Stellenbosch-moord: Twee in hof

villa-merwe-gastehuisDie twee verdagtes wat in verband met die moord op Marie Verwey (80) van Paradyskloof in hegtenis geneem is, het in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

Nicole Geldenhuys (32) en haar kêrel, Romeo Hendricks (40), het Maandag in die hof verskyn. Eric Ntabazalila, woorvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het aan Maroela Media bevestig die saak is tot 27 Februarie uitgestel, wanneer die paar om borgtog sal aansoek doen.

Verwey is Donderdag in haar Villa Merwe-gastehuis in Paradyskloof vermoor. Haar liggaam is omstreeks 12:30 gevind. Sy is na bewering verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek.

Maroela Media verneem van ʼn familielid Geldenhuys was glo Verwey se oorlede man, Stephen, se verpleegster. Volgens die familielid het Geldenhuys na Stephen se dood nie meer daar gewerk nie, maar verlede week by die gastehuis opgedaag.

ʼn Ander familielid het aan Maroela Media gesê Verwey was ʼn baie saggeaarde vrou. “Sy het elke jaar kom kuier, maar sy kon later nie meer nie, omdat sy nie meer kon trappe klim nie. Sy het vroeër in haar lewe kanker gehad maar sy het dit oorwin.”

Verwey se man was ʼn brigadier in die polisie. Stephen is glo later ongeskik verklaar om te werk, waarna hulle die Villa Merwe-gastehuis in Stellenbosch begin het.

Volgens die familielid is duur juwele tydens die rooftog gesteel.  Verwey laat haar twee seuns, Francois en Gabriël, agter.

Ntabazalila het gesê die verdagtes word van huisroof, roof en moord aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Geen borgtog ·

Kapenaars kom by die hof, tyd om stem dik te maak, hierdie 2 het ‘n gewetenlose daad gepleeg teenoor ‘n arme bejaarde wat werklik nie ‘n bedreiging was nie!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.