Stellenbosch-moord: Nog ʼn verdagte vas; al 4 in hof

Marie Verwey. Foto: Verskaf

Marie Verwey. Foto: Verskaf

Die vier verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Marie Verwey (80) het vandag weer in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig al vier se sake is tot 6 Maart uitgestel.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die saak is tot Maandag uitgestel om die verdagtes kans te gee om met hul regsverteenwoordigers te konsulteer en dan moontlik om borgtog aansoek te doen.

Nicole Geldenhuys (32) en haar kêrel, Romeo Hendricks (40), het verlede week in die Stellenbosch-landdroshof verskyn. Geldenhuys het toe aangedui dat sy nie nou om borgtog gaan aansoek doen nie.

Enrico Malherbe en André Coetzee is intussen in hegtenis geneem in verband met die moord op Verwey.

Maroela Media het vroeër berig Verwey is vroeër vandeesmaand in die Villa Merwe-gastehuis in Paradyskloof vermoor. Verwey was die eienaar van die gastehuis.

Nicole Geldenhuys en Romeo Hendricks wat verdink word van die moord op Marie Verwey van Stellenbosch

Nicole Geldenhuys en Romeo Hendricks wat verdink word van die moord op Marie Verwey van Stellenbosch

Francois Verwey, Marie se seun, het aan Maroela Media gesê hy en sy ma het saam gebly. “My pa [Stephen] is in Desember 2014 oorlede. Hy was vir ʼn lang tyd siek en ek het al vroeg in 2014 terug huis toe getrek om na pa te help omsien, maar ook om daar vir my ma te wees. Na my pa se afsterwe het ek my plek verkoop en permanent by my ma gebly,” het Verwey gesê.

Volgens hom was Nicole [ook bekend as Nicolize] eers sy pa se tuisverpleër. Sy het ná Stephen se afsterwe vir Marie versorg. Francois het gesê Nicole se dienste was na sy pa se afsterwe nie meer op standaard nie en hulle het daarna besluit om haar te laat gaan.

“Nicole het my ʼn week voor die moord op my ma op WhatsApp gekontak en my ma gebel. My ma het besluit om haar maar weer ʼn kans te gee oor naweke.”

Francois het aan Maroela Media gesê hy ken nie Malherbe en Coetzee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.