik het die aansoek teengestaan en voet by stuk gehou dat die testament ʼn bedrieglike dokument is. Verskeie feite in die saak is betwis en die saak is vir mondelingse betoë verwys.

Die verhoor is verskeie kere op Smit se versoek uitgestel. Sy het minstens vyf keer van regsverteenwoordiger verander en dit het tot ʼn vertraging van meer as twee jaar gelei. Die verhoor het eindelik in Februarie vanjaar begin, nadat die regter nóg ʼn versoek vir ʼn uitstel van Zurenah Smit van die hand gewys het.

Intussen, laat in 2020, het een van die vermeende skieters, Bradley van Eyslend, hoof van veiligheid op die plaas, besluit om “met die sak patats vorendag te kom”. Hy het ʼn verklaring by die polisie afgelê en het ʼn staatgetuie geword. Dit het in Desember van dieselfde jaar tot Smit se inhegtenisneming gelei.

In die siviele saak het Van Eyslend getuig dat Smit gesê het sy is nie gelukkig getroud nie en dat sy wil hê Smit vermoor moet word. Hy het gedetailleerde besonderhede verskaf oor hoe die moord by ʼn klomp vergaderings in verskillende hotelle in Kaapstad beplan is en hoe hy en ander betrokkenes R2 miljoen elk beloof is wanneer die moord afgehandel sou wees.

Hulle is nooit betaal nie, het hy aangevoer.

Daar is ooreengekom dat ʼn besoeker een aand vir aandete oorgenooi sou word – ʼn onafhanklike getuie vir die moord – en dat Smit die agterdeur sou oop laat vir maklike toegang tot die plaashuis.

Van Eyslend het aangevoer dat Smit ook gesê het sy gaan wysigings aan die testament aanbring en dat hy betrokke was toe die R7 miljoen-skenkingsdokument se datum verander is.

Handskrifdeskundiges het getuig dat die testament en skenkingsdokument vervals is.

Hoewel Smit die dienste van haar eie handskrifdeskundige bekom het wat ongestaafde bevindings gemaak het wat haar weergawe bevestig het, het die kenner nooit getuig nie.

Bewyse het ook aan die lig gekom dat Smit moontlik die testament van haar skoonma, Martha Smit, vervals het, en haar man se susters as begunstigdes geskrap en haarself as enigste erfgenaam benoem het.

Smit het getuig dat sy haar man baie lief gehad het en dat sy platgeslaan was deur sy moord. Sy het ontken dat sy enige dokumente vervals het, of dat sy by die moord betrokke was.

Die regter het bevind anders as ʼn skamele ontkenning kon Zurenah Smit nie die beplanning en die moord – soos getuig deur Van Eyslend – weg verduidelik nie.

Volgens Mantame is dit waarskynlik dat Zurenah Smit bedrog gepleeg het.

In haar ontleding het die regter bevind die getuienis wat die respondente – Stefan Smit se dogters – aan die hof voorgehou het, is meer waarskynlik as dié van Smit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JM ·

Gierigheid lei talle kere tot moord, leuens en bedrog. Al jaag die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.

jzjz05 ·

Nie n mooi verhaal nie, Maar daar is n les hierin te leer.

ONTPS ·

Ek wonder of die staatsgetuie se gewete hom begin pla het, en of hy suur druiwe het om hy nooit betaal is nie. Belaglik dat hy dit probeer verdedig deur te sê hy sou R2 mil kry…

Wondermaarnet ·

Sy het duidelik met haar dinges in die botter geval en toe sy agterkom sy erf nie veel nie, toe waai die liefde by die agterdeur uit en fabriseer sy ‘n testament en ‘n reël ‘n moord.

SjN ·

Geldgierige vrou se lewe is nou weggegooi en verby, skei as dit dan moet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.